‘n ‘Kragtige’ Getuienis.

Liewe vriendin, vandag se stukkie is baie persoonlik, en ek deel dit omdat ek wil hê jy moet weet en verstaan, dat ek en jy tot alles in staat deur Christus wat my en jou krag gee. (Philip. 4:13). As jy my baie goed ken; sal jy die volgende van my weet, ek is in hart en siel eintlik ‘n introvert, ek hou nie daarvan as my hok of my vere geskud word nie. Verandering is vir die voëls, beslis nie vir my nie, en ek hou nie daarvan om voor ‘n klomp mense te praat nie. Een of twee- geen probleem, maar massas, nee dankie, hou verby.

Aan die einde van verlede jaar kontak ‘n vroutjie my en vra of ek bietjie met die oumensies sal kom gesels, informeel, niks ernstigs nie. En ek stem sommer dadelik in, want dit kan ek sekerlik doen! (Nog iets wat jy dan dalk ook nie van my weet nie, ek is mal oor babas en kinders en dan op die ekstreme van dieselfde lyn, oumensies. Ek het ‘n besonderse sagte plekkie vir hulle.)

Nog in my universiteits dae het manlief altyd gesê, ek moet maar verby hou met enige pos wat met kinders, kanker pasiënte of oumensies te doen het… my hart het swaar gedra aan al hul hartseer.

Nietemin, vroeg in die jaar kontak die vroutjie my weer en vra of ek nie by hulle oggend tee sal kom optree nie. O GENUGTIG! Om vir 35-45 minute te praat sit nie in enige outjie of vroutjie se broek nie. Ek sal daaroor moet dink, ek laat weet jou, maar in my kop en hart sê ek klaar nee dankie. Ek ken mos myself, eintlik baie goed!

Die aand by die huis is almal in die huis opgewonde oor die praatjie, die girls stem saam, ek sal dit moet doen, want: You were not born to fit in, you were born to stand out… en dis presies wat ek vir hulle gesê het elke keer as daar redenaars of mondelinge was, ai daar kom byt my eie woorde my in die alie. Manlief beaam dat hy weet ek kan dit doen, daar bestaan geen twyfel by hom nie.

Ai nou voel ek half in ‘n hoek gedruk en ek laat weet, ja ek sal met liefde by julle oggend tee praat…

Nou moet jy verstaan liewe vriendin, ek het laas op skool mondeling gepraat en meeste van die tyd was dit rampspoedig, meeste van die tyd kon ek myself nie hoor dink so hard het my hart geklop nie, as jy in die eerste bank gesit het sou jy my groen skoolrok sien bewe het, en die woorde het ek uitgestotter, meer as wat ek dit gepraat het. Ver-ver uit my gemaksone uit!

Vir die eerste twee weke na die besliste ja, is ek wantrouig en half vies vir myself! What was I thinking! Ek gaan my naam met ‘n plank slaan, sê nou maar ek onthou glad nie wat ek moet sê nie, wat as ek voor almal val, of doodstil bly. Beangs en bevrees vir die mense voor my. Tog is daar ‘n deeltjie in my hart wat weet dit is wat ek moet doen, om dit nie te doen sal ongehoorsaam wees.

Ek besluit om van my kant af alles te doen om dit te maak werk, want my mense glo in my, maar nog meer my PA in die hemel glo in my. Ek besluit om alle negatiewe, onbehulpsame gedagtes net eenvoudig uit te skuif, of te verwys na my Pa in die hemel. Ek berei so goed voor as wat menslik moontlik is. Ek sê dit vir manlief op, hy gee opbouende kritiek, ek verander dit. Ousus lees dit deur en okay dit. En my liewe vriendin Hanlie kom drink koffie; en gee ‘n klompie goue tips wat ek inkorporeer.

En intussen bid ek kliphard, en vra sommer gebed by my gebedsvriendinne, want hoe anders dan nou ook? Ek bid dat Sy krag en kalmte my sal vooruitgaan, ek bid vir goedheid en guns, vir stiltes, vir die regte woorde.

Ek soek woord waaraan ek vashou. Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. (1 Joh. 4:4)

Vind jou sterkte in die Here en in Sy GEWELDIGE krag. (Ef. 6:10)

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7)

Die Here is my LIG en my REDDER, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my TOEVLUG, vir wie sou ek vrees? (Ps. 27:1)

Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig. (Ps. 31:25)

Ek vra my man om saam te gaan, as ekstra ondersteuning, uit hul eie dring die girls daarop aan, hulle wil saam. Die Vryadagaand voor D-dag whatsapp my sussie my en vra of ek lekker op my senuwees is? Ek antwoord eerlik: Ek is op my senuwees oor die feit dat ek glad nie op my senuwees is nie. Ek is so kalm soos ‘n walm, maar ek gaan nou sê so kalm soos ‘n Psalm (23). En nee, ek het niks gedrink nie, niks gedoen nie, maar ek voel hoe die vrede van die Herder oor my hart en my gedagtes waak. Ek voel sy teenwoordigheid asof Hy langs my staan, langs my opstap, ek is immers DIE DOGTER VAN DIE KONING! En my kroon sit mooi netjies, kiertsregop op my kop!

Vriendin, die praatjie het my stoutste verwagting oortref, sal jy verbaas wees om te weet dat ek dit regtig egtig geniet het? Ek het ingestap sonder angs sonder vrees, want Hy wat in my is, en bly is KRAGTIG, is GROOT. Hy eer gehoorsaamheid, en gee mens alles wat jy nodig het, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. (Hand. 17:28)

Vriendin so vandag se stukkie gaan nie oor ek wat so oulik is nie, nee dit gaan oor God se krag in ons wat ons onderskat, soms moet ek en jy net opdaag en vertrou op God se plan vir ons lewe. Vriendin, as jy twyfel oor enige iets in jou lewe, mag hierdie getuienis jou opbou, want as ek kan, kan jy verseker ook!!!!!

8 Replies to “‘n ‘Kragtige’ Getuienis.”

  1. Fillipense 4vers 13 is jou leuse!!!! Martha jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee.
    Jy is die Here se sterrekind. Jy skyn oral. Mag jy nog in oorvloed gesëen word. ❤️❤️

  2. Martha wat ‘n wonderlike getuienis! Ons Vader weet waar Hy ons wil gebruik, berei ons voor en stuur die regte geleenthede oor ons pad. Hy weet ook jy het die regte hart. Ek weet jy leef reeds jou roeping deur jou skryfwerk uit, maar mag hierdie begin wees van iets wat nog verder strek.

  3. Wow……dankie Martha vir die getuienis. Daar is baie van ons wat herinner moet word dat ons meer as oorwinnaars is deur Christus wat ons krag gee. Ons moet uit ons comfort zone kom en wees waar God wil hê ons moet wees op ñ spesifieke plek en tydstip.

    Seën vir jou!

  4. Ek sou ook nie vir een oomblik getwyfel het dat jy dit kon doen nie. Jy seën my elke week met jou mooi en harts woorde 🙏
    Dankie Vriendin ❤️

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *