Ek staan die ander oggend voor die spieël en bekyk myself op en af en van die kant na daai kant, en ek dink by myself… lyk amper of ek bietjie gewig verloor het! En jy weet vriendin, dis hoe kragtig jou brein is en wat jy glo! Ek glo ek het gewig verloor, ek voel eintlik heel goed. Ek sleep toe die stowwerige skaal onder uit die hangkas uit… ai ek moes eerder net geglo het wat my oë gesien het. (Of altans gedink het hulle sien)
Ek klim op die skaal, die skaal kreun en steun en fluister benoud: “Klim eerder af!” Ai jai jai! En daar is die offisieël, ek het een van my eie rekords gebreek, na die verkeerde kant toe. Ek kyk beskuldigend na Menopause se kant toe, want sien iemand moet skuld kry! Dit het niks met my verkeerde eetpatrone van die afgelope paar maande te doen nie. Menopause tel net skouers op… en net daar whatsapp ek my Weigh Less tannie: “Ek sien tannie Vrydag!”
Ek glo vas dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves, en hoe weet ek dit is waar? Die oomblik toe die skaal op my gil en skree, toe voel ek dadelik minder seker van myself, en miskien tot selfs ‘n klein bietjie minder lief vir myself.
Maar ag dis sommer net ‘n stukkie van my sukkel met die ewige gewig. I wish I could lose weight as easily as I lose my keys, pen, cellphone, temper and even my mind. (Unknown)
Maar met die weer aan sluit by Weigh Less (vir die derde keer) dink ek toe sommer ook aan al die ekstra gewig wat ons so daagliks saam met ons sleep, al die bekommernisse, vrees, wat asse, sê nou maars, worry oor kinders, worry oor ons manne… ek weet jy weet presies waarvan ek praat.
None knows the weight of another’s burden. (George Herbert)
Las is nie heeltemal vir my so mooi soos sy Engelse maatjie nie. BURDEN. As jy die betekenis gaan opsoek van burden dan sê dit die volgende: a load, typically a heavy one.
Eintlik kort daar geen verdere verduidelikings of omskrywings nie. Iets wat jy dra, wat heeltemal te swaar is vir jou skouertjies, iets wat jy dra wat nooit joune was om te dra nie.
En ek en jy weet, ekstra gewig enige plek is ‘n uitkring besigheid, soos ‘n klip in die water, dit kring uit… jy begin kennis maak met sooibrand, jou klere wat laas seisoen lekker gesit het, sit nou minder lekker, en daar is ‘n paar plekkies in jou lyf wat protesteer, soos jou laer rug en gewrigte.
Net so met laste wat ons dra, bekommernisse en stress wat ons vreugde en vrede steel, en toe dink ek sommer aan die versie in Matteus 11:28-30 [2020] “Kom na My toe, ALMAL wat vermoeid en swaar BELAS is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed.”
Ek wonder steeds hoekom ek soms so verstrengel raak in my eie bekommernisse? Bekommernis verander niks nie, behalwe jou gemoedstoestand. (Anoniem) Behalwe dat ek dit eerstehands ervaar het, help bekommerd wees absoluut NIKS. Ek gaan dit weer sê: Bekommernis help ABSOLUUT niks! Dit gee jou iets om te doen, maar aan die situasie verander dit net mooi niks.
Ek ken nou nie jou bondeltjie bekommernis of las nie, miskien wag jy vir jou eie persoonlike wonderwerk om te gebeur, of jy het soveel vrae, en net mooi geen antwoorde nie. OF jy voel of jy geweeg en te lig gevind is deur die samelewing. Vat dit vir Hom, die uitnodiging staan, Kom na MY toe!
Gaan sit net bietjie in Sy teenwoordigheid, haal ‘n bietjie asem, maak jou leë erde houertjie weer vol van Sy hemelse vrede. Soek beskerming en versterking by Hom. Ons aardbewonders was nooit bedoel om die las alleen te dra nie, want anders wat was die punt van ‘n Verlosser?
Vriendin, miskien dra ek en jy so onnodig swaar omdat ons op ons self vertrou, op ons self aangewese voel. Ek het begin (en sommer net onlangs) as iets my hinder, bekommerd maak, angstig maak dan sê ek kliphard (want ek wil verseker hê die vyand moet dit ook hoor…) God ek vertrou U met hierdie persoon, met hierdie situasie of met hierdie emosie. Want, vriendin het Hy nie nog altyd vir my en jou alles ten goede laat meewerk nie? Veral as ons terugkyk op ‘n baie moeilike situasie, die goue draadjie van Sy genade is altyd daar te vinde, al moet ons soms mooi, fyn kyk…
Want lê ons krag nie juis in stil wees en vertroue nie? Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand vas. Ek wat vir jou sê, ‘Moenie bang wees nie- Ek is die Een wat jou help. (Jes. 41:13 [2020])
Hy het jou aan jou regterhand beet vriendin, jy is VEILIG by Hom. Jy kan met vrede en gemoedsrus, ligvoets, die toekoms instap saam met Hom, in die toekoms waar Hy reeds is!
Dankie Martha Jy praat elke week so in my hart
Al die Worship is so amazing!!!!
Wens kan dit net oorplaas vir my…
Liefde
T axx
Puik, soos altyd liefste Martha.
Dankie Vriendin. Die stukkie was net wat ek nodig gehad het ❤️