Ek is Naby!

Die Ingelse het ‘n woordjie met groot betekenis: Implode. [Collapse or cause to collapse violently inwards.] Wanneer dinge nie is soos dit moet wees nie, ver van ideaal, wanneer jy voor jou siel weet, jy is als, behalwe okay! Die mat van die lewe is onder jou uitgepluk en jy lê op die naat van jou rug en snak na asem…

Ek ken nie jou, wat hier lees, se storie nie. Ek ken nie jou verlies, jou pyn, jou struikeling, jou stryd waarin jy tans gewikkel is nie, maar vir jou wat hier lees vandag, wil ek sê, dis okay om nie okay te wees nie! Dis okay om nie te weet wat volgende is nie… Die Psalmdigters het ‘n paar Psalms geskryf, eintlik klaagliedere, want ook hulle het ‘n moment of twee beleef wat vorentoe, op kyk en voort beur, net glad nie ‘n opsie was nie, want in die oomblik tussen die woorde en bladsye van die Bybel ervaar ons, hulle was alles behalwe okay.

Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade, ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood. (Ps. 142:2-3) Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. (Ps. 5:2) Waarom staan U so ver weg, Here? (Ps. 10:1) Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak, en my dae met kommer deurbring? (Ps. 13:2-3) My God, my God, waarom het U my verlaat? (Ps. 22:2) Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. (Ps. 25:16) Ek het in my angs gedink: Dit is klaar met my… (Ps. 31:23)

So my vraag is vriendin, terwyl ons nou van okay praat, is dit okay om dan voor die Here van die hemel en aarde neer te syg en ons klaagliedere voor Sy hart uit te stort? Om te sê: Here ek kan nie, nog erger ek wil nie. Die ding hier voor my is onoorkombaar, ek het dit nie in my nie, ek is verslae en verslaan, ek is nie okay nie!

‘n Jaar of wat terug het ek so ek-is-nie-okay-seisoen beleef en in die midde van my stoei met God word ek met die volgende woorde in my hart wakker: Die HERE is naby… “Ek is naby…” fluister Hy wat my liefhet, Hy wat my in die skoot van my moeder gemaak het,  en in daardie een goddelike oomblik weet ek, al voel dit nie so nie, ek gaan okay wees. Die hele dag praat ek met Hom, want Hy is naby… ek huil ‘n paar verdrietige trane terwyl ek staan en stryk, waar niemand my kan sien nie, maar nie niemand nie, want Hy is naby. En terwyl Hy dan naby is praat ek met Hom.

Here, ek is glad nie so seker ek kan dit doen nie… “Ek is naby…” (Filip4:5) Here, ek voel swak en kragteloos. Help my! “Liefste dogter, was My genade nie nog altyd vir jou genoeg nie? My krag kom juis tot volle werking, juis wanneer jy swak is. (2 Kor. 12:9) Here dit voel dan kompleet of my hart uit my binneste wil skeur… Ek beskut jou onder My vleuels, Ek is vir jou ‘n veilige skuilplek. My trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees nie… (Ps. 4-5)

Ek ondervind in my dae van nie-okay wees hoe God se teenwoordigheid my salf word, hoe Hy ‘n laer om my trek. Ek voel hoe Hy my agter ‘n skild intrek, ek voel bedek en beskerm, Sy liefde en waarheid hou my regop en die skrif in Psalm 91:4 (TPT) raak my werklikheid, raak lewendig vir my.

His massive arms are wrapped around me, protecting me. I can run under His covering of majesty and hide. His arms of faithfulness are a shield keeping harm from me.

Ag my liefste vriendin, ek wil jou sommer kom bemoedig vandag, waardeur jy gaan weet ek mos nie, en jou pakkie is jou pakkie om te dra… maar God is getrou in die oppe, (want in die oppe leer ons Hom ken), maar veral in die affe van ons lewens (want dis hier waar ons God se hart vir ons leer ken). God is goed, al voel Sy goedheid anders as wat ons aardbewoners dit dalk kan beskryf. Laat Hy die LIG wees in jou donkerste nag.

Laat Hy hou HOOP wees, wanneer wanhoop aan jou deur kom hammer. Laat Hom toe om jou op te tel en styf teen Sy bors te dra… onthou jy nog van die een ry voetspore? Daar waar Hy jou gedra het, deur die swaarste, moeilikste tye van jou lewe.

En ons almal se nie-okay oomblikke lyk anders, voel anders, verloop anders… maar vir my en jou wat glo is daar ‘n gemene deler, Sy Naam is Jesus… en Hy is by jou en by my.

You are our King, the holiest one of all;
your wraparound presence is our protection.
Psalm 89:18 (TPT)

4 Replies to “Ek is Naby!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *