
Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk, en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees NOGTANS sal ek in die HERE jubel, sal ek juig in God my Redder. Die HERE, my God, gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekk laat Hy my veilig loop. (Hab. 3:17-10)
Wat beteken ‘n nogtans geloof? Dit beteken ek kies volharding, geloof ten spyte van swaarkry, twyfel of teenspoed. Nogtans- ‘n keuse wat gemaak moet word. ‘n Onwankelbare vertroue in die God van Abraham, Isak en Jakob, selfs as die sigbare uitkoms nie daar is nie, wanneer jy vasgevang voel in ‘n situasie, wanneer jy opgeskeep is met eensaamheid. Met hopeloosheid en moedeloosheid as jou enigste metgeselle, wanneer selfs die liggie aan die einde van jou pikdonker tonnel moed opgegee het en aanbeweeg het.

Daar is ‘n Engelse spreuk wat sê. ‘Simplicity is the essence of all beauty’. Miskien kan mens dit ook van geloof sê? ‘Simplicity is the essence of faith’. ‘n Eenvoudige geloof sonder tierlantyntjies, frille en dinge. ‘n Kinderlike, ongekompliseerde geloof. ‘n Geloof wat net glo sonder om God om elke hoek en draai te bevraagteken. ‘n Glo wat sê: Okay God, dis reg so, want U is in beheer en ek weet dat daar altyd ‘n plan is. U planne vir my is altyd by verre beter as my eie.
Mens lees soms ‘n verhaaltjie so oor en oor dat jy later skoon glad nie meer weet presies wat jy lees nie. Een so verhaaltjie is die een van die Kanaänitiese vrou in Matteus 15 wat by Jesus pleit om haar dogter gesond te maak. Onlangs lees ek weer die verhaaltjie en dit gryp my aan die hart. Miskien omdat ek ‘n ma van dogters is en ‘n stukkie van hierdie mamma se paniek kan aanvoel.