
God is the archetypal Father; all other fatherhood is a more or less imperfect copy of His perfect fatherhood.
(FF Bruce, Scottish Bible Scholar and writer)
Sien jy die woorde ‘imperfect’, God verwag nie perfeksie van aardse Vaders nie, Hy verwag wel dat Pa’s hulle onperfektheid na Hom sal bring… sodat Hy met liefde en wysheid vir hulle die voorbeeld kan wees.
Ek het bietjie ‘n paar statistieke gaan naslaan: https://nickcady.org/2016/06/20/the-impact-on-kids-of-dads-faith-and-church-attendance/ jy kan hier die artikel gaan lees, maar hier is die mooi deel, die belangrike deel: wanneer ‘n kind in ‘n huisgesin bekeer en ‘n christen word, sal 3.5% in die gesin sy/haar voorbeeld volg. Wanneer die ma tot bekering kom sal 17% haar volg en ook die christelike geloof aanhang, MAAR wanneer ‘n Pa die eerste bekeerling in die gesin is sal 93% van die gesin hom volg.
Die enigste perfekte Pa wat bestaan is my en jou Pa in die hemel… maar wanneer ‘n aardse pappa leer om aan sy hemelse Abba se lippe te hang, dan sal jy tog Sy glans en heerlikheid in daai einste Pa kan eien en raaksien. Dan maak dit van hom ‘n Goeie Pa!
So aan watter eienskappe moet ‘n goeie Pa voldoen?
‘n Pa moet tot oorlopens gevul wees met God se liefde, en dit moet oorloop na sy kinders en vrou toe. ‘n Goeie Pa is emosioneel teenwoordig en is daar vir sy kinders, deur elke rugby wedstryd, deur die 4 ure prysuitdeling, deur die koor optredes…
‘n Pa wat goed is moet goed kan keer, en vang en ondersteun. Hy moet die vangnet vir sy kinders wees, ‘n veilige spasie waar hulle talente en menswees gevier word. Hierdie Pa hou sy kinders veilig in ‘n onderstebo wêreld. Fisiek, emosioneel en finansieël.
‘n Goeie Pa is konsekwent en regverdig. Sy dissipline kom uit ‘n liefdevolle hart, nooit uit woede nie. Hierdie Pa ken ook die woord genade goed… want hy besef, ons almal kort stuk-stuk brokkies genade uit die hemel uit, en wie beter om dit uit te deel as juis ‘n Pa?
‘n Goed-genoeg Pa is ‘n goeie rolmodel… ‘n Goeie Pa kan voorloop tot in die hemel… Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg. (1 Kor. 11:1) Hy glo hierdie versie en hieraan hou ‘n goeie pa vas. Hierdie rolmodel pa loop voor met wat hy doen, met wat hy sê, hy leef die waardes uit wat hy in sy eie persoonlike kindertjies wil sien. Dis hy wat hulle leer van eerlikheid, respek, integriteit en hoe om hard te werk.
‘n Pa wat goed is en goed doen en navolgingswaardig is weet baie goed nie net in sy kop nie, maar ook diep in sy hart, sy kinders sal hom volg wanneer hy hulle wys wat om te doen, hoe om dit te doen. “Doen wat ek sê, moenie doen wat ek doen nie…” dit werk eenvoudig nie vir ‘n goed-genoeg Pa nie.
Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie. (Spr. 22:6) Dis die mooiste belofte, en miskien sal ‘n kind soms die pad bietjie byster raak, maar sy Pa se woorde en dade sal hom weer terugtrek tot op daai einste pad wat hy moet loop.
‘n Pa het ‘n goeie oor nodig… al ly hy soms bietjie aan selektiewe doofheid… leer hy om te luister, na dit wat gesê word, maar ook dit wat ongesê bly. Hy kan lees tussen die lyne van tiener-ongelukkigheid en jong volwassene struikelinge en onsekerhede. Hy het vroeg-vroeg al geleer, toe sy kindertjies nog klein en engelagtig was, om met aandag te luister, om nie te vinnig af te sny nie, om nie te vinnig te oordeel nie.
Wees ‘n stereo Pa: jou een oor by God se mond en die ander by jou kind se hart. So bly jy in pas met God se pas vir elke kind.
(Gary Smalley)
‘n Pa wat sy beste wil doen en wees… het lank terug al die vrug van die Gees op sy hart geskryf, en al kry hy dit nie elke liewe dag so heeltemal reg nie, hou hy nooit op om te probeer om beter te wees nie. Streef hy na liefde, blydskap, vrede, geduld (veral geduld), vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. (Gal 5:22-23) En dit leef hy nie net uit teenoor die mense naby sy hart nie, maar teenoor almal wat daagliks oor sy pad beweeg.
‘n Pa wat goed is met die hele Pa-besigheid, besef die waarde van betroubaarheid en getrouheid. Kinders hang aan hierdie pa’s se lippe en arms, want hulle weet op hierdie pa van my kan ek staatmaak, hy sal opdaag, hy sal altyd daar wees vir my as ek hom nodig het.
‘n Goeie Pa is lojaal… lojaliteit teenoor sy gesin is sy prioriteit, ook wanneer dinge moeilik gaan. ‘n Lojale Pa stel sy gesin eerste, en opgee is nie in sy woordeskat nie, hy hou aan baklei vir sy gesin, vir herstel, vir liefde vir heelheid.
‘n Pa wat sy sout werd is moedig selfvertroue in sy kinders aan, hy moedig sy kinders aan om aan te hou, moed te hou, hy verseker hulle oor en oor. Jy kan dit doen. Jy is genoeg. Jy is geliefd. Glo in jouself soos wat pappa in jou glo!
Gebed vir ‘n Goeie Pa.
Here, ek dra die Pa’s van Afrika aan U op.
Maak hulle skouers sterk,
Maak hulle harte ruim,
Gee aan hulle elkeen elke dag se genoeg-genade.Wees met elke Vader wat loop onder die Afrika-son,
Versterk hulle harte,
Vul hulle wese met U vrede,
Laat U insig en wysheid hulle vooruit loop…Wees goed vir ons Pa’s Liewe Heer,
Tel hulle op wanneer hulle swaarkry beleef
Dra hulle naby U hart wanneer hulle moeg raak.
Here ek dra die Pa’s van Afrika aan U op.AMEN

Pragtig geskryf Martha. Amen 🙏