Waar was Jy?

Waar was jy? Was jy daar tussen die priesterhoofde en familiehoofde in die woning van Kajafas, om die houttafel besig om ‘n slinkse manier te vind om My gevange te neem en dood te maak? Gesiene en hardkoppige volk van MY! (Matt. 26:3-4)

Was dit jy, onbekende, naamlose vrou wat My liggaam onwetend voorberei het vir My begrafnis? ‘n Begenadigde vrou met jou albaste fles vol kosbare, duur nardusolie. (Matt. 26:6-12)

Of was dit jy, my vertroueling en vriend, wat My in die steek gelaat het, weggehardloop het? (Matt. 26:55-56) Voor die haan gekraai het, het jy, Petrus, My 3 maal verloën. En jy liewe mensekind? Sê jy ook: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie? Was jy die Petrus in My houtkruis storie? (Matt. 26:33-35)

Waar was jy liefste kind, toe Ek vol doodsangs was, bedroef en alleen? Waar was jy toe My sweet soos bloedruppels op die grond geval het en (Luk. 22:44) Ek My Vader drie keer gesmeek het om die lydensbeker by My te laat verbygaan in die tuin van Getsemane? Het Ek nie gepleit-vra: Waak en bid saam met My? (Matt. 26:36-46)

Het jy My verraai vir 30 silwermunstsukke? Geld in ruil vir My lewe? (Matt. 26:14-15) Is dit jou broederlike kus wat My uitgewys het as die sogenaamde skuldige? Was dit jy My liewe kind wat in Getsemane met stokke en swaarde gekom het om My gevange te neem asof Ek ‘n gewoonte misdadiger is?

Was jy daar in die binnehof van Kajafas se woning toe Ek voor die skrifgeleerdes en familiehoofde gestaan het en moes aanhoor hoe die mensdom vals getuienis teen My lewer? (Matt. 26:59,67) Was jy die belangrike mens in My storie wat sy hande in kamma-onskuld gewas het? Die belangrike persoon wat My laat gésel het en oorgelewer het om gekruisig te word. (Matt. 27:24,26)

Waar was jy toe die leërafdeling soldate om My gestaan het? Was dit jy wat My klere van My lyf afgestroop het, wat spottend ‘n persmantel om dié Koning se naak skouers gehang het? Het jy My doringkroon met moeite gevleg en met vermakerigheid op My kop gedruk? Het jy die stok opgetel vir my regterhand, of met dieselfde stok My oor My kop geslaan? Was dit jou spoeg wat in My gesig afgeloop het onder luide gespot en gelag van jou mede soldate? Waar was jy liefste kind na aan My hart? (Matt 27:27-31)

Het jy Simon van Sirene My kruis help dra na Kopbeenplek? (Matt. 27:32) Jy wat van buite die stad afgekom het met jou twee klein seuntjies. (Mark. 15:21) Was die kruis wat jy agter My moes sleepdra swaar, Simon van Sirene? (Luk 23:26)

Was jy die een wat met jou eie hande die aanklag bokant My kop vasgemaak het: Dit is Jesus, die Koning van die Jode of tydens die loting was jy gelukkig genoeg om ‘n stukkie van My kleed te kry? (Matt. 27:37,35)

Waar was jy liewe kind toe drie kruise langs mekaar gestaan het op ‘n verlate heuwel? Was jy links van My? Was jy regs van My? Was jy daar toe die God van die heelal aan ‘n kruis gehang het? (Matt. 27:38) Liewe misdadiger, jy wat jou eie kruis verdien het, jy wat smeek om onthou te word as Ek my koninkryk ingaan, maar ek verseker jou liewe misdadiger aan die kruis: “Vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees!” (Luk. 23:42-43)

Was jy die Maria in My kruisstorie? ‘n Ma wat met ‘n gebroke hart moes toekyk hoe hulle My, haar geliefde Seun, aan ‘n stuk hou vasspyker? Deur senings, bloed en been. Die Ma wat se trane vrylik gevloei en gedrip het oor haar wange en haar gebreekte hart. ‘n Ma wat die pyn eerstehands aan haar ma-lyf moes voel.

Was jy vreesbevange bang My kind toe dit twaalfuur skielik pikdonker word, het jy gehoor toe Ek uitroep na Vader: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani”? Waar was jy toe Ek uitroep en My laaste asem uitblaas? (Mark. 15:34-37) Was dit skrikwekkend erg toe die voorhangsel van die tempel van bo tot onder deurgeskeur het?  (Matt. 27:50-52) Of was dit jy, romeinse soldaat wat opgekyk het en My herken het as die God van die hemel en aarde? (Luk. 23:47)

Dink jy ek kon nie My Vader om hulp vra nie? My Vader sou dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar gestel het, maar hoe sou die Skrif dan vervul geword het? (Matt. 26:53-54) Wat dan van jou, My liefste kind?

Ek het vir jou sondes gely, Ek die onskuldige in die plek van jou, die skuldige, sodat jy onbeskaamd voor Vader kan staan. Dit was My keuse, My geskenk aan jou. Ek is as mens gekruisig maar deur die Gees lewend gemaak. (1 Pet. 1:18) Verstaan jy steeds nie liewe kind na aan My hart? Ek het jou sondes aan die kruis vasgespyker en dit vir goed weggeneem. (Kol. 2:14)

So liefste kind, nou vra Ek: Waar was jy toe en waar is jy nou?

Met Uitgestrekte Arms.

Ek kyk weer die ander dag bietjie die foto albums deur en kry ‘n kosbare foto van kleinsus wat hier tussen hemel en aarde in ‘n foto vasgevang is. Toe die girls baie kleiner was, het Jannie hulle altyd so lekker hoog in die lug op gegooi, dit was vir hulle vet pret, die armpies vol dimpels, uitgestrek in die lug, sorgvry. Oopbek skatterlaggies en mooi smeek-vra: “Nog, nog!” Hulle is nie eers vir ‘n oomblik bekommerd dat hulle pappa mis kan vang nie.

Ek loop so vir ‘n paar dae met die uit- en oopgestrekte arms-tema in my hart rond, en besef daar was ‘n Pa wat ‘n verlore seun met oopgestrekte arms tegemoet geloop het in die Bybel. Dag na dag het hy gewag, op die uitkyk vir sy verlore seun. Geduldig. Uitgestrekte arms vol verligting oor ‘n seun wat uiteindelik tuis is, arms wat sê: Ek vergewe jou!

Wat beteken oopgestrekte arms? Dit beteken maar net jy is welkom, jy is geliefd, jy is kosbaar genoeg om teen my hart vas te druk. Continue reading “Met Uitgestrekte Arms.”

‘n Goeie Vrydag.

In 2004 word die fliek Passion of the Christ van Mel Gibson vrygestel. Dit was ‘n verskriklike fliek om te kyk, ek dink nie ek het al ooit na ‘n fliek so verslae, so hartgebroke gevoel nie. Dit was om die minste daarvan te sê traumaties om die fliek te kyk. Hoekom? Want tussen die woorde van die Bybel, kan jy die kruisiging van ons Verlosser in die Evangelies gaan lees, al die stories en die gebeure chronologies aangeteken, maar die emosie van Jesus gaan verlore tussen woorde en tyd. Tussen Paashasies en hol sjokolade eiers.

En soos die Paasviering al nader kruip sit ek met twee opponerende gedagtes, eintlik twee opponerende versies. Die een gedeelte in Johannes 3:16. Alombekend en geliefd. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Die ander versie opgeteken in Matteus 27:46, “Eli, Eli, lemá sabagtani?” My God, My God, waarom het U My verlaat? Hartverskeurend erg.

Continue reading “‘n Goeie Vrydag.”