7 Kosbare Versies om die Jaar te Groet.

Die 7 kosbare versies is nie net om die laaste stukkie van die jaar te oorleef nie, maar ook om jou staande te hou in die nuwe jaar wat al vir ons begin loer om die draai. Ek vermoed ons elkeen se vooruitsig vir die nuwe jaar gaan effe anders lyk. Volgende jaar gaan my baba matriek toe. Groot jaar, met groter dinge, wat die grootste effek op ‘n moederhart het. Die leë nessie wat wink, ‘n realiteit.

  1. Die HERE is naby. (Filip. 4:5 2020)

Die eerste keer wat hierdie versie regtig vir my lewendig geword het, was juis met die eerste helfte wat my nessie leeggeraak het. Ek het soveel bekommernis gehad, soveel vrae, soveel angs oor hierdie nuwe fase wat ek eenvoudig nie geweet het… hoe oorleef mens dit nie?

En ek het na God gegaan en erken… ek weet nie… wat om te voel… wat om te doen… hoe om dit te doen nie. En God se sagkens antwoord was:  Ek is naby… en vriendin, in daardie oomblik was ek okay, want soos Hy naby aan my was/is, so is Hy naby aan jou en jou kind. Hy is liewer vir hulle wat ons liefhet, as wat ons ooit vir hulle sal wees. En daarin lê my vertroue. Hy is die God, my God wat naby is.

  1. Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (Matt. 11:28)

Ek vermoed dis een van die versies wat die meeste aangehaal word… want is ons nie omtrent altyd uitgeput en oorlaai nie? Ek glo nie aan nuwejaars voornemens nie, maar ek wil hierdie nuwe jaar leer om te rus wanneer ek moeg is, ek wil leer om te sê, ek kan ongelukkig nie, my skinkbordjie is reeds oorvol, maar meer as enige iets anders wil ek leer om te rus by HOM… in HOM.

Dit gaan moeilik wees, want van stil sit ken ek nie, voel kompleet of iets my gedurig aanjaag… miskien is dit die lewe self, of die vyand wat tog net nie wil hê ons moet leer om te rus in HOM nie. Ek dink volkome vrede, van hart, lyf en gedagtes gaan gebeur wanneer ons kan leer om te rus by Sy voete.

  1. En die vrede van God wat all verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Filip. 4:7 1983)

Wat beteken dit? Dit beteken bo-natuurlike vrede, uit die hemel, is joune. En hierdie Goddelike vrede beskerm ons hart en gedagtes teen vrees en angstigheid… wanneer ons volkome vertrou op wie God sê Hy is. Hy wat altyd dieselfde, standvastige God is en bly. Die God van die ou testament, maar ook van die nuwe testament. Die God van die begin van die Bybel wat alles geskape het, maar ook dieselfde God van wie se genade ons lees in die heel laaste boek en versie van die Bybel.

Don’t fret or worry. Instead of worrying, pray. Let petitions and praises shape your worries into prayers, letting God know your concerns. Before you know it, a sense of God’s wholeness, everything coming together for good, will come and settle you down. It’s wonderful what happens when Christ displaces worry at the center of your life. (Philip. 4:6-7 MSG)

  1. Ek hou die HERE altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. (Ps. 16:6,8 2020)

Ek hou my oë gevestig op die oë van Jesus. Hy is teenwoordig, en met my, ek sal nie struikel en afdwaal nie, want ek is oorbewus van wie Hy is, en wie Hy vir my is. Dit wat Hy my gee, dit wat Hy vir my doen, is vir my mooi, want dis spesiaal vir my bedoel.

Ek vergelyk nie myself met ander nie, ek is nie jaloers op ‘n mede sussie op hoe sy lyk, of wat sy het, of wat sy doen nie. Want Jesus het ook haar meetsnoere in lieflike plekke laat val. Aan haar wat glo met ‘n vaste vertroue in Hom, jy sal vir Jesus ook aan haar regterkant vind!

  1. Dit is deur die troue liefde van die HERE dat ons nie omgekom het nie, ja, Sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut- groot is U getrouheid. (Klaagl. 3:22-23)

Ontferming wat nie opraak nie. Genade wat elke oggend nuut en vars is. Ongeag wat gister gebeur het, of nie gebeur het nie. God se liefde wat onveranderd is. Sy liefde ry nie wipplank soos menslike liefde nie, dit bly altyd dieselfde… Liefde ten spyte van…

En hierdie ontferming, genade en liefde is standvastig, selfs wanneer die uitkyk donker lyk, selfs wanneer die lewe jou ‘n paar woeste klappe gee.

  1. Wat julle ook al doen werk met geesdrif, soos vir die HERE, en nie soos vir mense nie… (Kol. 3:23 2020)

Soms, en dit is waar vir die einde van die jaar, maar verseker ook die begin van ‘n splinternuwe jaar, voel ons ongemotiveerd, voel ons soms om te vra… moet ek dit wat ek doen nog doen? Soms voel ons werklikwaar dit wat ons doen is maar ‘n druppel in die emmer… en hoe maak dit nou ook ‘n verskil? Liewe vriendin, as ek en jy alles wat ons doen vir die Here doen. Of dit kinders grootmaak is, of aan ons huwelike werk, of dit kerk, werk of wat ookal jy doen… gee dit vir die Here. Doen dit vir die Here. Tot Sy eer… dan sal Hy die werke van jou hande seën. Jy sal dit miskien nie sien, miskien nie weet nie, maar God weet en God sien… en dis genoeg!

  1. God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7 1983)

Hiérdie versie!!! Vriendin hierdie versie is ‘n ‘keeper’, want as jy enigsins stoei met ‘n gees van vreesagtigheid (miskien noem jy dit ietsie anders… bang, angs, stres…) Nou weet jy sommer ook dadelik, ek stoei hiermee, want anders sou die versie mos nie hier gewees het nie… so jy is nie alleen nie- hoor!

Angs en vrees is ‘n menslike emosie, maar ons moet dit vir Jesus gee, anders gee ons die vyand toestemming om dit teen ons te gebruik… want die vyand gaan jou vra: “Waar is jou vertroue hê? Waar is jou geloof?”

Wat gebeur as ons die troonkamer in hardloop en sê: “Jesus, hierdie angstigheid op my bors en in my ore… help tog asb!” Dan moet jy twee goed onthou vriendin, die gees van angs en vreesagtigheid kom nie van Jesus af nie…  en tweedens, jy kan jou angs, bekommernis, vrees, paniek en stres net daar by Sy voete los, en daar uitloop met liefde en krag en selfbeheersing. Dis ‘n ruiltransaksie waar jy niks verloor nie, maar alles wen!

Mag hierdie versies vir jou tot seën wees as jy die ou jaar instap en met ‘n vaste geloof die nuwe jaar betree. My gebed vir jou vir die nuwe jaar wat vol belofte vir jou wink is so mooi opgeteken in Numeri 6: 24-26:

“Mag die HERE jou seën en jou beskerm.
Mag die HERE sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die HERE sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.”

‘n Dankbare Hart.

Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie… (Ps. 100:4-5)

As jong ouers van klein kindertjies was die refrein in die huis môre, oggend en aand: “Sê dankie mamma!” of “Hoe sê mens?”. Elke ouer se begeerte is tog goed-opgevoede kindertjies met mooi dankie en asseblief maniere.

As grootmense vergeet ons soms wat ons met soveel passie vir ons kleine kindertjies geleer het, maar dankbaarheid is soveel meer as net ‘n dankie. Dankbaarheid is ‘n dankbare hart en ‘n getuienis van ‘n lewe van dankbaarheid. Continue reading “‘n Dankbare Hart.”

Die Wonder van Kersfees.

Ek en jy het die Kersverhaal al so baie gehoor. Ons weet van die sensus, en Bethlehem, en die krip, die Herders en die Wyse manne. Soms, en vergewe my maar dis seker maar ‘n vrou ding, wonder ek oor die mense se emosies, want dis nie asof Matteus of Lukas vertel hoe bang Maria was om ‘n kindjie in die wêreld te bring of dat die Herders hulself in ‘n ander bloedgroep ingeskrik het toe hulle die Engel sien nie. Ek het die Kersverhaal weer gaan lees. Ek het die pêrels in die verhaal gaan soek. As’t ware tussen die Kersverhaal lyne gaan lees.

Weet jy dat Maria ‘n tiener was toe sy swanger geraak het met Jesus? So ietsie tussen 15-17 jaar oud? Nie abnormaal vir daardie tyd nie. Ek dink Maria was bang, al het die Engel gesê: “Moenie bang wees nie (Matt. 1:30)” Maria het geweet wat gebeur met meisies wat buite die eg swanger raak. Dit was nie net ‘n skande nie, dit was ‘n doodsvonnis. Maar ten spyte van die bang en benoud, antwoord Maria: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Matt. 1:38) Nie maklike woorde as jy weet daar wag dalk ‘n hopie klippe vir jou om die volgende draai nie! Dis geloof, wanneer jy die Vaderhart vir jou so goed ken dat die vrees krimp in vergelyking. Continue reading “Die Wonder van Kersfees.”