H O O P

Is daar nog hoop vir my, Here?

Natuurlik liewe kind, Ek is jou enigste hoop! (Ps. 39:8) Stel jou verwagting elke dag in My! (Ps. 25:5) Jy wat jou vertroue in My stel, Ek hou My liefde elke dag oor jou. (Ps. 33:22)

Glo in My! Om te glo is om seker te wees van die dinge wat jy hoop, om oortuig te wees van die dinge wat jy nie sien nie. (Heb. 11:1) Maar as jy hoop op wat jy nie sien nie, wag jy daarop met volharding. (Rom. 8:25) Jy weet mos liewe kind dat swaarkry volharding kweek, volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop. Dit is díe hoop wat nooit beskaam nie. Ek het My liefde in jou hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Ek aan jou gegee het. (Rom. 5:3-5)

Verbly jou in My hoop, staan vas in verdrukking; volhard in gebed. (Rom. 12:12) Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe Ek jou geroep het. (Ef. 4:4) Ek maak My hand oop en skenk My guns in oorvloed aan al wat leef. (Ps. 145:16) Dit gaan goed met jou mensekind wat jou hulp van My ontvang, wat jou hoop op My alleen vestig. (Ps. 146:5)

Ek het aan jou My liefde bewys en aan jou ‘n blywende troos en goeie hoop gegee. (2 Tes. 2:17) Niemand sal jou uit My hand ruk nie! (Joh. 10:28) Deur die liefde wat Ek vir jou het, het jy nie vergaan nie! Daar is geen einde aan My ontferming vir jou nie, dit is elke môre nuut. (Klaagl. 3:22-23)

Moenie moedeloos voel nie, jou swaarkry op aarde is van verbygaande aard! Moenie jou oë op die sigbare rig nie, maar op die onsigbare. (2 Kor. 4:16-18) Jy het hoop… jy het die ewige lewe. Het Ek nie lankal My ewige lewe aan jou beloof nie? (Titus 1:2) Deur My genade is jy vrygespreek, jy is ‘n erfgenaam van die ewige lewe. (Titus 3:7) Ek bewaar hoop vir jou in die hemel. (Kol.1:5) My liefde vir jou, bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. (1 Kor. 13:7)

Hou styf vas aan hoop, want Ek is getrou en Ek doen altyd wat Ek beloof het. (Heb. 10:23) Laat al My bemoedigings en beloftes in die Skrif jou moed gee. (Rom. 15:4) Ek is jou bron van hoop, laat My toe om die hoop in jou hart te versterk deur jou te vul met My vreugde en vrede. (Rom 15:13) Hierdie hoop besit jy as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker…  (Heb. 6:19)

Moenie jaloers wees op wat ander mense het of doen nie, wees jy net altyd ywerig om My te dien, dan sal jy ‘n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. Ek sien jou! (Spr. 23:17-18) Dit is goed, vestig jou hoop op My. Wag geduldig op My hulp. (Klaagl. 3:25-26) Vertrou My! Wag op My! Ek het nog altyd gehoor as jy met My praat en na My roep. (Miga 7:7)

In My groot ontferming het Ek jou die nuwe lewe geskenk deur die opstanding. Nou dierbare kind het jy ‘n lewende hoop. (1 Pet. 1:3) Sien uit na die gelukkige dag wat Ek en jy mekaar van aangesig tot aangesig kan sien. (Tirus 2:13) Ek weet wat Ek vir jou beplan: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jer. 29:11) Vertrou My! Ek is tot in ewigheid  vir jou ‘n veilige vesting… (Jer. 17:7) en ‘n lewende hoop.

Die Op en die Affe van die Lewe.

Ons weet God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is. (Rom. 8:28)

So met die einde van die een jaar en die beginne van ‘n splinternuwe jaar, dink ek sommer onwillekeurig aan die op en affe van die lewe, terwyl ek wonder waste nuwe dinge die nuwe jaar inhou. Die reine waarheid is, ons weet glad nie wat om die volgende draai vir ons loer nie…die onbekend en soms sommer onbemind ook!

Die groot vraag en wonder is: Gaan ek okay wees? Gaan alles uitwerk soos dit moet? En dis dan wanneer ek aan hierdie versie vashou asof my lewe daarvan afhang… ja jy gaan okay wees, want God, jou God sal vir jou alles ten goede laat meewerk… en miskien is jou omstandighede tans alles behalwe okay, alles behalwe ideaal. God is in elke op en in elke af van jou lewe. Alleen is jy nie!

God is aan die werk agter die skerms, al voel dit nie so nie, al lyk dit nog minder so. Al wat soms nodig is, is TYD, nog ‘n bietjie glo, nog ‘n tiseltjie vertrou… en geduld om ‘n bietjie langer uit te hou, ‘n rukkie aan te hou en te wag op die uitkoms van jou Vader in die hemel.

In die wag… hoor hoe God vanoggend vir jou fluister: “Wag op My! Wees sterk en hou moed, ja, wag op My liefste kind! (Ps. 27:14) Wag op My met jou hele wese, vestig jou hoop op My woord. (Ps. 130:5) Wanneer jy bly wag… sal Ek na jou afbuig en jou hulpgeroep hoor! (Ps. 40:2) My troue liefde is oor jou terwyl jy op my wag, Ek is jou hulp en jou skild. (Ps. 33:22, 20)”

En vriendin, dan sal ek en jy ook soos Miga kan getuig: “Maar ek sal vir die Here op die uitkyk wees, ek sal bly wag op die God wat my verlos. My God sal my hoor. (Miga 7:7)

Ek lees vanoggend ‘per ongeluk’ hierdie versie raak: Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul word. (Heb. 6:11) Dit is ook my vurige gebed vir my en vir jou, dat ons ywerig, met hoop sal voortbeur, sal LIG wees en LIG leef!

Ek en jy het geen beheer oor die eb en die vloei van die lewe nie, die hoogtes en die laagtes nie, maar ons weet een ding verseker… God is vir altyd, en Hy is reeds in die toekoms, waar ons bekommernisse reeds lê-plekkie gekry het. Wat lê net anderkant die horison? Daar waar ons nie kan sien nie, daar waar jy nie kan weet nie, daar waar net God is…

So vriendin, miskien moet ons die toekoms, maar veral die nuwe jaar, tegemoet loop hand aan aan hand met geloof, met vrede as metgesel en ‘n dankbaarheids-lied in ons hart.

Lewe is om mense en dinge te omhels en weer los te laat,
om hulle te laat groei en bloei voor die aangesig van God.
Lewe is om dankbaar te wees vir die lig en liefde,
vir die warmte en teerheid in mense en dinge
wat sommer maar vir ons gegee is.
Lewe is om alles te laat wees en alles te sien as ‘n gawe van God.
Om niks en niemand te besit nie en te juig oor elke ster
wat van die hemel val. (Phil Bosmans)

As Christene is ons van niks gevrywaar nie, ons het nie ‘n magiese monopoly kaartjie byderhand wat ons reguit na begin toe vat, daar waar dit veilig is nie. Inteendeel Jesus sê self, (en Hy sê dit juis sodat ons vrede in Hom sal soek en vind, en juis nie in die wêreld nie) “In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.” (Joh. 16:33 2020)

Sien dit as ‘n waarskuwing, OF sien die goue belofte tussen die reëls raak: Die oorwinning is daar, en eendag sal ons dit volkome smaak, wanneer ons deur die deur stap na die Ewige Lewe. Vir nou sal ons een voet voor die ander sit en moedig voortstap op die lewenspad, die op en die affe trotseer met ons hand in Jesus sin…

God did not create us for failure. We may fail at some things on our way to success, but if we trust Him, He will take even our errors and work them out for our good. God can take our mistakes and turn them into miracles if we continue to trust confidently in Him. (Joyce Meyer)

And we know [with great confidence] that God [who is deeply concerned about us] causes all things to work together [as a plan] for good for those who love God, to those who are called according to His plan and purpose. (Rom. 8:28 AMP)

 

Ek is Naby!

Die Ingelse het ‘n woordjie met groot betekenis: Implode. [Collapse or cause to collapse violently inwards.] Wanneer dinge nie is soos dit moet wees nie, ver van ideaal, wanneer jy voor jou siel weet, jy is als, behalwe okay! Die mat van die lewe is onder jou uitgepluk en jy lê op die naat van jou rug en snak na asem…

Ek ken nie jou, wat hier lees, se storie nie. Ek ken nie jou verlies, jou pyn, jou struikeling, jou stryd waarin jy tans gewikkel is nie, maar vir jou wat hier lees vandag, wil ek sê, dis okay om nie okay te wees nie! Dis okay om nie te weet wat volgende is nie… Die Psalmdigters het ‘n paar Psalms geskryf, eintlik klaagliedere, want ook hulle het ‘n moment of twee beleef wat vorentoe, op kyk en voort beur, net glad nie ‘n opsie was nie, want in die oomblik tussen die woorde en bladsye van die Bybel ervaar ons, hulle was alles behalwe okay. Continue reading “Ek is Naby!”