
Betekenis: Iemand wat partye met mekaar probeer versoen.
Draadsitter, skeidsregter, onderhandelaar, mediator … die eintlike woord wat ek soek is bemiddelaar. Hierdie selfopgelegde takie het my op ‘n stadium op en gedaan gemaak. Miskien is dit die abnormale glo dat ander mense se verhoudings my verantwoordelikheid is! Ek weet nie! Ek weet nie eers waar ek daaraan kom nie… Miskien is dit die feit dat verhoudings vir my kosbaar is en dat ek mos regtig nie van konflik hou nie. Sit net nog nooit lekker in my hart en siel nie…
Die verhoudings wat by verre vir my die belangrikste is (waar ek probeer bemiddelaar speel) is die ene tussen Pa en Dogter. My man en my girls… miskien is dit ‘n ma ding? Dis vir my so ‘n kosbare kommoditeit- as ‘n Pa en dogter(s) ‘n mooi verhouding het. En hier is die ding… hulle het eintlik ‘n verskriklike mooi verhouding…
Wat ek toe agterkom, so met tyd, is dat hierdie selfopgelegde takie van in die middel wees, vir my ongelooflike stres veroorsaak, en nie net dit nie, dit het ook die verhouding tussen my en my man begin beïnvloed. Nie op ‘n groot manier nie, maar is dit nie juis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel nie? Ek het besef ek maak skade aan die een-heid van ons huwelik. Ek praat teen die ons… want ‘n huwelik was nooit bedoel om ek en jy te wees nie…
So ek het baie goed geword om by die twee betrokke partye oor en weer verskonings te maak. As die tiener kwaai en moeilik is… dan het ek ten minste 5 verskonings byderhand, as Pappa moeg gewerk is en spanning by die werk het… selfde storie… hierdie Ma is ten alle tye reg om te keer, regop te hou, te herstel. Tot my eie nadeel natuurlik.
Vriendin en as jy jouself sien in hierdie eerste paar paragrawe… stop dit! Hou op daarmee, ek en jy is nie verantwoordelik vir ander se verhoudings nie. Eintlik ontneem ons, veral ons kinders die geleentheid om die hier en daar se konflik te hanteer en uit te sorteer. Ek het ‘n laaannngg gesprek met my wederhelfte gehad, met ‘n paar trane tussen-in. Ek het onderneem dat ek hard sal probeer om nie meer die bemiddelaar te wees nie. En was dit maklik? Gits verseker nie, dit het al so natuurlik gekom, die verskoning-soekery dat dit ampertjies al deel was van my.
Was dit ‘n verligting? ‘n Geweldige groot verligting om hierdie selfopgelegde verantwoordelikheid terug te gee… wanneer een kom vra is Pappa kwaad vir my? Dan trek ek my skouers op, byt op my tong en sê: Mamma weet nie, gaan vra vir pappa. Wanneer ek voel daar is ‘n krapperigheid onder die klomp, dan los ek hulle om dit self uit te sorteer.
Het daar die afgelope paar maande iets groots gebeur, het verhoudings skade gelei omdat ek my bemiddelaarspos ontruim het? Glad nie, inteendeel ek het net weer agtergekom my man is regtig goed met die Pappa-besigheid. Sy hart is juis verhoudings.
So miskien moes jy net dit hoor vanoggend vriendin. Jy is nie verantwoordelik vir ‘n ander se verhouding wat werk, of nie werk nie. Moenie jouself moeg maak met ‘n las wat nie joune was om te dra nie. Jy is niemand se bemiddelaar nie, jy het net nodig om te konsentreer op die verhoudings om jou.
Vir die verhoudings waarvoor ons wel verantwoordelik is, kom ek en jy gee daar ons alles. Om onvoorwaardelik lief te hê, om die woorde wat ons KIES om te gebruik fyn te kies, want “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.” (Spr. 15:1)
Ek het ‘n paar versies gaan oplees oor verhoudings, gesindhede en die moets en moenies van verhouding. Ek deel dit met jou: mag dit die riglyne wees waarvolgens ek en jy ons verhoudings gesond hou. Of dit ma-dogter, pa-seun of huweliksverhoudings is… (Al die vers-aanhalings kom uit die 2020 vertaling- dit is vir my ‘n baie mooi vertaling…)
Elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ‘n mens bewerk nie die geregtigheid voor God nie. (Jak. 1:19-20) Sjoe vriendin hoe mooi is dit?
Laat alles wat julle doen in liefde geskied… (1 Kor. 16:14) Julle liefde moet ongeveins wees. (Rom. 12:9) Verdra mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid. (Ef. 4:2) Laat ons eerder mekaar aanmoedig. (Heb. 4:25)
Wanneer jy praat met iemand wat jy liefhet… wees attent hierop: Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. (1 Kor. 13:4-6)
Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle… (Luk. 6:31) en bemoedig mekaar. (1Thes. 5:11) Verdra en vergewe mekaar. (Kol. 3:13)
Laat God toe om jou deur ander mense lief te hê, en laat God ander deur jou liefhê. (DM Street)

Ek het die stukkie geniet, want ek het self in my hersaamgestelde gesin hierdie bemiddelaar rol opgeneem. ‘n Vriend het toe opgemerk ek tree op soos die kondukteer van ‘n orkes en hy dink nie dit werk nie. Hy het my herinner dat elke verhouding tussen twee mense is en dat hy dink ek daaruit moet bly. Al het die waarheid seergemaak was dit waardevol en op die regte tyd.
Wonderlike raad van ‘n wonderlike vriend! Dis vir my so mooi, ek kan nogasl die prentjie van die kondukteer sien!!
Elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ‘n mens bewerk nie die geregtigheid voor God nie. (Jak. 1:19-20)
So mooi Martha!! Baie dankie vir die mooi stuk. Gesëende naweek vir julle ❤️❤️🙏🙏
Dit is die mooiste skrif! Dankie Lien, ek waardeer en sien altyd uit na jou boodskappies!
Dis so maklik om daardie takie op te neem. Dankie dat jy my ook attent gemaak het op dit. Liefde Orne
Dankie vir jou boodskappie liewe Orne! Ek is net bly ek is nie die enigste ene wat met al hierdie mamma-dinge sukkel nie.