
As ek my weer kon kry dan het my kop iewers by ‘n liedjie loop vassteek!
Jesus min my salig lot
Dit leer my die Woord van God
Al is ek ook swak en blind,
Nogtans noem Hy my Sy kindJa, Jesus Min My!
Ja, Jesus Min My!
Ja, Jesus Min My!
Ek weet dit uit God’s Woord.
Ek gaan kyk toe wat sê die verklarende woordeboek oor die werkwoordjie min, en weet jy wat staan daar? Ww. (gemin). (verh.) Liefhê; bemin: Jesus min my. So tot die verklarende woordeboek weet, ons dien ‘n God wat ons min.
Ek loop en wonder toe sommer… hoe lyk dit as Jesus My, sondige mens, min? Hoe voel ek dit aan my lyf, hoe sien ek dit in my lewe, daar waar die tekkie die teerpad tref? Wat beteken dit om gemin of eerder bemin te word deur die God van die heelal?


1 Korintiërs 13 is by verre een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel. Dit voel amper vir my of Paulus die karakter van Jesus beskryf van vers 4-7. Vir my is Liefde die deurlopende tema van die Bybel met Johannes 3:16 wat uitspring as die uiteindelike verklaring van liefde, God se liefde vir ‘n verlore en sondige wêreld. Die offer van liefde, die offer van Sy geliefde en enigste Seun.