
Ons (ek inkluis) hou nie van praatjies van die dood nie, maar soms moet ons tog bietjie oor die swaarmoedige goed gesels. Kan genade opraak? Ek dink dit kan, alhoewel God natuurlik ‘n genadige God is, strek genade nie tot in die ewigheid nie. Wanneer ek en jy ons laaste asemteug neem en uitblaas op aarde en ons saak met die Here is nie reg nie, dan is ons straks in die moeilikheid (of natuurlik as Jesus ons kom haal voor die laaste asem ons verlaat).
Wanneer ons uitasem oor die wenstreep hardloop aan die einde van ons lewenswedloop is daar nie tweede kanse, en omdraai kanse, en hardloop vir ‘n beter tyd nie. Onthou jy die storie van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:19-31? Nie een van die mooi, goed-voel stories in die Bybel nie. Vers 16 praat van ‘n groot kloof tussen die hemel en die hel, en daar is nie paadjies vir ‘n geheen en weerery nie.
En dis hier waar genade nie meer is nie. Net duskant die wenstreep is genade opgebruik. Nou hoekom, op dees aarde, sal ek nou voel om so negatiewe stukkie te skryf? Want hierdie kant van die wenstreep, waar ek en jy is, waar ons nog asem in ons longe het, hierdie kant van die hemel is genade volop, oorvloedig en beskikbaar.
In die woord ‘genade’ is beide betekenisse daarvan vervat: aan die een kant die mens se hulpelose afhanklikheid van God, en aan die ander kant God se grenslose liefde vir onverdienstelikes. (William Barclay)
Kies jy genade onbeskryflik groot, kies jy lewe? Ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle. Die lewe en die dood, die seën en die vervloeking, hou ek aan jou voor: Kies dan die lewe, sodat jy kan leef, jy en jou nageslag. (Deut. 30:19 [2020]) Kies lewe! Kies genade!
Is jy reg om voor die Regverdige Regter te verskyn vriendin? Met Genade en Verlossing wat weerskante van jou staan? Ja, die HERE is ons Regter, die HERE is ons Regeerder, die HERE is ons Koning- Hy sal ons verlos. (Jes. 33:22) Jesus soek nie halfhartige volgelinge nie. Ons predikant sê altyd: Jesus soek nie baie nie, Hy soek ALLES.
Alles van jou… jou hart, siel, verstand. Jesus soek ‘n intieme, lewendige verhouding met jou. Hy soek jou liefde, Hy soek jou lof, jou prys, jou aanbidding, jou gedagtes, jou drome, jou bekomernisse, jou vrese… Hy soek inderdaad ALLES.
Wat doen genade vir ons? Wat beteken genade vir ons? Deur genade is Sy krag in ons beskikbaar, is Sy genade genoeg wanneer ons swak is. (2 Kor. 12:9) Sy genade word al sigbaarder soos ons swakker word.
Sy genade werk in ons en deur ons, dit vermeerder ons kapasiteit vir gehoorsaamheid en selfs swaarkry.
Wanneer ons genade kry, as ons die ‘prys’ van genade besef, deel ons genade veel makliker uit. Leer ons om met genadige harte te luister na ander se stories, leer ons om met genadige oë te kyk na ander se pyn en lyding.
God se genade, wat so oorvloedig oor ons uitgestort word in die vorm van Sy enigste Seun wat vir ons aan ‘n kruis gesterf het, maak dat ons nie meer wil sonde nie, dat ek en jy ons rug draai op alles wat nie van God af kom nie. Genade herstel die verhouding tussen jou en God. Tussen my en God.
Genade en liefde is God se karakter, maar ons mag nooit misbruik maak van hierdie genade nie. Onthou genade is nie ‘n ‘get out of jail free’ kaartjie nie. Dis nie ‘n volmagtiging om te doen wat ons wil, wanneer ons wil nie. Ek en jy moet kies, sonde of gehoorsaamheid. En meermale is hierdie ‘n daaglikse keuse, nie ‘n eenmalige kies nie. Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? (Rom. 6:1) Om onder God se genade te leef is nie ‘n verskoning vir hardnekkige sonde nie.
Genade help ons om beter te wees en beter te doen. (En dit tel nie net vir mense wat ons ken, wat ons liefhet het nie, dit tel vir alle mense) Kort ons almal nie ‘n bietjie genade nie? Beslis van God, maar ook van mekaar.
Genade is net genade omdat daar geen dade by betrokke is nie. Genade word gegee, maar moet ook ontvang word, maar kan beslis nie verdien word nie.
Grace means there is nothing we can do to make God love us more… And grace means there is nothing we can do to make God love us less… Grace means that God already loves us as much as an infinite God can possibly love. (Philip Yancey, What is so amazing about grace?)
(Ek het gewonder oor die aanhaling… met Philip Yancey wat nou voorblad nuus was onlangs… maar tog, selfs sterk manne in die geloof, val en wankel, selfs sterk manne en vroue van God kort genade.)
Ek laat jou vandag met hierdie gedagte: Ek en jy kan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang. (Heb. 4:16) ‘n Troon is vir ‘n koning, iemand met mag en gesag, die genade gedeelte verwys na iemand wat verstaan, iemand wat omgee. Wat is hierdie troon van genade? ‘n Perfekte beskrywing van wie Jesus is. ‘n Koning vol van die Vader se krag en ‘n Verlosser wat Sy eie lewe gegee het sodat ek en jy onder Sy mantel van genade kan staan.
Die genade van God is met my en jou (as ons dit kies, as ons die geskenk van genade aanvaar) Deur hierdie einste genade is ek en jy wat ons is.
Your worst days are never so bad that you are beyond the reach of God’s grace. And your best days are never so good that you are beyond the need of God’s grace. (Jerry Bridges)

Danke Martha vir die diep boodskap.
Amen 🙏