Ek sal vra, antwoord jy My!

In die begin het Ek die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, My GEES het oor die waters gesweef. Toe het Ek gesê: “Laat daar LIG wees!” En daar was lig. (Gen. 1:3) Op die sesde dag het Ek die mens geskape, as My verteenwoordiger, na My beeld het Ek jou geskep. (Gen. 1:27) Van die skepping van die wêreld af kan jy mensekind uit My werke duidelik aflei, dat My krag ewigdurend is en dat Ek waarlik God is. (Rom. 1:20)

Voordat die berge gebore is, voordat Ek die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is Ek God! (Ps. 90:2) Ek het die hemele met My eie hande gemaak. (Ps. 102:26)

Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie, want Ek sal vir jou ‘n ewige LIG wees. Ek is jou son en maan, Ek gaan nie onder nie en word ook nie dof nie. (Jes. 60:19-20) Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie. (Jes. 43:10) Wat Ek doen kan niemand ongedaan maak nie. (Jes. 43:13) Het jy nog nie gehoor nie? Ek is die ewige GOD, My insig is ondeurgrondelik. (Jes. 40: 28) Met wie kan jy MY vergelyk, wie is soos Ek? (Jes. 40:25)

Wie gee vir My raad? (Rom 11:34) Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die fondamente gelê het? Wie het die aarde afgemeet? Het jy al rondgestap op die bodem van die diepsee? Kan jy ‘n beeld vorm van die groot wye wêreld? Wie gee insig aan die haan om die nuwe dag aan te kondig? (Job 38) Wie gee vir ‘n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na My, rondskarrel vir iets om te eet. (Job 39:3)

Ek is die EERSTE, en wanneer die LAASTE dinge gebeur, sal ek nog die Here wees! (Jes. 41:4) Die hele aarde is vol van My magtige teenwoordigheid. (Jes. 6:3) Nou weet jy dat Ek tot alles in staat is en dat Ek kan uitvoer wat Ek besluit. (Job 42:1) Tot nou toe het jy net gehoor wat mense van My sê, maar nou het jy My self gesien. (Job 42:5) Ek, die Here, het nie verander nie. (Mal. 3:6) Ek is nie ‘n mens dat Ek sou lieg nie, ‘n mens dat Ek van gedagte sou verander nie. (Deut. 23:19)

Ek is die Here, die God van alle mense. Is iets vir My onmoontlik? (Jer. 33:27) Ek is oral in die hemel en op die aarde. (Jer. 23:24) Ek is lankmoedig maar My krag is ook groot: wolke is die stof onder My voete. (Nahum 1:3)

Ek, die ewige God, is ‘n skuilplek, My arms is altyd onder jou liefste kind. (Deut. 33:27) Ek is jou toevlug en jou veilige vesting, dié EEN op wie jy kan vertrou. (Ps. 91:2) Ek is jou ROTS, My werk is volmaak, alles wat Ek doen, is regverdig. Ek is getrou, sonder onreg, regverdig en betroubaar. (Deut. 32:4) Met My hulp loop jy ‘n oormag storm. (Ps. 18:30)

Wat ‘n oorweldigende gedagte… Ek omsluit jou van alle kante, Ek neem jou in besit. (Ps. 139:5-6) Ek sien dwarsdeur jou, Ek KEN jou. Ek ken jou gedagtes nog voor hulle by jou opkom. Met al jou paaie is Ek welbekend liefste kind!. (Ps. 139:1-3)

Ek sal vra, antwoord jy My!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *