Rustig, Rustig, Rustig… Amygdala!

Wie op aarde sal ook nou ‘n naam soos die ene uitdink vir kind of kraai? Nee, vriendin, ontmoet ‘n deeltjie van my en jou brein, ‘n amandel vormige twee lob gedoentejie. ‘n Klein deeltjie met ‘n GROOT werk.

Die Amygdala is diep in jou brein gesetel, een lob in elke hemisfeer, so min of meer agter jou oë. Ons moet ons Amygdalas bedank, want dis hy wat ons emosies prosesseer en reguleer. Emosies soos vrees, angs en agressie. Die Amygdala verbind ook jou emosies met herinneringe. Dit is hoeka die outjie wat skree… veg, vlug of vries.

Goed, anatomie en fisiologie lessie verby. Wanneer ons geneig is tot angstigheid en vrees, dan gaan hierdie amygdala begin hiperaktief raak en dit gaan bietjie voel of jy op ‘n permanente basis reg is vir veg of vlug. Die goeie nuus is, ons kan vir Amygdala beter maniertjies aanleer, maklik? Nie maklik nie, maar beslis moontlik.

As daar een dingetjie is wat ek geleer het met die kursus wat ek tans doen, is dat ons brein, met al sy gesofistikeerde deeltjies, negatiewe goedjies makliker herken en stoor as alles wat positief is. Hoekom? Want jou brein het ‘n behoefte om te oorleef… en daarom stoor hy dit alles mooitjies, jy weet… ‘for future reference’!

Peter Diamandis het gesê: Bad news sells because the amygdala is always looking for something to fear.

So, hoe gaan ons vir Amygdala leer om net ‘n bietjie rustiger te raak? Dit begin alles in ons gedagtes. Ons is mos nie? Ons word, wat ons dink, wat ons uitspreek oor onsselwers en ander.

So die versie wat ek op my hart gegraveer het, maar ook vir my Amygdala aangeleer het, staan in Filippense 4:8 [2020].

Verder, broers,
alles wat waar is,
alles wat eerbaar is,
alles wat reg is,
alles wat rein is,
alles wat lieflik is,
alles wat lof verdien,
ja, watter deug of watter prysenswaardige saak
daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop
.

Ek en jy moet gedagte siwwers word, want ons kan nie enige gedagte wat by ons koppie invlie net glo nie, want raai wat, die vyand hou van saadjie-gedagtes plant. En deur om die gedagtes deur ons koppe te laat tuimel, en te stoei met die wat asse, en die sê nou maars gaan die amygdala net meer hiperaktief maak, wat net verder gaan bydra tot lae oksitosien vlakke, hoë kortisol vlakke, inflammasie en al daai lekker dinge. En wees bedag en wakker, die gedagtes wat die vyand plant gaan nie stink en skeef lyk nie, dit gaan verdraaide waarhede en valse beloftes wees.

Ons moet fokus op gedagtes wat opbou, maar ook gedagtes wat afbreek, want affekteer ons gedagtes nie op die ou einde van die dag ons gemoed nie? Dink ‘n bietjie waaroor jy dink! Moenie die vyand vatkans gee in jou gedagtewêreld nie! Moenie die vyand kans gee om in jou gedagtegange rond te dwaal nie!

Wat moet ons met die gedagtes maak? Meet en pas hulle aan Filippense 4:8; en as dit nie aan die vereistes voldoen nie, gooi die ou gedagtetjie uit! Efesiers 4:23 Julle gees en gedagtes moet nuut word. Ons moet ook nie net splinternuwe Jesus gefokusde gedagtes kry nie, maar ons moet ook: elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus. (2 Kor. 10:5 [2020])

Wanneer ons dit reg kan kry om ons gedagtes te vernuwe, bou ons nuwe paadjies in ons brein, kan ons deur wat ons dink, of eerder nie dink nie, nuwe paadjies bou van vrede, en dit sal ook jou Amygdala help om nie gedurig op aandag te spring en te wil veg of vlug nie.

Soms gebeur dit dat die Amygdala jou ‘hijack’, slim mense noem dit ‘flooding’… interessant genoeg vandat ek daarvan geleer het, herken ek dit maklik in myself en my huismense. En as jy dit herken kan jy mos verseker iets daaraan doen! Wat gebeur tydens ‘flooding’? jou dink-brein wil nie dink nie, gits jou brein wil nie lekker brein nie… Jy hoor of verstaan nie lekker nie, empatie vir alles en almal vlieg by die deur of seker eintlik jou ore uit, jy is só onlogies, niks wat jy dink of sê maak sin nie… en almal om jou lyk skielik soos ‘n teenstander of ‘n vyand. En natuurlik is jou emosies die vlak vol!

Herken jy jouself in hierdie beskrywing? En hoor hier, jy hoef nie te skrik om so te voel nie, jou maat kan net iets sê wat jou in daardie oomblik laat onveilig voel het… en jy wil terugbaklei, en jy gaan nie omgee oor gevoelens wat in die slag bly nie.

So hoe gemaak? Hoe help ek my arme Amygdala om die vloedwaters reg te kanaliseer? Jy loop weg, jy gee jouself kans om net tot verhaal te kom, om net weer jou gedagtes logies te orden. Wat jy wel asb. eerder nie moet doen nie, is om betrokke te raak in ‘n woord-oorlog, want mense en jyself gaan seerkry, wanneer ons die vloedwaters probeer keer en herlei met emmertjies, dan kan ons nie terselftertyd woorde gebruik nie.

En alhoewel jou Amygdala ‘n belangrike funksie het, om jou veilig te hou, praat ek deesdae met my Amygdala wanneer ek voel hy oorreageer nou totaal en al. En dit klink so bietjie so:

Liewe Amygdala, ek weet nie of jy weet nie, maar God het my geskape om te oorleef, om trauma en ongemak te deurleef en steeds okay te wees. Sover is ek bly om te kan sê ek het 100% van alle, uitermatige slegte dae in my lewe oorleef.

So… rustig, rustig, rustig Amygdala. ‘This too shall pass…’ haal net ‘n slaggie diep asem. Slegte tye sal kom en gaan, en onthou… ons is al hierdeur.

Ja, ja, ek weet jy hou nie van verandering nie, jy hou van veilig wees en veilig voel, ek ook, maar ek weet ook dat God sê: Ek is tot alles in staat omdat my krag van HOM afkom. Per implikasie, beteken dit ook jy!

Onthou dis net ‘n toets, net ‘n pap wiel, net ‘n onderonsie… jy gaan okay wees! Liewe Amygdala, ‘heads up’, al die gedagtes wat aangaan in my hart en kop is nie feite nie hoor, dis emosies en gevoelens, en ons albei weet wat die Woord van God sê oor ons hart. Die hart is bedriegliker as alles, dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? (Jer. 17:9 [2020])

So Amygdala, jy is dierbaar om so besorg te wees oor my veiligheid, maar regtig, jy sal moet rustiger raak! Hoor eerder wat God se woord sê en neem dít ter harte.

Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! (Ps. 139:17) Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus (2 Tess. 3:5)

Ek los jou vandag met hierdie kosbare versie en dis sommer my gebed vir jou; so alles in een!

And the peace of God [that peace which reassures the heart, that peace] which transcends all understanding [that peace which] stands guard over your hearts and your minds in Christ Jesus [is yours]. (Phil. 4:7 [AMP]

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *