Waarheid maak Vry vs Waarheid maak Seer.

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid,
sal Hy julle in die hele waarheid lei.
(Joh. 16:13)

Ons haal so baie graag die versie in Johannes 8:32 aan … en die waarheid sal julle vry maak. (Joh 8:32) Heel uit konteks en om ons eie agendas te ontmoet. Ek het wyd en syd gaan oplees oor hierdie versie: Dit kom hierop neer, ons is ALMAL sondaars. Dit is dié waarheid: ALMAL het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Rom. 3: 23-24)

Die waarheid is ons kan onsselwers nie red nie, nee ons het Jesus nodig. Ons is aangewese op die genade van God en die geskenk van Jesus aan ‘n houtkruis. Dis die kruisdood van my en jou Verlosser wat ons waaragtig vry maak.

In die lewe, dood en opstanding van Hom wat deur God gestuur is, het ons die WEG en die WAARHEID en die LEWE. Ons moet in die waarheid leef van wie Jesus is en wie Hy is wat in ons leef. Die waarheid is: wanneer Jesus jou vrymaak is jy waarlik vry!

So hoef ons dan nie altyd die waarheid te praat nie?  Wel as jy moet kies tussen die waarheid en ‘n leuen, kies altyd die waarheid. Verseker. Wat sê daai een versie in Deuteronomium: Lewe en dood. Kies sodat jy kan lewe. Daar is geen lewe in leuens nie, nie vir die een wat dit vertel nie en ook verseker nie vir die een wat dit aanhoor nie.

So wanneer ons moet kies of die waarheid vry gaan maak of seer gaan maak moet ons versigtig wees en kies! Die waarheid is ook soms jou waarheid vs my waarheid. Ek sê altyd die waarheid is veelsydig, jou waarheid oor die situasie uit jou perspektief en lewensondervinding, en my waarheid, en dan is daar die waarheid waarheid.

Wanneer ons die waarheid sal jou vry maak kaart wil speel, moet ons doodseker maak dat die woorde en die gedagte suiwer en lewensgewend is, anders maak die waarheid seer en moes jy werklikwaar liewerste niks gesê het nie. Ons moet nie kom moet ons streke en ietsie sê wat seer maak en dan haastig byvoeg, ek sê dit nie om jou seer te maak nie of soos die Ingelse sê: no offense nie!

Be mindful.
Be grateful.
Be positive.
Be true.
Be kind.
(Roy T. Bennett, The Light in the Heart)

Dis uitstekend maatstawwe vir woorde en waarheid. Is dit oordinkte woorde, het jy met God hierdie waarheid bespreek wat jy brand om te sê? Is dit positief, is dit sagkens op die siel en gees van die ander persoon? Die waarheid moet altyd in liefde, nederigheid en genade oorgedra word. Anders het jy ‘n ander agenda en die verkeerde tipe ‘waarheid’ beet.

Bybelse waarhede is nie waar omdat hulle in die Bybel staan nie; hulle staan in die Bybel omdat hulle waar is. (Anoniem) Ek wil ietsie sê oor Bybelse waarhede, die woord van God is lewendig en kragtig, ek glo dit met my hele wese. En as ligdraers moet ons natuurlik opstaan en sterkstaan vir dit waarin ons glo. Ons is immers ligdraers van die wêreld, maar ook moet ons versigtig wees om eerder meer te lei deur daad en minder deur woord.

Tans is hierdie aanhaling vir maande al op my swartbord in die kombuis: “Who you are speaks loudly, I can barely hear what you’re saying.” (Ralph Waldo Emmerson) Jy hoor vriendin, laat die stem van genade en liefde veel groter wees as die waarheid wat seermaak, verwoes.

En as jy enigsins twyfel of ‘n waarheid vertel moet word of nie, vra jouself af gaan die waarheid die persoon nader trek aan God se hart of verder? Gaan die waarheid stukkend maak en vernietig of werklik vry maak?

As jy dan waarhede wil verkondig, wat van: Sussie, God het jou bitterlik lief. God verlang na jou. God is nie kwaad vir jou nie. Party mense se waarhede is juis dit wat hulle ver van God af weghou. Onthou die waarste waarheid is dat ons almal sondig is en nie genade verdien nie, maar hier sit en ek jy, gebegenadigde dogters van die Koning.

Vriendin hierdie is my gebed vir myself (en sommer vir jou ook), wanneer ek moet kies tussen waarheid wat seer maak of vry maak:

Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my Redder. Stuur U lig en U waarheid dat dié my lei en my bring na U heilige berg, na U woning. (Ps. 25:5, 43:3)

Sanctify them in the truth [set them apart for Your purposes, make them holy]; Your word is truth.(John 17:17)