Wat jy dink, is wat jy sien, is wat jy word!

Ons het ‘n wyle terug, vir ‘n paar maande, met ‘n oulike klein karretjie gery.  Die eerste keer wat manlief van ‘n UP praat moes ek eers vra vir ‘n prentjie, want ek het nog NOOIT van so kar gehoor; of selfs iewers raakgesien nie.

So kry ons die karretjie en hoe meer UP’s sien ek raak, oral. Alle kleure, wit, grys, blou, charcoal. En ek wonder hoekom ek dit ewe skielik sien? En die eenvoudige rede: dis aangeleerde gedrag. Ek het vir my brein gesê om op die uitkyk te wees vir die spesifieke karretjie.

En baie interessant op die oomblike sien ek orals Mini Coopers raak, (ek weet is dit nie ‘n ougat karretjie nie? Ander dag op pad skool toe en terug het ek 8 getel!)

Vriendin, en soos ek en jy deur die dag gaan is daar letterlike duisende gedagtes wat inkom, duisende beelde wat jou brein sien en moet sif, sodat jy nie oorweldig voel nie. Jy sien nie alles wat jy sien nie. Jy hoor nie alles wat jy hoor nie en jy dink ook nie aan alle beskikbare gedagtes nie. Jou brein is selektief wat deur gefilter word, maar tog is daar ‘n bewustelike besluit in die onbewustheid van jou brein se baie funksies.

Ek vermoed ook die siwwe in die brein van mans en vrouens verskil. Ek dink by verre meer as my liewe man, en ek kan nie aan niks dink nie, al wil ek ook hóé graag. Ek dink vrouens se siwwe het lekker groot gate. Genoeg om ons heeldag en nog partykeer die helfte van die nag ook besig te hou met gedagtes, lysies en gesprekke, en soms regtig nuttelose goedjies ook.

Ek het die ander dag vir ‘n vroutjie gesê… ons breins (of miskien dit net my brein) glo alles wat by ons monde uitkom. As ons die heeltyd sê, ek is so moeg dan gaan ek binne die volgende uur omval van pure uitputting. Of ek is só nie lus vir die dag nie… raai wat… daar lê ‘n lekker lang, uitmergelende dag vir jou voor.

Die goeie nuus is! Jy kan jou brein beveel, sonder dat jy dit besef, om op sekere goed te fokus. Te fokus op goeie goed. Positiewe goed. Om te fokus op goed wat vir jou belangrik is. Ek sê paar keer op ‘n dag vir myself en seker dan my brein ook. Nee wat dis nie so erg nie… sjoe jy het so baie om voor dankbaar te wees. God is in beheer. Dis net ‘n seisoen. Jy is okay. Haal net ‘n slag asem, God is goed, nog niks het verander nie.

En weet jy wat, soms moet ek sommer lekker kwaai wees met myself as my brein en my gedagtes op hol raak en ek aan allerhande snert dink wat nie goed of opbouend is nie, want soos ek die UP! oral sien, wanneer my fokus op goed is wat nie goed is vir my liggaam, siel of gees nie, raai wat, dis ook goed wat jy die heeltyd ‘raaksien’.

Vriendin so miskien moet ons hierdie brein van ons kry om te fokus op dit wat goed is, en reg is en van God is. Sodat dit wat ons oorweldig en seermaak en benoud maak net agtergrond geraas sal raak. Dat ons sal fokus op Hom wanneer situasie hand uit ruk, wanneer goed gebeur waaroor ons geen beheer het nie. Wanneer ek en jy ons in die vuuroond van die lewe bevind.

Ek het versies gaan soek wat ons moét laat anders dink oor die lewe, wat terselftertyd sommer die las van die lewe sal minder maak.

Vind vrede in Hom. Die wêreld is nie ‘n maklike plek nie, maar vir my en jou het Hy die wêreld klaar oorwin. (Joh. 16:33)

♥Hierdie is my eie persoonlike vasklou aan God versie:

Moenie bang wees nie,
Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
Ek versterk jou,
Ek help jou,
Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou. (Jes. 41:10)

Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie. (Filipp.4:4-7)

♥Die Here hoor jou… en Hy antwoord as jy uitroep. (Ps. 34:4,7)

♥God laat alles vir jou ten goede meewerk, die goed en die sleg. (Rom. 8:28)

♥Deur jou geloof het jy hoop, en die hoop bring ewigdurende vrede en vreugde. (Rom. 15:13)

♥God is by jou… ORAL waar jy gaan. (Jos. 1:9)

♥Wanneer jy Hom ken en raadpleeg in alles wat jy doen, sal Hy jou help om op die regte pad te loop. (Spr. 3:5-6)

♥Geen bekommernis is vir Hom te groot nie, werp jou bekommernis op Hom, want Hy is die Een wat vir jou sorg. (1 Pet. 5:7)

♥Wanneer jou voete gly, is dit Sy troue liefde wat jou regop hou. Wanneer die onrus in jou binneste die oorhand kry en jou hart te vinnig klop… Is dit nie Sy vertroosting wat jou telkemale tot rus bring nie? (Ps. 94:18-19)

♥Hy sal die trane van jou oë afdroog. (Openb. 21:4)

♥En wanneer jy per abuis met die verkeerde voet uit die bed uit val, herinner jouself sommer vroeg-vroeg al: Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. (Ps. 118:24)

♥In elke situasie, in elke seisoen van jou lewe sal Sy genade vir jou genoeg wees. (2 Kor. 12:9)

♥In die vuuroond, vind jou vreugde in die Here, vertrou net op Hom… Hy sal vir jou sorg. (Ps. 37:3-5)

♥Vul jou gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles wat julle van Hom geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal Hy, die God wat vrede gee, by jou wees. (Filip. 4:8 NLV)

♥Sy goedheid beskerm jou soos ‘n skild. (Ps. 5:13)

Mag die versies jou hart versterk en jou gees stig. Ek los jou vir eers met ‘n kosbare versie uit Jesaja 12 vers 2:

God is my Redder;
ek vertrou op Hom,
ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
En my beskerming
Hy is my Redder.

3 Replies to “Wat jy dink, is wat jy sien, is wat jy word!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *