So rukkie terug lees ek die volgende vraag op FB raak: Hoekom sê ons so graag Rus in Vrede maar ons sukkel so om te Leef in Vrede? Goeie goeie vraag…
Die engelse oorbekende RIP kom van die Latyns: Requiescat in pace. Wat beteken: May he begin to rest in peace.
RIV (Rus in Vrede) gebruik ons regtig eintlik maar om ons, wat agter bly op aarde, te laat beter voel. Jy sien dit ook baie op grafstene- RIP of dan RIV vir die Afrikaner volkie. My en jou vrede is slegs in Hom te vinde. Hemelse vrede, nie wêreldse vrede nie, want daar is verseker ‘n verskil. RIV gaan niks aan jou saligheid maak as jy ongered is nie, al staan dit ook vir almal om te sien op ‘n baie mooi spierwit grafsteen met ‘n engeltjie op. Jesus is die WEG en die WAARHEID en die LEWE. (en my en jou vrede tot in ewigheid)
So eendag as jy ietsie vir my skryf, laat dit ietsie wees soos:
Jesus was haar vrede en vrede is wat sy elke dag nagejaag het. Innerlike vrede was haar ‘superpower’ op die dae wat sy dit nie weggegee het nie…
Die hart van die mens soek na ewigdurende vrede en geluk-
U het ons vir Uself gemaak, o Here,
en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in U.
(Augustinus)
Wêreldse vrede is vlietend en kan baie maal gekoop word, Jesus se vrede het oor die aarde gespoel met Sy laaste asem uitblaas. Sy vrede het gekom om te bly toe Hy die Heilige Gees vir ons gegee het om in ons harte te bly.
Blessed [content, sheltered by God’s promises] are the merciful, for they will receive mercy. Blessed [spiritually calm with life-joy in God’s favor] are the makers and maintainers of peace, for they will [express His character and] be called the sons of God. (Matt. 5:5,9 AMP)
Sjoe! Hoe mooi! Die makers en onderhouders van vrede… kan dit nie maar ek en jy wees nie vriendin? Ligdraers, maar ook die vervaardigers van vrede wat die karakter van God vir ander wys.
So, klou verbete aan jou innerlike vrede vas, bewaar dit ten all koste, ongeag die storm of omstandigheid, God sal jou ontmoet in die vrede kolletjie in jou hart. Hy wat die God van vrede en liefde is. Die vrede kom omdat vertroue reeds gevestig is, omdat jy weet jy kan die God van die hemel en die aarde vertrou met jou hart en met jou storm. Daar is nie plek vir vrede en bekommernis in jou hart nie, dis of die een of die ander. Kies om die bekommernis op te gee en aan te gee in gebed… kies om die vrede in jou hart te bewaar.
Waar vertroue is, is liefde; waar liefde is, is vrede, waar vrede is, is God. En waar God is, is niks anders nodig nie. (Leo Tolstoi)
Vrede kom nie voor vertroue en liefde nie. Leer heel eerste om God te vertrou met ALLES. Ek het ‘n hele klompie jare terug elke oggend ‘n alarm laat afgaan wat die volgende gesê het: Jy is afhanklik van God. Om daagliks herinner te word dat God goed is en in beheer is, as jy dit 365 keer in een jaar hoor is mens nogals geneig om dit met sekerheid te glo.
En leer om lief te hê… (is dit nie ons groot opdrag van Bo af nie?) eerstens God, dan jouself, en dan ALLE mense om jou… en voor jy jou kom kry het Goddelike vrede ‘n permanente lê-plekkie in jou hart gekry.
Ons sukkel om te Leef in Vrede, want ons offer heeltemal te vinnig die vrede in ons harte op vir haat, baklei, nyd, ongeduld, onvergewensheid en bitterheid.
Vrede is nie iets waarvoor jy wens nie. Dit is iets wat jy maak, wat jy doen. Dit is iets wat jy is en wat jy weggee. (Robert Fulghum)
Vrede is ‘n werkwoord wat graag saam met liefde en genade tyd spandeer. So kom ons kies bewustelik om te leef in vrede sodat ons eendag kan rus in vrede met die wete dat ons, ons deeltjie op aarde gedoen het vir VREDE.
Gebed vir VREDE:
Gee my U vrede, vrede wat weier om my te verlaat, vrede wat omvou, verlig en heelmaak. Gee my U vrede te midde van storms en lewensbootjies wat dreig om te kantel. U is mý Herder, en ek vertrou U vir rus in groen weivelde, vir vrede… (Ps. 23:1-2) Ek wil Leef in Vrede, U vrede. Ek wil vrede soek, vind en dit najaag. (PS. 34:15) U woord bring vir my vertroosting, genade, maar bowenal arms vol vrede. (Ps. 85:9) Here, ek stel my vertroue in U, gee aan my U vrede. (Jes. 26:3)
Help my om reg te doen, sodat ek U vrede hier op aarde kan koester… (Jes. 32:17) Here, ek wil nie onsteld raak oor die wêreld en sy dinge nie, ek wil nie bang wees nie, nee, op U alleen wil ek vertrou. Dankie vir U vrede wat U vir my nagelaat het, nie wêreldse vrede nie, maar Goddelike vrede uit U hart en hand. (Joh. 14:27) U ís my vrede. (Ef. 2:14) AMEN
Finally, believers, rejoice! Be made complete [be what you should be], be comforted, be like-minded, live in peace [enjoy the spiritual well-being experienced by believers who walk closely with God]; and the God of love and peace [the source of lovingkindness] will be with you. (2 Cor. 13:11 AMP)