Leef jy in die WIL van God?

Ek dra die ander dag my donker groen T-hempie wat vir almal wat wil hoor, sê: “It is well with my soul…” en toe dog ek, ek vra sommer vanoggend vir jou: “Is it well with your soul?”

Wanneer is dit wel met jou wese of siel (gevoelens, gedagtes, persoonlikheid en begeertes)? Groot vraag nê? En wanneer kan mens met oortuiging sê dit is wel met my wese? Ek vermoed ek en jy dink dit gaan slegs goed met my wese wanneer dit wel, goed gaan. Wanneer alles min of meer gladderig verloop, wanneer dit goed gaan in ons werke, huise, huwelike. Kan dit wel wees met my wese in die midde van ‘n monster lewensstorm?

En voor ek myself kon kry is ek pens en pootjies terug in die WIL van God. Ek het al baie gewonder oor die wil van God (Jy kan gerus die blogpost, Wat is dan die WIL van God? weer gaan lees, en miskien sommer net saam met my wonder… https://weesstil.co.za/2024/12/05/wat-is-dan-die-wil-van-god/

Soms, net soms dan dink ek, kan iemand nie asb vir my in eenvoudige, verstaanbare Afrikaans sê wat beteken dit regtig nie? En miskien as jy lank genoeg oor iets bid en wonder, dan kom die antwoorde so stuk-stuk tog by jou uit.

Die WIL van God lyk anders as my wil vir myself. Ons wille ontmoet nie iewers, hê ‘n gesprek en besluit watter die beste vir mý gaan wees nie. Ja, God het die mens se welstand op SY hart, maar dis ‘n hemelse welstand, nie ‘n aardse welstand nie. Miskien moet ons dan vir onsselwers vra… waar is God op ons prioriteits lysie… is Hy op of is Hy af, is Hy eerste??? Kinders en huwelike en werke kan en mag nooit bo God wees nie.

Geskied God se WIL op aarde in die manier hoe ek en jy leef, hoe ons vir Hom leef? Kan mense stukkies van Sy vrede in jou en my sien? Kan hulle Jesus beleef in die manier hoe jy liefhet? Is daar stukkies genade wat in my alledaagse gesprekke na vore kom? Praat ons reguit waarheid, maar met genade en liefde? Los ons eie-ek oordele liewers in die kluis by die huis, veilig agter slot en grendel?

As daar nou al ooit ‘n definisie of versie is wat vir my baie beteken rondom die WIL van God dan is dit hierdie ene: Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en oormoedig te wandel met jou God? (Miga 6:8 [1953])

‘n Paar waarhede oor die WIL van God: God se WIL sal jou nooit vat waar Sy genade jou nie kan bykom nie. Koninkryk en WIL staan nie apart van mekaar nie. Ons bid in die Ons Vader- “Laat U koninkryk kom, Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” en ek dink dit is iets wat ook in ons harte moet gebeur, Sy WIL wat geskied, in die hemel, so ook op die aarde, so ook in ons harte en in die harte van ons medemens. Hoe beter, hoe intiemer ons God leer ken, Sy hart vir ons, hoe makliker kan ons Sy WIL vir ons lewe onderskei, en raak leef.

So hoe nou gemaak om nader aan God se WIL vir my lewe te leef? Ek dink ‘n goeie begin is om die Woord absoluut ter harte te neem, om die Woord van God op jou hart te skryf en so te begin leef. ‘n Paar vashou waarhede van God op ons reis en soeke na Sy volkome WIL vir ons lewens.

God is goed, en in beheer en onveranderlik. Die HERE is goed vir almal, en Sy barmhartigheid strek oor al Sy werke. (Ps. 145:9)

Ons sal nooit ooit die WIL van God kan raakleef as ons nie mense kan vergewe nie. Onvergewensgesindheid lê buite die WIL van God. Soos die HERE julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. (Kol. 3:13)

Vreugde en geluk gaan altyd net-net buite my en jou bereik wees, veral as ons op die verkeerde plekkies daarvoor soek! Vind jou vreugde in die HERE, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. (Ps. 37:4)

God is betroubaar, standvastig en Sy hemelse vrede sal jou gedagtes, hart en siel vul as jy Hom vra. Perfect, absolute peace surrounds those whose imaginations are consumed with You; they confidently trust in You. (Is. 26:3 TPT)

God is nie ver en buite bereik nie. Hy is ‘n HIER God, ‘n NABY God. Ek hou die HERE altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie. (Ps. 16:8)

Doen alles wat jy doen, met ‘n goeie gesindheid, asof vir HOM! Selfs stryk, broodjies pak en die kids rondry vir die derde keer op dieselfde dag. (Kol. 3:23)

Vrees, bekommernis, angs kom nie van God af nie. God sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal vir julle rus gee.” (Matt. 11:28)

Sonde hou ons ver van God se hart af en buite die sirkeltjie van Sy WIL. Wie sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie; maar hy wat dit bely en dit laat vaar, ervaar ontferming. (Spr. 28:13)

In die liedjie van Jan de Wet sing ons: Doen slegs U wil Heer, U wil met my. U pottebakker met my die klei. Vorm en maak my net soos U wil, op U slegs wag ek nederig en stil. Dan eindig die liedjie met hierdie kosbare woorde: Maak van my hart, Heiland U Troon, tot elk een Christus in my sien woon.

So wanneer alles gesê en gedoen is, is dit nie juis die begeerte van my en jou hart nie? Here laat U wil geskied, op die aarde, so ook in die hemel… so ook in my hart, sodat mense stukkies en straaltjies van U in my kan sien en beleef. Here, steek die vuur in my hart aan, van voor af, weer ‘n keer, sodat U lig helder deur my sal skyn.

4 Replies to “Leef jy in die WIL van God?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *