Ek is die ander oggend by die skool besig om saam met ‘n paar ander mammas vir die onnies cupcakes, versies en capachino sakkies uit te pak. Om een of ander rede was die tweede kwartaal van hierdie jaar net lekker woes. Dit was so lekker om net saam met ‘n paar mammas te gesels, en grappies te maak… ek stap uit, en net voor ek ry, gooi ek net gou ‘n oog op my selfoon wat op ‘stilte’ was. Ek sien een van my hartsvriendinne het probeer bel, en sommer toe ‘n stemborrel gelos.
Ai en daar verander ‘n goeie Vrydag eensklaps in ‘n hartseer ene. Een van ons Graad 11 bid-mammas is skielik oorlede… en jy weet mos die aanvanklike verdwaasdheid en amper ontkenning… dit kan mos nie wees nie.
By die eerste links draai vergeet ek toe heeltemal om my flikkerlig aan te sit, en die man in die groot bakkie agter my is toe nie so heeltemal beϊndruk met my nie. Eers wys hy vir my met vingertjies wat skiet, jy weet mos, in kinderkrans as ons die liedjie sing wat sê: ja, die kindergesiggies, soos die sterre se liggies, selfde beweging, ander betekenis, en net om sy punt mooi af te sluit, net vir goeie ‘measure’, gooi hy vir my ‘n middelvinger ook, nou kyk, ek weet ek moes my flikker gebruik het, ek was verkeerd, maar in daai spesifieke oomblik sou ‘n klein bietjie genade só welkom gewees het.
Carry one another’s burdens and in this way, you will fulfill the requirements of the law of Christ [that is, the law of Christian love.] (Gal. 6:2 AMP)
Vriendin, die waarheid is, ons kort almal genade so nou en dan! Net Jesus ken ons almal se stories, en Hy het genade onbeskryflik groot met elkeen van ons… hoekom sukkel ons so om genade met mekaar te hê? Ek en jy ken nie almal wat oor ons pad kom vandag, se storie nie. Ons weet nie die dametjie agter die Checkers-till is ‘n enkel-mamma wat spartel om kop bo water te hou nie.
Ons weet nie die omie wat in die ‘vinnige’ baan hopeloos te stadig ry het so pas gehoor sy vrou is dood nie. Ek en jy weet nie dat die dametjie met die deurmekaar hare, wat 5 min laat kom vir die gym klas, se outistiese seun het ‘n vloermoer van note gegooi 15-minute vantevore toe sy hom by die skooltjie moes los, waar hy nie wou wees nie. Ek en jy weet eenvoudig nie, en juis in die nie-weet-nie, moet ons genade hê met almal om ons, want weet jy, Jesus vereis dit van my en jou.
Ek glo aan die blinde sambok, ek glo aan die versie wat sê: Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. (Luk. 6:31)
Lank terug toe ousus nog in die Laerskool was, net na die gebedsgroepie op ‘n Donderdagoggend, stop ek gou by die Pick ‘n Pay en ek beland agter ‘n mamma wat nounet saam gebid het in die tou by die kassier. En my mond het oopgeval oor die manier waarmee sy met die kassier gepraat het, ek kon nie glo dis presies dieselfde mensie wat nou-nou net, so paar minute terug, so-so mooi, opreg en innig met haar Vader in die hemel gepraat het nie.
Out of the same mouth we pour out words of praise one minute and curses the next. My brothers and sisters, this should never be! (James 3:10 TPT) Be devoted to tenderly loving your fellow believers as members on one family. Try to outdo yourselves in respect and honor of one another. (Rom. 12:10 TPT)
Vanoggend toe ek wakker word, toe lê en dink ek aan die mens oor die algemeen wat altyd reg is om oordeel oor alles en almal uit te spreek, want kom ek en jy wees eerlik met mekaar, oordeel vloei makliker uit ons hart en oor ons lippe as wat genade doen. Genade vat dink en werk! Ek dink toe sommer waar in die Bybel staan Jesus se genade uit… eintlik oral nê? Miskien staan dit ‘n ekstra bietjie uit by die vrou by die put in Johannes 4. Hoekom vra Jesus vir die Samaritaanse vrou water? Want met haar het Hy ‘n goddelike afspraak gehad, en Hy het die storie van haar hart geken, Hy het die dors in haar gees en siel vir Sy lewende water, raakgesien! Sy het Sy genade nodig gehad! Haar lewe het letterlik van Sy genade afgehang…
Vriendin, ek wonder wat sou ons met die vrou by die put gedoen het? Haar geoordeel het? Wye draaie om haar gestap het? Want haar lewe is nie juis ‘n getuigskrif van ‘n ‘goeie’ vrou nie, sy is reeds op haar vyfde man, wat ook nie haar man is nie. Gun wonder sy het verkies om stoksielalleen put toe te loop nie, gun wonder sy het eerder die woestyn-son in die middel van die dag op haar kop getrotseer as die mede watersoekers en -draers nie.
Konteks en perspektief is soms wat ek en jy kort en broodnodig het, ek heg die video’tjie aan van Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, hou maar ‘n tissue’tjie byderhand.
So vandag wil ek eintlik sê-vra: Genade toggie, kan ons as kinders van dieselfde God, nie groot asseblief net bietjie meer genade vir mekaar hê en wys nie? En luister as jy nie vandag die genade-ding mooi reggekry het nie, probeer weer môre, ons almal het maar daardie dae wat jou eie storie en gemoed ‘n groot faktor speel in hoe jy optree en praat en die nie-genoeg genade wat jy rondom jou beleef nie.
Onthou Jesus se genade is elke dag vir jou genoeg, selfs wanneer jy swak en onwaardig voel!! Maar Sy genade is ook vir my genoeg al vergeet ek van flikkerligte met die afdraai-slag, Sy genade is genoeg vir die vrou agter die Checkers-till, en die stadige omie in die regterkantste baan en die mamma met die deurmekaar hare by die gym.
Dankie vriendin weereens vir n mooi diep boodskap. Mag ons elke dag en oomblik meer genade met mekaar hê. 🙏🙏