Ek moes lag, onlangs sit ek buite en skryf op die stoep agter ‘n yl, maar welkome wintersonnetjie aan… manlief loop verby op pad ketel toe, ek vra: “Wat is ‘n mooi opskrif vir ‘n mooi verhouding tussen ‘n ouer en ‘n tiener. Hy trek net sy skouers op… ek weet ook nie, maar hey, ek en jy kan en moet aanhou probeer om die harte van ons tienerkinders te bereik. Tou opgooi is absoluut nie ‘n opsie nie.
Jou tiener soek nie jou probleemoplossings vaardighede nie, dis eintlik maar goed bedoelde raad, uit jou hart uit, wat op dowe ore val. Vir hulle klink dit dieselfde as beterweterigheid.
Die ander ding wat hulle beslis ook nie van hou nie, is oordeel en regstelling op alles wat by hulle monde uitkom, nou ek en jy kan dan maar aangaan met hierdie minder perfekte kommunikasie vaardigheid, want al wat gaan gebeur is dat hulle gaan toeklap soos ‘n snotterige skulpie op ‘n rots.
Ek vermoed ons as ma’s se DNA het ‘n korreksie stringetjie op. Ons dink ons weet beter en dat ons al die antwoorde het-hier is die ding. God is ‘n God van verhoudings. Nê? Sy hart is verhoudings, en alle verhoudings is vir Hom kosbaar. So as jou goed-bedoelde raad, oordeel en regstellings skade berokken aan die verhouding, dan is ek nie seker dis deel van ons DNA nie, maar eerder vuil maniertjies wat ons êrens langs die pad aangeleer het.
Genesing en oorwinning geskied in stiltes, geskied in vrede en kalmte. Wanneer almal helder en kalm is en nie boos is vir mekaar nie en nie lus vir ‘n intense skreeu-geveg nie. Dis wanneer jy met jou tiener praat. Ek herinner myself meer as gereeld, ek is die grootmens, ek, nie sy nie. Wanneer die geveg wil vurig raak dan verskoon ek myself en ek loop weg. Dit vat ten minste twee vir ‘n lekker bek-geveg… alleen kry gun mens dit reg nie.
Luister vir ‘n slaggie verby die woorde, hoor jou tiener se hart. Nie dit wat sy sê nie, maar die woorde wat nie geuiter word nie. Die ongelukkige gesiggie, die skouers wat hang. Maak seker dit wat gesê word, word nie mis geïntrepeteer nie. Ousus wou baie graag 18 raak, dat sy haar ID by ‘n kroeg kan wys. Nou daar is baie maniere om dit te hanteer en heeltemal mis te verstaan wat sy eintlik sê. Ek lag en sê, dis lekker wat wil jy in ‘n kroeg gaan maak? Nee, sy wil net haar ID wys en dan weer loop. Sien, dit gaan oor die opgewondenheid van grootword en nie oor die kroeg nie. Misverstande lei baie maal tot ongelooflike ongelukkigheid en die gevoel dat my ma my glad nie verstaan nie, en dat my ma net altyd die ergste van my dink.
Jy moet dié weet vriendin, as hulle nie ‘n klankbord in jou gaan kry nie, as jou kosbare tiener jou nie kan vertrou met hulle harte en dinge van die hart nie, gaan hulle iemand anders kry wat hulle ‘verstaan’ maar die iemand gaan hulle nie naastenby so lief hê soos jy nie.
Onthou, as jou woorde enigsins skuld impliseer, dan gaan hulle verseker en outomaties ‘n vegters-stand inneem en voel hulle moet hulself verdedig.
‘n Kalm tiener se ore werk by verre beter as ‘n skreeuende tiener. Hulle gaan nie jou hart hoor as jy skree nie, nog minder gaan jy kan agterkom wat eintlik in hulle harte omgaan. Tree net bietjie terug, haal asem en wag tot die woede en die storm bedaar. Weet jy wat? Dit vat, soos baie dinge in die lewe, oefening. Oefening om nie dadelik op jou grootmens-perdjie te spring nie, oefening om nie altyd die laaste woord in te kry nie, oefening om nie met woorde terug seer te maak nie.
En wanneer jy voel die kalmte is daar en jy het vrede in jou hart, maak net doodseker die tiener voor jou is in dieselfde kopspasie as jy. Jou tydsberekening vir diep gesprekke moet half goed wees, want anders is daar weer groot vermorsing van woorde en geduld, wat uiteindelik net weer tot die volgende geveg ly.
Jou tiener, wat nie eintlik nie met jou wil praat nie, want jy is so ‘judgy’, wat jou baie nodiger het as wat jy kan dink of weet, eintlik wil hierdie soekende tiener net weet, my ma is aan my kant, al gooi ek my speelgoed uit die kot uit, al sê ek goed wat ek glad nie bedoel nie, al tree ek op en nie eers ek weet hoekom ek so optree nie. Ons tienerkinders het ons nodig vriendin, en my en jou werk is om verby die rumoer te kyk en hulle harte raak te sien.
Ai wie het gesê dit gaan maklik wees om tieners in een stuk groot te kry? Ek los jou met ‘n stukkie wysheid van Kahlil Gibran
Julle kinders is nie julle kindes nie.
Julle mag hulle julle liefde gee,
maar nie julle gedagtes nie,
want hulle het hulle eie gedagtes.
Julle mag hulle liggaam huisves,
maar nie hulle siel nie,
want hulle siel woon in die huis van môre
wat julle nie kan besoek nie,
nie eers in julle drome nie.
Julle mag strewe om soos hulle te wees,
maar moenie probeer om hulle soos julle te maak nie,
want die lewe beweeg nie agteruit nie,
nog minder vertoef dit met die dag van gister.