Ek staan vanoggend op en sien my selfoon is in die rooi, dis nou die battery. Ek sê nogals vir manlief, dis nou interessant. My selfoon is pap-pap en eintlik het dit die hele nag herlaai! Hy sê droogweg dis nie só interessant nie, want ek het nooit die prop in gedruk nie, net die selfoon gekoppel. Nou ja toe. Dan is my blonde oomblik vir die dag opgebruik, of was dit gister se blonde-oomblik. Ons sal maar sien hoe vandag verloop né!
En onmiddellik herinner Vader my aan die belangrikheid van ingeprop bly by Hom, maar ons weet dit eintlik… maar vanoggend se lessie was nie die ingeprop deel nie, maar die feit dat ons onder die indruk leef dat ons ingeprop is, maar nie noodwendig so ingeprop soos ons dink nie. Continue reading “My Battery is Pap!”

Een oggend so kort duskant die tyd wat ons ousus by die Universiteit moet gaan aflaai staan ek op, maar ek is so ver van okay af dat dit nie eers snaaks is nie. As opkrul in ‘n fetale posisie op my bed onder my duvet ‘n opsie was, sou ek dit gedoen het. As vlug en die ‘groot intrek’ heeltemal vermy ‘n opsie was het ek. Maar helaas soos met baie dinge in die lewe is daar net ‘n vorentoe. Geen sprake van omdraai nie.
Die afgelope twee of wat dae kom die Fillipense 4:13 versie die heeltyd by my op. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Dis interessant hoe ‘n versie so kan vassteek in ‘n mens se kop en hart. So al asof jy iewers die versie in die nabye toekoms kan nodig kry. Vanoggend stap ek in die eetkamer in reg om die gordyne oop te maak. Ek wil net sê dis eintlik manlief se werk, die gordyn oop trekkery, maar nou is dit so donker soggens dat ek nie wil hê hy moet die gordyne ooptrek nie, want dit voel mos asof mense vir jou kan loer (dis nou loer oor ‘n ses voet muur).