Die Werklike Gelukkiges…

Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van My is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:3)

In jou afhanklikheid, vertrou net volkome op My en moenie op jou eie insigte staat maak nie. (Spr. 3:5) Moenie jou bekommer oor môre nie, elke dag bring genoeg moeilikhied van sy eie. (Matt. 6:34) Onthou: vir My het jy altyd naby jou. (Ps. 16:8) Ek is jou sterkte liewe kind, aan My behoort jy vir altyd. (Ps. 73:26) Moenie van My af wegdraai nie…  (Ps. 80:19) Ek hoor wanneer jy na My roep… (Ps. 130:2)

Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. (Matt. 5:4)

Jou ellende gaan nie ongemerk by my verby nie, Ek let op jou trane. Ek sien elkeen van hulle raak. (Ps. 56:9) Ek is naby aan jou My kind. Naby aan jou met die gebreekte hartjie. (Ps. 34:19) Ek help jou op wanneer jou verdriet jou laat struikel. (Ps. 145:14) Kom nader liefste kind, laat My toe om die traan van jou wang af te vee. (Openb. 21:4)

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. (Matt. 5:5)

Jy liewe kind na aan My hart, jy moet streef na geregtigheid, na nederigheid! (Sef. 2:3) Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart. (Matt. 11:29) Jy is uitverkies! Ek het jou baie lief! Daarom moet jy meelwend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. (Kol. 3:12) Weet jy wat het by My groot waarde kind? Blywende beskeidenheid en kalmte van gees. (1 Pet. 3:4)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. (Matt. 5:6) 

Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. (Jes. 32:17) As jy weet wat die regte ding is om te doen, en jy doen dit nie, is dit nie sonde nie? (Jak. 4:17) Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12:21)

Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. (Matt. 5:7)

Wees barmhartig soos Ek, jou Vader, barmhartig is. (Luk. 6:36) Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie liewe kind, leef daarmee saam, maak dit ‘n deel van jou lewe.  (Spr. 3:3) Kind, Ek het aan jou bekend gemaak wat goed is; Ek vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam voor My, jou God sal lewe. (Miga 6:8) Wees jý die barmhartige samaritaan wat nie ander pad gekyk het nie. (Luk. 10:25-37)

Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. (Matt. 5:8)

Jý wie se hart rein is, wie se hart suiwer is. Vir jou sal Ek seën, Ek jou REDDER, sal reg aan jou laat geskied. (Ps. 24:4-5) Jou liefde moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling, wees sensitief vir ander se pyn, sodat jy die dinge kan onderskei wat werklik belangrik is. (Filip. 1:9-10)

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, liewe kind, beywer jou eerder vir die belange van alle mense. (1 Thes. 5:15) Beywer jou vir vrede met alle mense. (Heb. 12:14) Die vrede wat Ek jou gee, moet in jou lewe die deurslag gee. (Kol. 3:15)

Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matt. 5:10)

Kind na aan My hart, wees bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van My. (2 Kor. 12:10) Tel op jou kruis … volg My. (Luk. 14:27) Hoor wat Ek vandag vir jou sê, sodat jy vrede kan vind in My. In die wêreld sal jy dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin… vir jou. (Joh. 16:33)