Met Uitgestrekte Arms.

Ek kyk weer die ander dag bietjie die foto albums deur en kry ‘n kosbare foto van kleinsus wat hier tussen hemel en aarde in ‘n foto vasgevang is. Toe die girls baie kleiner was, het Jannie hulle altyd so lekker hoog in die lug op gegooi, dit was vir hulle vet pret, die armpies vol dimpels, uitgestrek in die lug, sorgvry. Oopbek skatterlaggies en mooi smeek-vra: “Nog, nog!” Hulle is nie eers vir ‘n oomblik bekommerd dat hulle pappa mis kan vang nie.

Ek loop so vir ‘n paar dae met die uit- en oopgestrekte arms-tema in my hart rond, en besef daar was ‘n Pa wat ‘n verlore seun met oopgestrekte arms tegemoet geloop het in die Bybel. Dag na dag het hy gewag, op die uitkyk vir sy verlore seun. Geduldig. Uitgestrekte arms vol verligting oor ‘n seun wat uiteindelik tuis is, arms wat sê: Ek vergewe jou!

Wat beteken oopgestrekte arms? Dit beteken maar net jy is welkom, jy is geliefd, jy is kosbaar genoeg om teen my hart vas te druk.

Daar is so met-uitgestrekte-arms versie in die Woord. Want ŚÓ lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh. 3:16 1953) Sien jy dit vriendin, ‘n God wat jou ŚÓ lief het…  uitgestrekte arms, in afwagting, gereed vir jou om net in Sy arms in te val.

Sjoe! Toe stop dit nie daar nie, ons, die mensdom, gaan spyker toe onwetend, Sy enigste Seun vas aan ‘n kruis, met uitgestrekte arms… want sien dit was hoe lief Jesus jou het. Met uitgestrekte arms aan ‘n bloederige kruis, vat Hy jou sondes op Sy skouers. Vriendin, dit was vir Hom swaar, dit was swaar genoeg dat Sy skouers dislokeer, Sy ligamente, spiere trek en skeur, dat die asem nie meer gemaklik in en uit Sy longe kon beweeg nie.

Sy liefde vir jou is steeds groter as die pyn, want sien Hy weet dat Sy Vader vir Hom dadelik meer as twaalf legioene engele beskikbaar sal stel om Hom van die kruis af te haal. (Matt. 26:53) Daar is ‘n uit!!! Maar Hy vat dit nie, Hy doen dit nie, want wat dan van my en jou… die hele wye wêreld? Sy uitgestrekte arms ‘n getuienis, ‘n teken van ‘n liefde só groot dat woorde dit nie eers kan beskryf nie. Hy het die kruis gekies in jou en my plek. Hy het die wêreld ŚÓ lief. Hy het jou ŚÓ lief. Hy het my ŚÓ lief.

Vriendin, het dit nie tyd geword dat ek en jy met alles in ons begin vertrou op hierdie God met die uitgestrekte arms nie? Is Hy nie onveranderlik genoeg, groot genoeg, kragtig genoeg om ons klein aardse probleempies te dra nie? Het dit nie tyd geword dat ek en jy verklaar. “God, ek is 100% afhanklik van U”?

Sy planne vir jou en my was altyd nog net goed, want Hy was nog altyd ‘n goeie goeie God en Vader. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! (Ps. 34:9) Weet jy wat doen ons soms, in ons swaarkry, struikel, moedeloosheid gaan sit ons onself soms aan ons eie tuis-gemaakte kruis. En ons verwag ander moet ons jammer kry… pleks daarvan om net te verklaar. Dit is nou mooitjies genoeg, dit was die laaste strooi. Ek kan nie meer nie… Ek wil nie meer nie… Ek gaan nie meer nie.

Dan vat jy jou bondels en bondels onsekerheid, nie-geliefd-gevoelens, sonde, afhanklikhede, struikelblokke, moedelose stukkies van jou en jy gaan sit dit alles by die kruis neer… en jy los dit daar. Môre vat jy weer alles terug kruis toe wat jy deur die dag weer gaan wegsteel het by die kruis. Tot jou bondels en bondels al minder raak tot daar net ‘n klein bondeltjie oorbly wat jy eendag op ‘n reëndag reg kry om vir goed by die kruis te los… en dan… en dan is jy VRY!

Moenie vergeet nie liefste vriendin: Die ewige God is ‘n skuilplek vir jou, Sy arms is altyd onder jou… (Deut. 33:27) Kan ons dan nie maar weer vandag opnuut besef en verklaar: “U is my toevlug en my veilige vesting, my GOD op wie ek VERTROU.” (Ps. 91:2) 

Kom ons leer om met uitgestrekte arms te leef, op die bergtoppe van ons struikelblokke en probleme te dans saam met ons God… met oop arms… as vrygemaakte, begenadigde dogters van die Allerheiligste God!

5 Replies to “Met Uitgestrekte Arms.”

  1. Dankie HERE dat U Jesus vir ons gegee het om Sy bloed te gebruik, om ons as mens, skoon te was van sondes. Hoe verskriklik onmenslik -maar U is nie n mens nie. U is die allom teenwoordige Gees . Holy Holy Holy. Bo alles – die Alfa en die Omega. Alles wetend. U weet hoeveel mense aan U regterkant en aan U linkerkant gaan staan. U grote opoffering was nie verniet nie
    Want so lief het ons U as kinders van die drie-enige God. Ons loof U met lofliedere met ons hele hart en verstand. Dankie klink na n woord te klein vir n God so Almagtig. Masr ek sê Dankie dat U ons lief het en wil red.

Comments are closed.