Die SkermSkelm.

Konneksie sonder wifi is moontlik! Dis die naam van ‘n taak wat ek en twee vriendinne (Erné en Desirèe) gedoen het, en dit was hope pret, maar sjoe dit was ‘n ‘eye opener’ soos die Engelsman sê. En luister ek is nie een van dáái ma’s wat die duiwel agter elke klip soek en hom agter elke bos wil uitskop nie, maar vir my is dit duidelik dat die vyand ons fone en veral sosiale media gebruik om ons kinders, maar veral ons tieners by te kom.

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. (Spreuke 4:23 [1953])

Ons fone is nie net ‘n handige instrument wat ons toevallig ALTYD saam met ons dra nie. Elke ping, elke sinnelose ‘scroll’, elke ‘like’, elke vibrasie, elke notifikasie is gemaak om jou brein te manipuleer… Die slimfoon is geskep met ‘n baie spesifieke doel! En selfs as jy nie wil kyk, wil optel, wil aandag gee nie, het jou brein geen ander keuse as om te reageer nie. Jou aandag word letterlik gesteel. Continue reading “Die SkermSkelm.”

Oor ‘Like’ en ‘Share’.

Van die van julle wat nie weet nie, ek het ook ‘n Wees stil Facebook blad. Daarop deel ek  inspirerende Bybelversies en my blog posts. Ek is mos maar dommerig met tegnologie, so effe tegnologies gestremd, heel waarskynlik gedeeltelik a.g.v. my ouderdom en gedeeltelik miskien die feit dat ek regtig nie van tegnologie en rekenaars hou nie. Facebook is eintlik tydrowend en vat baie meer as wat dit gee.

Facebook het my darem ietsie geleer ook! Jy kan ‘n post ‘like’ tot jy potblou in die gesig is, maar as jy nie die post ‘share’ nie gaan dit nie veel verder as jou eie sad FB blad nie. Dis ‘n lewensles, nie ‘n FB-les nie. Nee ek vra nie jy moet die goedjies wat ek opsit ‘like’ of selfs ‘share’ nie, maar dit het betrekking op Jesus. Huh? Mind-blowing, ek weet! Continue reading “Oor ‘Like’ en ‘Share’.”

Facebook vs Realiteit.

Is jy ‘n prentjie mens? Ek is nogals. Dink bietjie aan ‘n foto van ‘n koei wat rustig in die groenste gras staan en herkou… nie ver van die koei speel twee bruin gevlekte kalfies baldadig in die lang gras wegkruipertjie. Die kanola velde staan vol in die blom so ver soos die oog kan sien. Dis wat jy sien… perfeksie, vrede. Dis Facebook…

Die anderkant van die teerpad lyk so effe anders, want sien die melkery wat daagliks 3000 koeie melk is oorkant die pad geleë. Dis brommers en vlieë waar jy kyk, die mishope lyk soos berge en jip jy het reg geraai, dit ruik ook nie so baie lekker nie. Na die onlangse reën is dit natuurlik een groot modder-gemors. Dit my liewe vriendin is realiteit.

Ons kan soms so jaloers wees op wat ons sien op sosiale media, want sien jy die klomp Venters ploeter al weer oorsee rond en kyk net hoe oulik lyk haar kinders op die foto, en sy, sy lyk so gelukkig en tevrede en agtermekaar … en en en…. Maar sien dis die ding. Ons sien net die koei en die kanola lande in die prentjie, nie die mis of die vlieë nie, want ons is tog net so bang mense sien ons lewens en ons prentjies is nie altyd so perfek nie. Hoeveel onvleiende profile pics het jy al gesien? Nee ons neem daai profile pic, met ons asems ingetrek, dubbelken mooi netjies weggesteek. Continue reading “Facebook vs Realiteit.”