W A T O O K A L.

Ek het nog selde vir ‘n nuwe jaar, ‘n woord, ‘n vers, ‘n nuwejaars voorneme gehad…

Ek droom die anderdag ek skryf die volgende versie neer op ‘n stukkie papier: 1 Korintiërs 10:31. En jy weet ek ken die Bybel so-so, maar nie só goed dat ek net versverwysings links en regs kan aanhaal en rondgooi nie. Of jule eet en of julle drink of WAT julle OOK AL doen, doen dit ALLES tot eer van God. –sê die versie… en ek lees dit so paar keer deur- en gaan bêre dit toe in my hart, want dis karavaan opslaan dag by die see.

So sit en skryf ek op pad huistoe in die motor, na ‘n lekker see-vakansie, waar hart, liggaam en siel net weer kon ontmoet en bymekaar kom.

The Passion Translation sê dit ook mooi – Whether you eat or drink, live your life in a way that glorifies and honors God. Mens moet ook altyd bietjie vroeër en verder lees ook nê? Vers 32-33: Moenie aanstoot gee nie… Maak soos ek: (en hier kom uitstekende raad in liefde en wysheid gesê) Ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie, maar die van baie ander, sodat hulle gered kan word.

Vriendin, ek weet dis verseker weer vandag God wat vir my wil sê en bevestig. “Hou jou kop af en doen net wat jy doen, Ek soek gehoorsaamheid, EK soek jou hart… Doen wat Ek van jou vra en verwag”… maar miskien moet jy dit ook vandag weer hoor: Doen alles wat jy doen, elke woord wat uit jou mond en hart kom, wat jy dink, watookal… laat dít ALLES tot eer van God wees.

Mense moet na my en jou kyk en nie wonder aan wie ons behoort nie. Uit ons dade en woorde moet daar geen twyfel bestaan dat ons SYNE is. Ons moet die eer aan Hom gee wat goed is vir ons, eer gee aan die EEN wat ons elke dag genoeg genade gee, eer aan die God van die hemel en die aarde gee vir wie en wat ons is, want ons is SYNE, ek en jy behoort aan Hom.

MAAR, nou so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; JY IS MYNE! (Jesaja 43:1 1953)

Is jy sonder enige twyfel Jesus sinne? Vriendin, ek hoop ek is… in die onbewaakte oomblikke voor die ongeskikte kassier, in die te-lang ry by die verkeersdepartement; vasgeknoop in die verkeer, tussen taxi’s wat wil indruk, deurdruk op geel strepe en soos hooligans bestuur, daar waar geduld by die skrefie venster uitwaai- of voor ‘n wispelturige tiener (aka, vol *@#$% tiener)

Ons kan nie bekostig om mooi-weers Christene te wees nie, as die son skyn op die lewenspad is ons die ene glimlaggies en vriendelikheid, maar wanneer die onweerswolke op daardie selfde lewenspad saampak op die horison- dan weerspieël ons houding, gesiggies en optrede dit.

Ek glo nie in nuwejaars voornemens nie, net seker omdat ek (tot op hede) nie by een kon hou nie, maar ek dink vir hierdie nuwe jaar is my woord: WATOOKAL.

Dat in alles wat ek doen en sê die Here altyd op die voorgrond van my hart en my gedagtes en my woorde sal wees… Wil jy saam met my die WATOOKAL pad stap die jaar vriendin? Om nie aanstoot te gee nie- nie vir gelowiges nie, maar veral nie vir ongelowiges nie. Om Jesus se LIG te weerkaarts en te skyn, om Sy genade te vergestalt en uit te deel, om te druk en te omvou met arms wat ‘n verlenging is van Jesus sin.

Om tegemoetkomend te wees (nie vloerlappie-mentaliteit nie, hoor!) teenoor alle mense- sonder om te voel jy moet ja en amen op alles en almal. Om God se koninkryk eerste te soek en te stel, en om deur jou optrede en wat jy sê mense nader te trek aan God se hart.

En vriendin, as jy WATOOKAL mooi gaan vertaal na Engels is dit whatever, in ‘n huis met jonges- ‘whateva’. Dis anders… Whateva is ‘n skouerophaling houding wat sê dit maak nie saak nie, wat ook al jy sê, wat ook al jy doen, dit raak my nie- ongeag.

Miskien is my woord vir hierdie jaar dan tweetalig en tweeledig. Watookal ek doen hierdie jaar, dat ek dit met vrede en vreugde sal doen… vir Hom, maar ook met ‘n ‘whateva’ houding dat wat mense sê en doen geen effek op my het nie, geen effek op my hart, maar veral my siel het nie. Dis okay! Hoe sê Mel Robbins? “Let Them

Mag dit so wees in hierdie nuwe jaar, ‘n WATOOKAL, whateva jaar.

AMEN.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *