Rapporte, Punte, Gene en al daai lekker dinge…

Dis Sondagaand, ons kies ‘n fliek, sommer aksie, want dit is darem min of meer iets waarvan almal hou. Ek, wederhelfte en kleinsus. So halfpad deur die fliek vlieg manlief op met die verskoning dat hy gou sy ma gaan bel. Okay sê ek, stuur liefde en groete…

Hier in die ¾ van die fliek spring kleinsus op, te midde van ‘n reuse skietgeveg, verklaar sy, klaar gekyk, gaan nou stort en hare was… okay sê ek, geniet dit!

Nou kyk ek ‘n opwindende fliek stoksielalleen… Hier op die heel einde, amper voor die krediete rol, kom manlief die vertrek in en vra: Wat kyk jy? Uhm, dieselfde fliek wat ons saam begin kyk het? En Kleinsus? Sy was moeg gekyk. En ek besef net, dis regtig soms moeilik om te baklei teen jou genetiese samestelling, jy erf wat jy erf van jou ouers, en daarmee moet jy werk…  

Met die rapporte wat uitkom is my hart sommer seer, vir al die kinders wat regtig egtig hul heel beste gedoen het, hard geleer het, maar wat nie by ‘n prysuitdeling gevier word, en nog minder by die huis op die skouer geklop word nie. (En nee, ek glo beslis nie dat almal moet pryse kry nie, maar ek glo daaraan dat elke kind se menswees, elke probeerslag, elke verbetering beslis gevier moet word)

My hart is seer vir die kinders met konsessies, wat sukkel met leer, wat sukkel met verstaan, nie omdat hulle dom is nie, maar omdat hulle nie lekker in die boksie van skool pas nie. So met die inforseer in ‘n boksie waarin jy nie pas nie, verloor jy jou glo in jouself, verloor jy elke jaar ‘n stukkie van wie jy gemaak is om te wees.

Ek is al vir jare betrokke by gebedsgroepies, eers by die Laerskool, nou by die Hoërskool. En jaar na jaar bly die gebedsversoeke dieselfde… bid vir die kids wat so angstig is, vir die kids wat nie cope nie, wat depressief is… en ek wonder… waar kom dit vandaan?

Is dit die druk wat hulle op hulle selwers sit? En waar het hulle dit geleer? Is dit die druk van sosiale media en die vergelyk-gogga wat gedurig sy kop uitsteek? Of is dit druk, wat ons as ouers op ons kinders sit? Ons moet nie sommer net ontkennend kopskud nie, ek en jy moet ernstig oor hierdie saak gaan dink en bid, en seker maak ons staan nie agter daardie deur nie.

Ek het twee girls in my huis met uiteenlopende persoonlikhede en geaardhede. Verskillende passies en talente… maar elkeen asemrowend in hulle eie menswees.

Ek wil so graag my meisiekinders moet die volgende weet, verstaan en in hulle harte vasmaak wat punte en sukses aanbetref. Niemand gaan ooit oor 10 jaar vir jou in die middel van Pick ‘n Pay vra wat was jou wiskunde punt in graad 10 vir Algebra vir die Desember eksamen nie. In die breër prentjie, oor die tydperk van jou lewe, is dit toe nie so groot soos jy gedink het dit behoort te wees nie. Jou identiteit word nie gevind in jou punte nie. Jou punte definieer jou nie, nie goeie punte nie, ook nie die slegte punte nie. Jou rapport en jou punte, is jou verantwoordelikheid en joune alleen.

Dit maak nie saak wat jou vriendinne, klasmaats, boeties of sussies gekry het nie. Doen jy net jy! Goeie wiskunde punte is nie die alfa en die omega nie, dit bepaal nie die sukses wat jy gaan smaak, of nie smaak vir die res van jou lewe nie. Jou beste is altyd genoeg!!

Tog dink ek, dis soms nodig dat ons as ouers ook ‘n paar dingetjies moet besef en vasmaak oor hierdie kosbare kinders van ons. Ek het steeds PTSD van skool as gevolg van Wiskunde. Ek moes Wiskunde HG deurkom om te kon gaan verder studeer, kom ek sê net, behalwe dat ek elke oomblik van Wiskunde gehaat het, het my eindpunt nie die teendeel gewys nie, inteendeel… kom ons sê net dit was hittete… nietemin, ons kan nie ons kinders se genetiese predisposisies wegwens of verander nie.

Moenie op jou kind skree oor Wiskunde of Rek of Skeinat punte en jy of jou man het self julle gatte afgesukkel met die vak nie. (Luister, en ek weet, daar is kinders en veral seunskinders wat bitter lui is, wat heel waarskynlik nie ‘n boek oopgemaak het nie, ek praat nie van hulle nie!) Daar is ouers wat hulle kinders forseer om sekere vakke te neem, en jy kan dit sekerlik doen, maar kom ons probeer om nie ons wense en drome deur ons kinders te probeer lewe nie.

Onthou jy die versie in Spreuke 22:6? Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Gee leiding aan jou kind, sodat jou kind homself kan ontdek, kan weet wie hy is, nie lei hom waar jy hom wil hê nie.

Ek glo met my hele hart om verbeterings en vordering te vier, al is dit hoe gering. ‘n E simbool wat ‘n D geword het, moet gevier word met milkshake of ‘n sjokolade, met ‘n ophef en ‘n klop op die skouer.

Meeste kinders ontdek hulle ritme van leer. Ek kyk vir kleinsus so die afgelope eksamen, sy het sekere prosesse, ek kan amper die ratte in haar kop sien draai, en dis anders as wat ek geleer het, maar is dit nie okay nie? Sy is mos nie ek nie.

Ek wil ietsie sê oor straf en rapporte en verhoudings… eintlik is dit meer ‘n vraag of drie: Dink jy dit is sinvol om selfone weg te vat van bv ‘n gr 11 wat swak doen in ‘n vak of twee? Nog ‘n vragie… wat gaan gebeur as daai selfde kind oor ‘n jaar die Universiteit tref? Laaste en heel belangrikste vragie… hoe gaan straf en selfone wegvat jou en hierdie kosbare kind se verhouding langtermyn beïnvloed? (Weereens praat ek hier glad nie van kids wat selfoon verslawings het nie, wat heeldag sit en speletjies speel nie)

Ons moet na rapporte en punte kyk met ‘n ewigheidsperspektief. En ja ek hoor jou hart, ek weet ons almal is effe bekommerd en ongemaklik oor die toekoms, waar hulle gaan werk, wat hulle gaan doen. Maar is God nie reeds in elkeen van hulle môres en toekoms nie? Is Sy planne vir hulle lewens nie reeds uitgewerk, en daar gestel nie? Ek wil jou herinner en los vandag met die oorbekende versie in Jeremia 29:11-12:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. (1983)

Here’s what YAHWEH says to you: “I know all about the marvelous destiny I have in store for you, a future planned out in detail. My intention is not to harm you, but to surround you with peace and prosperity and to give you a beautiful future, glistening with HOPE. When you call on me and come to me in prayer, I will listen to your every word. (The Passion Translation)

One Reply to “Rapporte, Punte, Gene en al daai lekker dinge…”

  1. Dit is so mooi en waar gestel Martha! God het my daaraan herinner dat die kinders wat ek grootmaak, eintlik Sy kinders is. Hy het spesifieke planne vir elkeen, maar hulle het elkeen hulle eie unieke reis en vorming om te doen. Ek moes leer om met wysheid en deernis te ondersteun en op te bou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *