Vier Een Kolletjie Kolletjie Een Nul.

Was jy al so bang dat jy nie lekker kan asemhaal nie? ‘n Ongemaklike gevoel, maar tog ‘n gevoel waarmee ons almal eintlik heel goed vertroud is. Bang is ‘n emosie wat baie verg maar niks gee behalwe vrees nie. Vrees wat oorloop uit ons hart en menswees sit om in angs en paniek.

Ons het in Roodepoort gebly voor ons destyds Kaap toe getrek het, op daardie stadium het Manlief redelik uit gewerk, in ander lande en in ander provinsies. Dit het eintlik heel gereeld gebeur dat ek en die girls alleen by die huis was. Soms was ek banger as ander tye, Johannesburg is mos maar bekend vir sy Wilde Weste aspek. Boonop voel mens mos dan erg verantwoordelik vir die twee sussies wat God vir jou gegee het om groot te maak.

Nietemin, een aand sit ek en die girls op die bed, en hulle is nog so bitterlik klein. Ousus was seker 6 en kleinsus 2 en ‘n bietjie. En hierdie mamma is bang, baie bang. As die honde blaf gaan kyk ek, ek sê niks nie, maar so goed soos ons dink ons kan emosies vir ons kinders wegsteek is dit eintlik lagwekkend hoe maklik hulle deur ons sien.

Ek het ook die gewoonte gehad om hulle tweetjies by my in die kamer te laat slaap, ene op die grond en die ander sussie in die bed saam met my. Môre aand dan ruil hulle weer om. Dan sluit ek ons drietjies mooi toe en ek voel in my kop veiliger.

Ek kan nie heeltemal onthou wat aanleiding gegee het tot die gesprek nie, maar ousus wat toe net begin het in Graad 1 sê vir my ‘n eienaardige ding: Sy wys met haar vingertjies ‘n vier en ‘n een en sy sê dan twee kolletjies en ‘n een en ‘n nul. Ek verstaan eintlik glad nie wat die klein lyfie vir my probeer sê nie, maar uiteindelik kom ek agter sy praat van ‘n bybelversie wat haar juffrou Coulson die oggend vir haar geleer het. Ek blaai toe maar baie geduldig deur elke boek van die Bybel wat 41 hoofstukke het, en toe ek Jesaja 41:10 lees raak sy opgewonde: Dis dié ene!

Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou,
Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.

 Die oomblik toe ek die versie lees het dit gevoel of die God van die hemel en aarde daar langs my op die bed kom sit en my sagkens in Sy omhelsing intrek. Die oomblik wat ek die bangheid die felste aan my lyf en siel gevoel het daag die Koning van die heelal op en Sy woorde is soos manna vir my bang. Watter beter belofte om aan vas te hou die res van jou lewe as jy bang is?

God gebruik soms ons kindertjies om boodskappies uit die hemel oor te dra. Miskien as Hy sê Hy gee Sy engele oor jou opdrag, partykeer gebruik Hy sommer die kinder-engeltjies in jou huis. Vrees en bang het ‘n manier om jou oë en jou ore te sluit vir God. En die Satan? Hy love dit, lekkerste wapen ooit wat hy teen jou gebruik. Weet dit en waak daarteen. Hoe meer vrees daar in jou gees is hoe minder plek is daar vir geloof, hoe hardhorender raak ons.

Ek het al vergeet van die insident en vandag kom herinner God my weer daaraan, miskien is banggeit besig om die oorhand oor jou te kry. Die vrees ‘n ewigdurende ongenooide gas in jou binneste. Dan wil ek vandag vir jou sê: God sien, God weet. Hy is reeds langs jou, raak net bewus van Sy teenwoordigheid. Laat Hy die bang in jou hart vervang met Sy liefde.

Hy is by jou in Sy arms is jy veilig, lê terug in die arms van jou Vader, gee al jou bang en vrees vir Hom. Versterking en hulp kom net van Hom af. Hy maak bemoeienis met jou emosies, was Hy nie self mens nie, was Hy nie self doodbang nie?

God sê vandag vir jou wat moeg is van vrees en bang se chroniese teenwoordigheid in jou alledaagse lewe:

Ek is jou lig en jou redder liefste kind, vir wie sal jy dan bang wees? Ek is jou toevlug, hoekom vrees jy dan? (Ps. 27:1) Gee jou sorge en vrese vir my, laat My toe om vir jou te sorg. (Ps. 55:23) Ek is by jou, Ek sal jou nooit in die steek laat nie, jou nooit alleen laat nie. (Deut. 31:6) Ek hoor, My Engel slaan sy laer op rondom jou. (Ps. 34:7-8) Die dag wanneer jy bang word, vertrou net op My. (Ps. 56:4)

 Toe jy met baie onrus in jou binneste gesit het, is dit nie My vertroosting wat jou tot rus gebring het nie? (Ps. 94:19) Bedaar liewe dogter, en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. (Ps. 46:11) Moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou en Ek is ‘n groot en magtige God. (Deut. 7:21)

 

4 Replies to “Vier Een Kolletjie Kolletjie Een Nul.”

  1. God praat op die wonderlikste maniere met ons soos jou mooi storie van getuig. Ek het ook ervaar dat Hy my kinders gebruik het om tot my deur te dring. Ek was eenmaal by ‘n doodloopstraat in my lewe en toe vra my seuntjie: “Mamma hoe sterk is God? Is Hy so sterk dat as daar ‘n groot klip in die pad lê Hy dit weg kan vat?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *