Nader tot God en Hy sal tot julle nader… (Jak. 4:8)
Wanneer ek in opregtheid die aangesig soek van die EEN wat my gemaak het, gebeur daar iets Goddeliks, ek vind nie net HOM wat ek met hart en siel soek nie, Ek vind ook myself in Hom.
Ek en jy, eintlik alle mense, het ‘n intense behoefte om te behoort, om met oortuiging te kan sê: Ek is… Probleem is, ons weet nie altyd lekker wat die beste pas na die drie kolletjies nie. Ek is wat? Ma, Vrou, Vriendin, Dogter, Verpleegkundige? Waarin is my identiteit vasgevang?
Ons soek hoog en laag na antwoorde en aanvaarding, van die teenoorgestelde geslag, van ons kinders, die wêreld… Ons doen persoonlikheidstoetse en allerhande asseserings, want ons wil so bitter graag weet. Wie is EK???
Vriendin, wanneer ek en jy ons identiteit in die wêreld soek, sal jy antwoorde kry, maar dit gaan steeds nie die reuse gat in jou hart en siel vol maak nie. Dit gaan leë antwoorde en beloftes wees wat net tydelike antwoorde gee. The more you know about the trouble in the world, the more you will be troubled by it. (Cold case Christianity) Dis ‘n gevaarlike besigheid om jou identiteit in die wêreld te gaan soek, daar waar die vergelyk-gogga amok maak, waar die klem op die individu is, kry dit… koop dit, because you are worth it. ‘n Wêreld vol leuens en slaggate.
As jou identiteit gekoppel is aan jou kinders, aan ma-wees, dan vermoed ek jy gaan die leë-nes sindroom net-net oorleef. Luister dis moeilik genoeg sonder dat jou hele menswees aan jou kinders gekoppel is.
Na ousus uit die huis is, en dit was so effe erger as wat ek gehoop of gedink het, het ek net besluit, ek sal iets daadwerkliks moet doen om wanneer die nes dolleeg is… te oorleef. Begin van die verlede jaar het ek weer bietjie verder begin leer, en dit gaan goed uitwerk, want as kleinsus vlerke span en begin vlieg, dan gaan ek mooitjies klaar wees, reg vir ‘n nuwe uitdaging en ‘n nuwe hoofstuk.
Jy kan ook nie jou identiteit by jou man gaan soek nie. Ek is… my man se vrou. Jy sien die gevaar daarin nê? En ja natuurlik, julle tweetjies is een, maar jou identiteit is nie in hom nie.
John en Stasie Eldredge skryf in hulle boek, Jy is Bekoorlik! Die volgende: Geen man kan vir jou sê wie jy as vrou is nie. Net God kan vir jou sê wie jy is. Adam is ‘n veels te onbetroubare bron. (p.153) En dan die belangrikste deel: Spits jou ore liewe vriendin, jy moet die volgende nie net aanhoor nie, maar jy moet dit werklik hoor-hoor.
Maar die kern van ons bekragtiging, ons primêre bekragtiging moet van God kom. Totdat dit gebeur, totdat ons vir Hom vra vir die genesing van ons siel, word ons verhoudings beskadig deur hierdie soeke-by-mekaar na iets wat net God kan gee. (p. 154)
Jou man is nie op aarde gesit om jou hart heel te maak nie, dit help baie as jy met ‘n wonderlike man getroud is… maar heelheid kan hy nie vir jou gee nie.
Soms is ons identiteit so verweef met wat ons doen, met ons suksesse korporatief, ons altyd-deur-die-ring-trek voorkoms. Dis ‘n gevaarlike plek om ‘n identiteit te vestig.
Ek en jy sal moet ophou meet en pas om ons plekkie in die wêreld te kry, ons moet ophou vra: Wêreld, hoe sien jy my? Laaik jy my darem ‘n bietjie? Die enigste vraag wat ‘n antwoord verwerdig is: Hoe sien die God van die hemel en aarde my? Hy wat my gemaak het… wat sing Hy oor my, wat droom Hy oor my, Hoe lyk Sy hart vir my?
Jy is Geliefd,
Uitverkies,
Geken,
Vergewe,
Losgekoop…
Gemaak na die beeld van jou Vader in die hemel.
Jy is Sy kind, aan Hom behoort jy tot in ewigheid.
Vriendin weet jy wat besef ek net weer soos ek hier met jou gesels? Niks, behalwe God is permanent nie. Die res, die lewe, die wêreld is vlietend, soos gras wat verdor nadat die son te warm was. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. (Heb. 13:8
Luister so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, JY is MYNE! (Jes. 43:1)
Gelukkig tog is God se liefde vir ons nie gebaseer op goeie werke en hoe goed ons is as ma, vrou, werker nie. Dit is 100% gebaseer op genade. Net genade onbeskryflik groot.
In jou soeke na jouself in HOM, sal jy al nader en nader aan Sy hart groei en beweeg, jy sal meer en meer soos Hy lyk en soos Hy optree. Jy sal met ‘n sekerheid in jou hart leef dat jou identiteit gevestig is in die ware God. Onwankelbaar, vol liefde en goedheid. Jy sal weet dat jy weet: EK IS DIE DOGTER VAN DIE KONING. En met oortuiging in jou hart sal jy soos Dawid kan verklaar: U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is. (Ps. 16:11)
Dankie Vriendin, dis beautiful 🙏