Drade en Sondebokke.

Kleinsus is hier midde, drade en ortodonsie iewers verlede jaar. Van die begin was die Ortodontis skepties oor die spasie om die skeefheid te herstel. So gebeur dit na ‘n jaar en ‘n bietjie se drade dat twee van haar tande moet waai. Ai tog… dis een van daardie goed waar ‘n ma sommer net die hasepad wil kies… Hoekom? Geen ma het lus om te staan en toekyk hoe jou kind seergemaak word  nie, al is dit vir haar eie beswil.

So maak ons afspraak by die Tandarts wat die daad by die woord moet voeg, en kleinsus is ‘n ander soortige tipe gestres oor die inspuitings in die mond. Sy vra-smeek meer as een keer of ons nie maar net kan narkose nie. Ek praat moed in en verduidelik hoekom dit nie so goeie idee is nie.

So breek die gevreesde Vrydagmiddag 14h30 aan en hier sit ons tweetjies in die wagkamer en wag… sy bietjie soos ‘n lam ter slagting, met ‘n bleek gesiggie en rooi ogies. Ek, nie baie lus om toe te kyk nie. Ai ‘n ma se hart moet darem baie kan verduur.

Met die intrapslag sê ek vir die Tandarts dat die Ortodontis groete stuur en dat Kleinsus gerus vir hom moet kwaad wees, want dis hy wat die tande gaan trek. Nee wat dankie antwoord die tandarts, dis defnitief die Ortodontis se skuld, ek maak net soos ek gesê word. (Kan ek net bysê… albei tande was uit toe ek nog met toe oë sit en bid het vir tand nommer 1) Glad toe nie so erg in werklikheid as wat dit in kleinsus se kop was nie. Dit help ook natuurlik om ‘n wonderlike tandarts te hê!

Ons ry Ortodontis toe met gaas gestopte, dik wangetjies om die drade terug te sit. Ek sê die Tandarts stuur groete, maar hy sê dis jou skuld, hy is onskuldig. Die Ortodontis lag maar net en sê, iemand se swak gene gaan dan die skuld moet kry vir te groot tande en te min mond.

So binne sekondes raak ek toe die sondebok… en ek dink nogals eintlik nie my skuld nie, ek het ook nie juis my eie gene gekies nie! Sien jy vriendin hoe lekker maklik dit is om blaam te skuif? Hoe maklik dit is om ‘n ander sondebok te soek?

Laat my dink aan die eerste mensies op aarde wat uitgevang is met die eerste sonde wat ooit gepleeg is. Adam sê dis Eva, Eva sê dis die slang wat die verbode vrug onder haar neus geswaai het, nee was op daardie stadium nie ‘n opsie nie… en die slang het nie ‘n saak nie want hy het sy sin gekry. Die verbode vrug is geëet en God se hart is gebreek. Die blaam skuiwery stop ook toe nie daar nie; Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” (Gen. 3:12)

Dis net soveel makliker om blaam te verskuif, as om te erken dis ek, net ek. Niemand anders kan die skuld dra nie. Ek vermoed verandering gaan ook eers gebeur wanneer ek en jy genoeg moed het om te erken dat ons alleen die blaam dra.

Ag en die simpelste voorbeeld is seker maar die diëet storie. Oor vet wees, maer wees en tussen-in wees. Dis baie makliker om te sê, jy verloor gewig, want jou gene is goed, om nie eers te praat van jou vinnige metabolisme nie, wat nog te sê van jou tiroëd wat optimaal sy werkie doen. Wat ons nie sê nie is, jy is maerder as ek want jy eet regger as ek, jy is maerder as ek want jy oefen en ek is goed met verskonings uitdink om nie te oefen nie. Jy is maerder as ek, want om die dood kan ek nie nee sê vir die stuk sjokolade koek wat my reguit in die oë staar nie. En my persoonlike gunsteling, dis menopause en my hormoon wanbalanse.

En dis moeilik, ek het nou ‘n fiktiewe boek gelees oor Mirriam van die Bybel, en ek hou van verhale lees en Aäron staan vir my uit. Hy wat uitgekies is deur God om Moses by te staan, hy wat namens God praat met die volk. Wat God eerstehands ken, wat God beleef op ‘n heel ander vlak as wat ek en jy Hom ooit sal kan beleef. Wat die wolkkolom per dag sien, wat die vuurkolom se lig snags sien.

Dis hierdie selfde Aäron wat swig onder die druk van die volk en ‘n goue kalf bou wat aanbid word. Sjoe, hy wat God intiem ken probeer Hom vervang met ‘n goue, dooie kalf. Aäron vat ook nie die blaam, hy wys net sy vinger na die volk. Dis hulle…

Geestelike volwassenheid is dan ook om op te hou verskonings soek vir die sonde wat ek so aanmekaar doen, die strikke wat ek steeds in trap, die goed waarmee ek aanmekaar bly sukkel sonder om deurbraak te kry, want solank ons iemand anders die sondebok maak, solank ons bly blaam verskuif sal ons nooit oorwinning smaak nie.

When you blame others, you give up your power to change. (Robert Anthony)

Dit bly vir my en jou net eenvoudig makliker om die splinter in die oog soekers te wees, eerder as om die balke in ons eie oge raak te sien. Miskien is deel van geestelike volwassenheid juis om op te hou blaam skuif? Om te kan erken, hierdie is my deel van die ongelukkigheid en binne-gevegte. Hierdie is my stukkie skuld, en dan groot genoeg te wees om te erken, om vergifnis te gee en vergifnis te vra.

Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here. (Spr. 19:3)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *