Kinders van die Silwerrandjie.

Wat sien jy as jy so na die foto staar? Is die glas halfleeg of halfvol? Ek dink dit sê nogals iets van mens se ingesteldheid so oor die algemeen. Laat mens bietjie dink, nê? Ek is geneig om meer na die halfvol kant toe te leun. Dis makliker op my gees en verstand om ‘n halfvol gesindheid te hê as ‘n halfleeg gesindheid. My ouma het ‘n oulike sê-ding gehad as mens oor enige iets ongelukkig is of selfs bietjie klaerig gevoel het, het ouma altyd gesê: “Dit kon baie erger gewees het.”

Negatitiwiteit en negatiewe mense het ‘n manier om mens totaal en al uit te put. Negatiewe mense is geneig tot lewensmoegheid. Natuurlik voel ons almal van tyd tot tyd negatief en moedeloos. Ons is mos maar net mens, van stof gemaak.

Vermy negatiewe mense, want Slegte geselskap bederf goeie sedes, (1 Kor. 15:33) kort voor lank klink jy soos hulle, dink jy soos hulle en klim negatiwiteit pens en pootjies in jou menswees in.  Soms bekruip negatiwiteit ons so ongesiens,  maar dis jou werk om daadwerklik op te tree en die negatiewe gedagtes uit jou kop te skuif.

Hoe gemaak om negatiwiteit hok te slaan? Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Kor. 10:5) Dit wat jy dink, dit is jy ook. So wees versigtig wat in jou gedagtes omgaan. Dit bepaal jou gesindheid teenoor die lewe en die mense om jou. Eendag gaan ek nog ‘n stukkie skryf oor Die Oorlog in  My kop…

Miskien moet ons eenvoudig alles wat negatief is omkeer en omdop in iets positiefs. Dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (Spr. 3:7-8) Elke donker wolkie het tog altyd ‘n silwerrandjie. Ons instelling moet verander sodat ons ophou vaskyk in die donker wolk maar dat ons naarstigtelik soek na die silwerrandjie, maak nie saak hoe gering of klein. Ons moet nie net die silwerrandjie soek nie, wanneer ons om die braaivleis vuur staan moet ons die silwerrandjie bespreek en nie die donker wolk nie.

Wanneer ek en jy saam met ‘n vriendin koffie drink en lekker sjokolade koek eet, moet ons ‘n punt daarvan maak om op die silwerrandjie momente in ons lewe te fokus. Hoekom? Ek en jy is kinders van die Lig, kinders van die silwerrandjie, nie kinders van die donkerwolk nie. Ons moet aspris en met opset positief wees, positiewe dinge spreek en nie deel raak van die negatiewe massas om ons wat ons wil verswelg nie.

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Kor. 4:18) Ons het ‘n vars perspektief nodig op die lewe. Ons uitkyk moet ewigheidswaarde hê, in plaas daarvan om te fokus op alles wat verkeerd is, nie lekker is nie. Ek en jy is nog nie in die hemel nie!

Jy kan kies waaraan jy dink, wat in jou kop aangaan is wat by jou mond uitkom, wat uit jou hart uitborrel.  Dis so maklik om jouself moedeloos te redeneer die kant toe en daai kant toe, maar al wat ek en jy regtig moet doen is om Filippense 4:8 in ons harte vas te maak: Verder, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is- watter deur of lofwaardige saak daar ook mag wees- daarop moet julle julle gedagtes rig.

Leef ‘n dankbare dankie-sê lewe. Gaan Sy poorte binne met dankliedere, Sy tempel met lofsange, dank Hom, prys Sy Naam, want die Here is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie. (Ps. 100:4-5) ‘n Dankbare hart vol van Jesus se liefde en genade wat uitreik na ander en die verskil maak in ander se lewens al is dit hoe gering.

As jy negatiwiteit uit jou lewe wil uitsny bly weg van FB, Instagram, Twitter en al die sosiale media platforms vol misleidende feite en baie maal leuens verskans as die waarheid. Mense maak mense negatief en sosiale media is ‘n uitstekende hulpmiddel om totaal en al negatief te voel. Moenie die lewe vooruit hardloop en alle scenario’s in jou kop leef van wat moontlik kan en gaan of selfs sal gebeur nie. Jou lewe is in die hande van die God van die hemel en aarde. Hy het jou! Die ewige God is ‘n skuilplek, jou skuilplek. Onthou: Sy arms is altyd onder jou. (Deut. 33:27)

 

2 Replies to “Kinders van die Silwerrandjie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *