Baklei net Mooi!

Eintlik kan ek nie raad gee oor mooi baklei nie, ek het hopeloos te min ondervinding. Hoekom? Ek is defnitief-beslis ‘n nie-bakleier, ‘n konflikvermyder! So in ons huwelik lyk dit mooi want so trou ek toe met ‘n mede-wil-nie-baklei-want-ek-hou-nie-daarvan maatjie. So ons baklei stil-stil, ek kan dalk op my een hand tel hoeveel keer ons baklei het. Regtig vasgesit het. Dis natuurlik ‘n persoonlikheids ding en nie oordat ons so oulik is nie!

Ek kan ook nie stilstuipe doen nie… geen verrassing daar nie, want ek het 7000+ woorde wat ek per dag moet gebruik. Die eerste en enigste keer wat ek dit probeer het, het ek Manlief wakker geskud en net gesê ons maak nou reg, praat die ding uit, maak op. Gun mens kan met soveel onmin en kwaad in jou hart slaap nie. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. (Ef. 4:26-29)

Dis baie goeie raad, want kan jy nou net dink watse vrugbare grond jy vir die vyand lê en voorberei in die nanag met al die gesprekke en oorlog in jou kop… kom ons doen daai eerder nie.

‘n Hele paar jaar terug ry ek een oggend uit die motorhuis uit, en a.g.v min aandag en haastigheid sien ek nie die Fortuner se kattebak staan oop nie. Nota aan self… ‘n Fortuner met ‘n oop kattebak pas nie deur ‘n standaard motorhuis deur nie… en jy sal maar my woord daarvoor moet vat. Ek kan getuig dit werk nie. Ai, ek weet, ek ry toe mooitjies in die motorhuis vas. Jip, die muur gedeelte. Groot skade, die kattebak het net-net toegemaak, windskeef en uit plek uit, maar darem toe genoeg dat ek die kids kan gaan aflaai.

Ek was so bitter kwaad vir myself, watse tipe dom-mens doen nou so ding? Ek. Nietemin, ek is nie ‘n groot huiler nie, emosioneel nie altyd so stabiel nie, maar ek huil nie sommer vir niks nie. Ek begin toe grens soos net ons vrouens kan… lekker snot en trane, te min asem vir woorde! Ek bel toe maar vir Jannie, maar ek huil so dat ek nou ook nie met intelligente goed gevormde woorde kan sê wat se ding ek aangevang het nie.

Nou moet jy verstaan dis ‘n eensydige gesprek… die kids kan net hoor wat ek sê… en ek skel myself uit, en ek is kwaad, hartseer en onsteld. Jannie aan die anderkant probeer troos, ons het mos versekering, niemand het seergekry nie… nog nie. Ha Ha! Nee ek spot. Hy sê al die regte goed. So eindig die gesprek. Ons trek weg skool toe. Ek hoor die gesnikkery hier in die agterkant van die motor, ek draai vinnig om, hier sit kleinsus met die grootste krokodil trane wat jy jou kan voorstel wat oor die wangetjies rol. Ek sê so ewe onsensitief… “Sussie, jy het niks om oor te huil nie, dis nie jy wat in die muur vasgery het nie!” Ai moeder, en ek hoor die klein benoude stemmetjie hier agter wat vra: “Gaan mamma en pappa nou skei?”

Weet jy wat, baie van die gesprekke en konflik wat ons kinders aanhoor en sien is eensydig. Hulle hoor net die baklei en ongelukkigheid, en hulle gaan bêre die gevoelens, onsekerheid diep in hulle hartjies. So baie maatjies se mammas en pappas is geskei. Daardie feit leef hier in hulle agterkop iewers. Dis ‘n hartseer realiteit vir baie kinders.

So baklei mooi, maak mooi en goed op. Moenie net vir mekaar groot askies sê nie. Gaan sê dit vir jul kids ook. Luister, hulle is nie stupid nie. Hulle ogies sien alles en hulle ore mis NIKS! Gaan vertel hulle die waarheid, ons as grootmense is soms so dom en ons baklei sommer oor dom goed. Maar ons tweetjies, mamma en pappa is weer okay.

Die beste is natuurlik om eerder nie voor klein oortjies en hartjies te baklei nie. Baklei wanneer almal kalm is. Stap weg, tel tot ‘n 1000. Wanneer jy kalm is en dinge uitsorteer glip daar nie sommer woorde uit wat eerder ongesê behoort te gebly het nie. Baklei met hierdie persoon voor jou asof jy regtig vir hom lief is.

Ek sê altyd vir Jannie, as ons girls ooit by ‘n Terapeut van soorte moet uitkom dan is my gebed wanneer die Terapeut vra, “What seems to be the problem?” dat die sinnetjie tog nooit moet begin met: “My ma…” nie!

Ons kinders raak groot in ‘n anderste tyd, verlede week was woes rof vir die Gr. 11 in ons huis, die week het die Gr. 7 haar beurt gevat. Soveel druk en spanning op sulke klein mensies. En mens probeer help ondersteun, jy dra bekers vol Hot Chocolate aan, jy luister, jy moedig aan. Tog is dit steeds rof op hulle. Ek en jy moet waak daarteen om nie ons alledaagse-huwelik bagasie op hulle klein skouertjies te laai nie. Baklei mooi toe! My en jou kids verdien ‘n mamma en pappa wat mooi baklei, want ons is lief vir ons manne en ons is lief vir die kindertjies wat God in ons sorg geplaas het.

 

50+50=50

Wiskunde was beslis nie een van my sterk punte op skool nie. Nietemin dis hoe my kop en my som werk. As ek 50% gee vir ons huwelik en Jannie gee 50% dan het ons ‘n huwelik van 50%… niks minder en niks meer nie. Vir ‘n huwelik om 100% te werk moet jy en jou huweliksmaat albei 100% gee. Jy moet jou alles gee en jou maat se belange en behoeftes voor jou eie stel… dis hoe ‘n huwelik werk.

Kom ek vertel jou wat het ‘n paar jaar van getroude lewe my geleer het. Jy kan nie die Heilige Gees vir jou man wees nie. Ek het probeer en dit het nie gewerk nie. God het op ‘n stadium vir my gesê-vra: “Sussie gaan jy nou bietjie opsy staan dat Ek My werk in jou man se hart en lewe kan doen?” Continue reading “50+50=50”

Ek is Gelukkig en Hy is Getroud.

Jannie vertel graag vir almal wat wil luister dat ons gelukkig getroud is, ek is gelukkig en hy is getroud. Ai, bou nou ‘n nasie met so ‘n volk! Nietemin, ons is regtig gelukkig getroud. Daar is plakker in ons kamer opgeplak wat sê: So nou en dan, te midde van ‘n ordinêre lewe, gee die LIEFDE ons ‘n SPROKIESVERHAAL. Ek lewe ‘n sprokie met my Prince Charming.

Vir my is die belangrikste aspek van enige huwelik om waaragtig, onvoorwaardelik lief gehê te word. Die soort liefde wat God vir ons het. Agapé liefde: liefde ten spyte van foute, misverstande, verskille in sienings. Ons wil weet en hoor: Ek het jou liewer as die lewe self, jy is my alles. Wees almal eengesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig.  (1 Pet. 3:8) Om verseker te weet, jy het ‘n veiligheidsnet, hande wat keer as jy val, iemand wat jou kant kies (al is jy soms verkeerd). Iemand wat jou lief het net soos jy is, wat nie op subtiele en minder subtiele maniere probeer om jou te verander nie. Continue reading “Ek is Gelukkig en Hy is Getroud.”