(Opgedra aan almal wat moet agterbly en aangaan)
55 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” 57 Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. (1 Kor. 15)
Kleine kindertjies sukkel om konkreet te dink oor die dood, dis moeilik om te dink iemand is terselftertyd onder die grond en in die hemel by Liewe Jesus. My eerste ontmoeting met die dood het net vrees en angs gebring. Ons liewe, dierbare, stekel brakkie het onder ‘n motor beland toe ek seker so 8 jaar oud was. Die klein brakkie was ‘n regte Houdini, uitkom, oorklim en rondloop was sy ding.
Toontjies het motors gejaag en geblaf asof dit die lekkerste tydverdryf op aarde was, terwyl ons salig onbewus was dat hy alweer uitgeglip het. Met Toontjies se verwisseling van die tydelike met die ewige, het daar ‘n ongemaklikheid in my siel kom sit oor Dood en die effek van dood…
Nietemin, die nag lê ek met groot oë op my grondbed langs my ma se bed, met net die getik van die wekker op die bedkassie wat later vibreer tot in my bang kinderhartjie.
Op 10 is my oupa oorlede, skielik, onverwags… en dood konfronteer my weereens, kyk my in die oë, bring onsekerheid en bang met hom saam. Met die swottery van Verpleegkunde raak dit vir my al hoe moeiliker om Dood te vermy, hy is om elke hoek en draai, breek gesinne op, breek harte en laat ‘n pad van verwoesting agter hom. Ek dink vir my was die moeilikste die kindertjies… en so probeer ek die bang onderdruk en die dood vermy.
En tussendeur baklei ek met God, want hoe kan Hy? Hoe durf Hy babatjies wat slegs maandjies oud is vat, en dit het vir my gevoel as ek nog eenkeer hoor van die mooiste blomme wat God op die aarde pluk sou ek seer sekerlik ten hemele kon skree!
Ek hou van kaas, bra
Middel van die nag, laat dit raas, bra
Feta, Cheddar, Mozarella, ja bra
Kaas elke dag, elke aand bra (Jan Bloukaas)
My girls het hierdie liedjie so baie geluister op ‘n stadium, dat ek glad die woorde ken, jip ek is ‘n cool ma wat amper kan rap! En ek hou van doef, doef musiek, maar lekker hard…
Nietemin, verlede jaar is Jan Bloukaas oorlede op 25! En hy het die volgende oor die dood gesê: “Ek het vrede met die dood. Daar is nie verloor met Jesus Christus nie, óf ek gaan beter word en gesond raak, óf ek gaan doodgaan en hemel toe gaan waar ek altyd moes wees.” Maar sy sê-ding wat my hart die meeste aangegryp het was die volgende, hy het gesê:
“Doodgaan is nie verloor nie. Dood is eintlik wen.” (Jean du Plessis)
Lord, even when your path takes me through the valley of deepest darkness, fear will never conquer me, for you already have! You remain close to me and lead me through it all the way. Your authority is my strength and my peace. The comfort of your love takes away my fear. I’ll never be lonely, for you are near. (Ps 23:4 TPT)
Lank terug het ek lank en intens met God geworstel oor die dood, en uiteindelik geweet die dood is ‘n deur waardeur jy stap van hierdie lewe na die Ewige Lewe saam met jou Bruidegom. So, hoe kan ek dan iets vrees wat my direk voor Jesus te staan laat kom? My in Sy teenwoordigheid laat wees vir altyd en ewig? Vriendin, en ek weet nie waar jy staan met jou verhouding met God nie, want die enigste keer wat ons dood kan vrees is as ons onseker is oor waarheen ons op pad is as ons eers deur daardie deur gestap het.
Jy gaan nie na die donkerte toe nie, want God is LIG.
Jy sal nie alleen wees nie, want God is by jou.
Dit is nie’n onbekende land nie, want Jesus is daar.
(Charles Kingsley)
So miskien gaan hierdie skrywe vandag minder oor dood, en meer oor sekerheid. Want dis so maklik om seker te wees… Glo jy dat Jesus vir jou, sondaar, aan die kruis gesterf het? Dat Hy sy lewe in ruil gegee het vir joune? Wil jy seker wees en seker maak? Bid dan saam met my sommer net ‘n vinnige gebed, sommer hier en nou.
Here, ek het ‘n Verlosser nodig,
ek het U nodig, Here maar ek is sondig en alles behalwe perfek…
Ek kan myself nie red nie, net U kan. Vergewe my.
Here, ek verklaar en glo dat U ook vir my sondes
op die kruis gesterf het, dat my naam op U lippe was toe U,
U laaste asem op Golgotha uitgeblaas het.
Here ek glo met my hele hart dat U opgestaan het, en dat U leef!
Maak my U kind, help my om my rug te draai
op alles wat wêrelds en sondig is.
Ek plaas my vertroue in U en U grote Naam.
Dankie vir vergifnis van sonde, dankie dat U my lief het.
Ek prys U Heilige Naam.
In die Naam van Jesus bid en vra ek dit.
AMEN!
Ek los jou vandag met hierdie oorbekende woorde van Jesus in Johannes 14:1-4 (2020) “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
En Jesus stap, lewend uit die graf na drie dae… dood waar is jou angel dan nou eintlik?
Dankie vir ‘n vertroostende skrywe oor ‘n hartseer onderwerp en een wat gereeld vrees by ons veroorsaak.