
Doen wat jy kan… En God sal doen wat jy nie kan nie, niks is vir Hom ontmoontlik nie, niks is vir Hom te moeilik nie.
Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” (Matt. 19:26) NIKS is vir God onmoontlik nie. (Luk. 1:37)
Weet jy wat is soms ‘n probleem my liewe vriendin? Soms net vir ‘n moment van asem ophou, van in die midde van die woestyn wees, van raadop, moedeloos, magteloos wees, vergeet ek en jy WIE HY is. Vergeet ons Hy is die God van wonderwerke, van die onmoontlike. Vergeet ons heeltemal van die versie wat skree: Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee. (Filip. 4:13)
God is in die detail, ja in die groot, onmoontlike goete, maar jy gaan Hom ook vind in die detail, die klein goedjies, die persoonlike, alledaagse goedjies. Onlangs moes ek by die skool ‘n lokaal vind vir twee skole om saam te bid vir interskole, en uit die aard van my persoonlikheid besluit ek om sommer lekker vroeg te begin navraag doen. Paar daggies voor die tyd, nog geen lokaal in sig, want die skool is besig en daar gebeur net so baie goed op een slag. Die ding is, gasvryheid is vir my verskriklik belangrik, en mens wil mos darem in die koue nat Kaapse winter ‘n warm koffie of tee aanbied, en ten minste darem ‘n lekker muffin ook, maar as gevolg van omstandighede besluit ons klompie sappies en muffins sal dit moet wees, maar ai, koue sap op ‘n koue nat dag…
Ek begin naarstigtelik soek na alternatiewe spasies, ons is lekker baie mense wat wil saambid, eers dink ek sommer by ‘n huis, maar hoe pas mens soveel mense in? Die koffie winkeltjie naby die skool is bitter oulik, maar ook bitter klein. Ek begin dink ons sal maar in die parkeer terrein van die skool moet bid, in ‘n lekker nat koel 7◦C… maar soos gewoonlik is al die spoeg en spartel pure verniet.
Ons bly bid vir die regte lokaal en twee dae voor die tyd laat weet die Juf van die skool, sy het die perfekte lokaal! Ons kan by die koshuis bid, daar is genoeg plek vir almal, en hulle sal sorg vir koffie/tee en muffins, want sien vriendin, God is in die detail.
Wanneer jy wil hê God moet die onmoontlike doen in jou lewe moet jy… mosterdsaadjie-geloof hê: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en jy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Matt. 17:20)
…moet jy bid en nie in jou hart twyfel nie: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. (Mark. 11:23-24)
… moet jy Hom ken in alles wat jy doen. (Spr. 3:6)
…moet jy vir geen oomblik jou oë van Hom af neem nie, vra vir Petrus, hy kan getuig wat gebeur as jy jou oë van Jesus afhaal vir ‘n oomblik!
… moet jy onthou: Jou krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15)
God is looking for those with whom He can do the impossible- what a pity that we can plan only the things that we can do by ourselves. (AW Tozer)
Wanneer die onmoontlike wel in ons lewens gebeur, dan moet ons nie wonder nie, ons moet weet, ons moet soos Petrus die eggo van die stem van Jesus oor die water hoor aankom: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” (Matt. 14:27)
Ek het sommer gedink aan waar in die Bybel was daar mense wat afhanklik was van God se genade, wat die onmoontlike gebeur het… wat die bonatuurlike beleef het en eintlik is daar te veel om op te noem, maar elkeen het mos sy gunstelinge?
In Eksodus 14:14, net voor die Here die see oopkloof, net voor die onmoontlike gebeur sê die Here vir Moses: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red… Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”
En onthou jy vir Daniël en die troppie leeus? En die engel met die sleutel, wat hulle bekke toegesluit het? Daniël 6 vers 24 sê: Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.
Dan was daar Nebukadneser wat wit was van woede oor drie jong latte nie voor sy mensgemaakte godjies wou buig nie. Die vuuroond was hulle voorland… maar voor hulle gewillig in die vuur gegooi is, was hulle woorde as volg: Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag, (hulle vertoue God wat die onmoontlike kan verrig) … en die mooiste deeltjie… selfs as Hy dit nie doen nie… sal ons steeds nie die beeld aanbid nie. (Daniël 3:17-18)
Josua beveel die son en die maan om stil te staan. Josua 10:13, Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ‘n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. (14) Die Here het vir Israel die oorlog gevoer. Josua het gevra, en God het die onmoontlike verrig. Die son het in die hemelruim bly hang, ‘n stille getuienis van God wat namens Israel die oorlog voer.
So is daar nog hordes voorbeelde van God wat die onmoontlike doen, God wat die deur van die ark toemaak sodat Noag se familie kan oorleef, Manna wat op die grond lê, 5 broodjies en 2 vissies en hopeloos te veel mense, dooie Lazarus wat lewend word…
Vriendin ek ken nie die onmoontlike in jou lewe nie, miskien is dit siek, finansies, ‘n huwelik wat wil verbrokkel, verlore kinders, ‘n onmoontlike werksituasie… wat dit ookal is… gee jou onmoontlikheid vir die God wat alles voor moontlik is. Hy sal hoor, Hy sal luister, Hy sal betyds opdaag… vra maar vir Lasarus.
Miskien moet dit een of ander tyd, vir altyd tot ons deurdring, en miskien, net miskien kan ons soos Job met oortuiging getuig: “Nou WEET ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” (Job 42:2) maar nog meer nog as dit. Ek weet wie U is! U is die God van die onmoontlike, my God, my Vader, my Verlosser.
Keep your faith high and expect God to do the extraordinary! Your impossible situation doesn’t intimidate God one bit. (Anonymous)

Dankie vir jou mooi en bemoedigende boodskap! Ek het hom vandag nodig gehad.
Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag.! Ps. 31:25🌸
Amen en Amen.
Baie dankie vir jou bemoedigende boodskap. Die Here is groter as enige situasie ondanks hoe onmoontlik dit lyk.
Amen 🙏
Dankie Martha! Nou kan ek weer vorentoe – ook nie die eerste keer wat jou Woord die kol tref in my week nie. Waardeer! 🤗🙌
Mag jou vorentoe vol goedheid en guns wees! 🌸