Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.

Wysheid word iewers gevind tussen jou hart en jou kop, nie noodwendig in jou kop nie, want soms is dit wysheid sonder gevoel, wysheid se woonplek is ook nie die hart nie, want wysheid met net gevoel is gevaarlik. Wysheid van God is maar altyd die allerbeste wysheid.

Wysheid is nie vir ‘n uitgesoekte, uitverkore handjie vol mense nie. God se uitnodiging staan vas vir almal… veral vir mammas wat wysheid soms so broodnodig het. Dis vir ma’s (en natuurlik pa’s ook) net nodig om te weet waar ons wysheid vandaan kom. Wysheid word van God afgebid… en vrylik gegee aan die wat vra. Ware wysheid kom van God af. Dit is die Here wat die wysheid gee… (Spr. 2:6)

God se wysheid, wat Hy so mildadig en vrylik uitdeel aan ma’s, is altyd gevul met ‘n bietjie genade, liefde, geduld en verdraagsaamheid. Wysheid is altyd om meer te luister as wat jy praat. Wysheid is om eers vrede te gaan opsoek voor jy optree, want vrede gaan wysheid vooruit.

Wysheid kom eerste. (Spr. 4:7) Meermale sal jy wysheid vind in die stiltes van die dag, waar vrede reeds lê-plekkie gekry het. Wysheid sal nooit opdaag tydens ‘n skreeu-geveg, wysheid soek ook nie skoor met oormoeg tieners nie. Wysheid strewe na vrede en stiltes, dis waar wysheid welkom voel.

Wysheid is ‘n pêrel wat die maklikste gevind word in kalm waters en onder ‘n helder hemel. (William Cowper)

Hemelse wysheid kom van Bo en dit verskil van wysheid wat ons soms uit die wêreld kry, meet jou wysheid; slegs dan sal jy weet of jy die ware Jakob beet het. Jakobus 3:17-18 Maar die wysheid wat van BO kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.

Ek moet bieg vriendin, as ‘n ma kort ek soms wysheid, maar nie druppels wysheid uit die skatkamers van die hemel nie, soms kort hierdie mamma emmers en emmers vol wysheid.

Soms het ek nie woorde van wysheid sommer net beskikbaar, in die moment, op die punt van my tong nie. Soms ken ek eenvoudig nie die volgende tree nie, ken ek nie die antwoord op moeilike vrae nie, en weet ek nie wat ek wanneer behoort te sê (of nie behoort te sê nie). Die lewe is soms moeilik, die oplossings op moeilike vraagstukke nie so voor die handliggend soos dit behoort te wees nie.

Wysheid is in twee verdeel: om baie te hê om te sê en om dit nie te sê nie. (Anoniem)

Die wysheid wat ek dan soms kort het ook veelvuldige fasette. Soms duik daar ‘n krisis op en ek het oombliklike wysheid nodig om ‘n situasie daar en dan uit te sorteer, en ek moet erken dis wanneer wysheid my ontwyk. Wanneer ek nie tyd het om met my kop te dink, wat nog te sê van tyd om by Vader se voete te gaan sit en vra vir wysheid. Op sulke oomblikke vat my hart sommer oor en neem emosionele besluite in plaas van goed-deurdinkte-wysheid-gevulde oplossings.

Wanneer dit by wysheid en my eie kinders kom is my visie soms so bietjie troebel, want ek is mos lief vir hulle, en ek wil vir hulle die beste hê… probleem is dáárdie beste is nie altyd die beste-beste nie. Ek het so een of twee vriendinne wat ek baie graag vra vir hulle stukkies wysheid. Hoekom? Hulle perspektief verskil van myne, en hulle harte is ook nie so oor-geinvesteer in my eie persoonlike kindertjies nie.

Tyd en wysheid loop hand aan hand. Wysheid sal jou makliker vind wanneer jy bietjie meer ondervinding onder die knie het. Wanneer jy al so bietjie geleef het. Dis ook waar: Hoe meer tyd jy het om te vertoef in die genadetroon hoe meer vrylik is wysheid tot jou beskikking, hoe helderder kan jy dink met net die regte mengsel van hart en kop by betrokke. Daar waar jy maar kan vra; Maar hoekom? Ek verstaan nie?

Soms ontvang ons die wysheid presies van waar af ons dit gevra het, van WIE ons dit gevra het, maar dan besluit ons soms om eerder ons hart as wysheid te volg… Wysheid vertrou op God. Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het. (Spr. 3:13)

Wysheid en nederigheid hou van mekaar se geselskap- When you act with presumption, convinced that you’re right, don’t be surprised if you fall flat on your face! But humility leads to wisdom. (Prov. 11:2 TPT)

Wanneer jy in die vrees van die Here leef, wanneer jy werklik besef wie Hy is, wie Hy vir jou is… dan is wysheid ook geneig om baie makliker haar opwagting te maak. The starting point for acquiring wisdom is to be consumed with awe as you worship YAHWEH. To receive the revelation of the Holy One, you must come to the one who has living understanding. (Prov. 9:10 TPT)

If any of you lack wisdom [to guide him through a decision or circumstance], he is to ask of [our benevolent] God, who gives to everyone generously and without rebuke or blame, and it will be given to him. (James 1:5 AMP)

5 Replies to “Soms Kort ‘n Ma ‘n titseltjie Wysheid.”

  1. Jy het dit so raak en waar beskryf! Daar is soveel ouerskap en ander situasies waar ek wysheid kortkom. Ek hou van lees en bid gewoonlik dat die Here vir my ‘n boek sal wys wat ek moet lees. Hy was nog altyd getrou en dan voel dit of Hy reguit met my praat in die woorde wat ek lees. Soos my kinders volwasse word is daar al hoe meer nuwe uitdagings waar ek wysheid kortkom soos ek in my blogpost beskryf het https://lettersfromemsia.com/af/ouerskap-verander-met-volwasse-kinders/

    1. Sjoe Emsia, daar is soveel wysheid in die stukkie wat jy geskryf. Wysheid in elke seisoen van ma-wees lyk inderdaad anders. Mag God jou lei in elke nuwe uitdaging en seisoen van ma-wees.

  2. Jou woorde van hoop laat my elke dag besef hoe groot en wonderlik God se genade is. Dankie dat jy gehoorsaam is aan die HG en dit met ons deel. Liefnis Luana 💕

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *