(Ope brief van ‘n mamma op aarde aan haar hemelse Abba)
2Wees my genadig, o God,
Wees my genadig, want by U skuil Ek;
in die skadu van U vlerke sal ek skuil…
4 Ek roep na God, die Allerhoogste,
na God, wat namens my vergeld.
5 Hy sal uit die hemel hulp stuur
en my verlos.
Hy verwar hom wat my teister.
God sal sy troue liefde
en sy waarheid stuur.
10 Ek wil U dank onder die volke, my Heer,
ek wil U besing onder die nasies;
11want groot, tot aan die hemel,
reik U troue liefde;
tot by die wolke is U waarheid.
12 Verhef U bo die hemele, o God,
U heerlikheid oor die hele aarde.
(Psalms 57, 2020)
Dis soms moeilik om ‘n mamma te wees, Abba, wat nog te sê van ‘n goeie mamma. Elke ding in die lewe vereis sy pond vleis en tussen al die balle in die lug ophou raak ek, as mamma en mens, weg in die geroesmoes van die lewe.
Dan soek ek eintlik maar net vir U, wil ek U troonkamer stilletjies binne slyp en pens en pootjies op U skoot klim, maar ek wil met my oor teen U hart sit, sodat ek U hartklop vir my, vir my medemens, vir die stukkende wêreld kan hoor, voel… beleef.
Here, want hoe stukkend is die wêreld nie net nie! Ek probeer om my blind en doof te hou vir die wêreld en sy mannewales, Here, want regtig, wat ‘n sirkus! Partykeer kan U ook sekerlik net U kop skud, hande in die hare, moedeloos, wat ‘n gemors, nê God!
Ai Abba, ek kort soms U wysheid soos KFC, vinnig, vetterig en dadelik gereed om oor die toonbank aan te gee… en soms kry ek wysheid, drips gewys uit die skatkamers van die hemel uit, so hittete op die oomblik van die stryd, want partykeer wil ek soos die emoji op my selfoon net my pers armpies optel… ek weet nie… ek weet nie wat om volgende te doen nie… ek het nie antwoorde nie. My wysheid is opela!
En in my naarstigtelike soek na hemelse wysheid raak ek so oorstuur aan die kant van die hemel, dat al gee U ook vir my al die wysheid in pag waarvan Jakobus 1:5 praat, wysheid sonder voorbehoud, mis ek dit, hoor ek U stem skaars, want die angs in hierdie wêreld laat my ore bot toe slaan. Dan wil ek skree waar is U dan? Voel U half en half stil, maar mens skree ook nie op iemand wat reg langs jou staan nie… want ek weet U is naby, dat U my nooit sal begewe of verlaat nie, ek glo dit, want U het dit self gesê, dit was U belofte aan ons wat hier op die aarde heen en weer hardloop, uitgeput en moeg in ons soeke na antwoorde, vrede, wysheid en genade…
Soms verloor ek iewers in ‘n te lang dag U vrede… sukkel ek om die flentertjies vrede om te tel en bymekaar te hou, tussen die troos, en kos en stryk, aanmoedig en versorg probeer ek dan versigtig die flentertjies vrede uitdeel, want soms Here voel ek, voel elke mamma hier op aarde, net moedeloos, moeg op en gedaan… ai askies! Mag ek dit maar sê? Is dit okay as ek dit in U Almagtige oor fluister?
Mag ek erken dat dit soms moeilik is om ‘n mamma te wees hier op aarde, en ai Abba, soms is die geveg tussen my hart en my kop ‘n verskriklike ding, my hart wil in die een rigting, want haai siestog my arme kind, my kop wat selde wen, staan soms terug, wil hê ek moet soms terugstaan en absoluut niks doen nie, nie probeer help nie, niks sê nie, want in die laat gaan, gee ek moes eintlik oor aan U? My mamma hart sukkel met dit… seker omdat ek die girls wat U aan my toevertrou het so bitterlik lief het. Ek weet hulle behoort aan U, aan my is hulle net geleen. Ag Abba, en kan ek dit dan maar vir U sê-fluister? Ek hou nie daarvan as my girls suffer nie, dit sit nie lekker aan my lyf nie, my hart voel dan ook seer en soekend… half gebreek en seer vir hulle part… want Here, ek is net so gelukkig soos my ongelukkigste kind…
Ai my liefste hemelse Pappa, ek is ‘n regte klakous vanoggend… eintlik moes ek dalk net ‘n bietjie kom sit het, soos Maria by U voete, en minder soos Martha wat besorg en bekommerd is oor so baie dinge… want eintlik Abba is die dankbaarheid vir wie en wat U is in my lewe, my hart, my DNA, moeilik om te verwoord… Ek is dankbaar dat U my Herder is, My Vertrooster, dat U my ophelp en bo hou wanneer die lewe my pootjie. Ek is dankbaar vir U magtige teenwoordigheid, vir U genoeg-genade wanneer ek moeg en moedeloos voel.
Ek is dankbaar vir U vrede wat in my hart kom nesskop as dit voel asof die lewe ‘n weghol trein is, en vasklou en oë toeknyp is die enigste opsie vir oorlewing… Ek is dankbaar U vrede is nie soos die wêreld sinne nie, maar Goddelike vrede wat my verstand nie eers lekker kan verstaan nie.
Ek is dankbaar vir vriendinne, vir elke Aäron en Hur wat in die minder goeie-lekker tye sommer net opdaag, op die regte tyd en net my arms bietjie kom bo-hou. Dankie vir hulle Abba… Dankie vir ‘n uitgesoekte lewensmaat wat help regop hou, wat help keer, wat vang as ek wil-wil val…
Abba, ek wil tog vra dat U sal help met woorde, veral wanneer stilte meer genees as woorde. Here en daai wag voor die mond, moet hom asb nie afdank, of met vakansie stuur nie, Here ek bid vir woorde wat geneeskragtig is soos heuning, help my om altyd die regte woorde te kies, woorde wat getuig van liefde en genade, woorde wat vrede najaag. Gee my woorde-wysheid, maar ook stiltes wanneer woorde onnodig, ongevraag is…
Abba, verhoudinge is vir my so belangrik, maar ek praat van verhoudings wat getuig van genade, tyd, liefde, vrede, geduld, verdraagsaamheid… gee dat ek woorde sal kies wat net dit najaag, niks meer nie, niks minder nie!
Abba en as U net vanoggend luister, en nie dadelik antwoord nie, dan is dit ook okay… want ek wou net vir ‘n rukkie styf teen U gesit het. Ek gaan nog die wiskundige vergelyking in Jesaja 30:15 mooi onder die knie kry, ek werk daaraan, krag=stil wees+vertroue. Volgende keer sluip ek dalk in stilte by U troonkamer in, om in stilte U grootheid en heiligheid in te asem…
Soms, so deur die stoei van ‘n moeilike dag, deur die te veel vrae, geen antwoord-situasies, dank ek u vir elke woord en stukkie genade wat my kant toe kom, tye wanneer ek U hoor, voel.. wanneer U gerusstellende stem in my hart fluister: Dis okay, Haal asem, Moenie oorreageer nie, Ek is in beheer! Wees stil… en weet… dat EK… GOD is.