1 Korintiërs 13

Nou wys Ek jou wat nog die allerbeste is.

Die liefde is geduldig, wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar. (Kol. 3:13) As jy net dié liefhet wat vir jou liefhet, watter loon kan jy dan nog verwag? (Matt. 5:46) Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. (Ef. 4:2)

Die liefde is vriendelik, wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar. (Ef. 4:32) ‘n Mens wat iets vir ‘n ander oor het, baat self daarby. (Spr. 11:17)

Die liefde is nie afgunstig nie, teen jaloesie is niemand opgewasse nie. (Spr. 27:4) Julle wil dinge hê, julle is jaloers op ‘n ander mens se goed. (Jak. 4:2) Sê My wet nie juis jy mag nie begeer nie? (Eks. 20:17)

Die liefde is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid. (Spr. 11:2) Ek het ‘n afsku aan ‘n verwaande mens. (Spr. 16:5) Liefde en trou bring versoening waar daar verkeerd gehandel is. (Spr. 16:6)

Dit liefde handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, jy liewe kind, moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Jy moet inskiklik wees en altyd bedagsaam wees teenoor almal. (Tit. 3:2) Die vrug van die Gees is juis liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Gal. 5:22)

Die liefde is nie liggeraak nie, dit hou nie boek van die kwaad nie. Sien na mekaar om en spoor mekaar aan tot liefde en goeie dade. (Heb. 10:24) Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie, moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar. (Ef. 4:31-32) Wie ‘n saak bly ophaal bring verwydering tussen mense. (Spr. 17:9)

Die liefde vebly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Laat My waarheid jou lei in liefde. (Ps. 25:5) Praat die waarheid met mekaar. (Sag. 8:16) Liewe kind, laat jou liefde nie net woorde en lippetaal wees nie, maar bewys jou liefde aan ander met daad en wees opreg. (1 Joh. 3:18)

Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Wees eengesind: een in liefde, een van hart, een in strewe. Jy moenie net aan jou eie belange dink nie liewe kind. (Fil. 2:2-4)

Hê lief liewe mensekind, want Ek het jou eerste liefgehad. (1 Joh. 4:19) Waar liefde is, is daar geen vrees nie, want volmaakte liefde verdryf vrees. (1 Joh. 4:18)

En nou:
Geloof, hoop en liefde bly,
Hierdie drie.
En die grootste hiervan is
Die liefde

2 Replies to “1 Korintiërs 13”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *