‘n Geraamte in die Kas.

Ek weet dit beteken om ‘n geheim weg te steek, maar die geraamte in die kas het my laat dink aan dood, want ‘n geraamte is beslis nie lewendig nie. En dit het my ook laat dink dat ‘n geraamte in jou kas lekker wapens en ammunisie is vir die vyand om jou ‘n hele nag wakker te hou. En ek vermoed hierdie geraamte distansieer homself totaal en al van vergifnis. Geen vorm daarvan sal vir hom aanvaarbaar wees nie.

Onthou, jy is nie jou sonde of probleem nie! Jy is wel ‘n mens met ‘n sonde of ‘n probleem. Dit maak jou nie inherent ‘n slegte mens nie. Dit maak jou… wel menslik, want mense maak foute en sondig… ons is allermins nie perfek nie.

Ek en my man het anderdag hierdie gesprek (ons het deesdae vreeslike intelektuele gesprekke oor alles wat ek leer in my kursus) oor trauma. En hoe moeilik dit is om trauma te verwerk, maar hoeveel moeiliker dit is om enige iets te verwerk as jy die trauma veroorsaak het. Dis ‘n perd van ‘n ander kleur, want selfs met opregte berou, sal daai geraamte in die kas dit moeilik vind om nie die heeltyd sy mond te spoel nie. En al het almal jou al vergewe, God inkluis, maar jyself vergewe jouself, net tot op ‘n punt, vir net ‘n kort tydjie. Dis wanneer dit ‘n moeilike affêre afgee. Continue reading “‘n Geraamte in die Kas.”

Herfs…

Ek is nie noodwendig ‘n seisoen gebonde mens nie. Daar is nie ‘n seisoen wat só uitstaan bo die ander nie. Met die groot semi-grasie van Gauteng Kaap se kant toe, was daar tog ‘n klein hoekie van my hart wat effe bekommerd was oor die lang, nat winters, die lang donker dae, maar nee wat, dit het sinoniem geraak met snoesigheid, kaggel en warm sjokolade.

Herfs is vir my ‘n besondere maand, herfs kom kondig aan dat die winter op pad is, dat die natuur moet regkry vir hiberneer en dalk selfs ‘n bietjie rus! Nietemin, die herfsoggende in April en stukkie van Mei is net vir my asemrowend, wanneer ek moet taxi ry skool toe is dit amper die heel mooiste buite, en ek voel sommer naby aan God se skepping en ook naby aan Sy hart.

Dis asof ek Hom kan sien in die mooi van dit om my. Die ander oggend ry ek terug huis toe en die berge in hulle grootsheid troon op die horison, die son het toe al skamerig sy kop uitgesteek, en die wolke hang so saggies oor die berge, so al asof die berge troos kort. Continue reading “Herfs…”

Sonde met die Bure.

Gelukkig het ons geen sonde met die mense-bure nie, maar die geveerde tipe besorg ons hoofbrekens. Meer spesifiek die mossies. Ek hou baie van alle voëltjies, selfs die wat dom-astrant en moedswillig is. En die inwonende mossies is ongelukkig albei. Steeds baie mooi, hulle is regtig vir my mooi voëltjies en ek kan ure na hulle mannewales kyk.

Die hoofbrekens is eintlik manlief sin, so vinnig as wat hulle die nessie bou, so vinnig gaan haal hy hulle af. Sjoe, en jy moet hoor hoe die Mossie-paartjie elke keer skel en skree… ek vermoed daar is ‘n eier op pad wat lê-plek soek. Kan jy dink watse druk daar op die Mossie-man is. Onmenslik!

Nou kan jy seker dink dis aaklig om hulle nessies elke keer te verwoes, die probleem is hulle bou die nessie elke keer in die geut, jip dieselfde ding wat water vervoer as dit reën, of bo-op die opening van die geut. Continue reading “Sonde met die Bure.”