Weet Beter… doen Beter.

Wees ‘n liefdevolle, betroubare en vergewensgesinde ouer. Dan sal jou kind weet  waarvan mense praat wat sê dat God ‘n Vader is wat vir sy kinders omgee. (Anniéria McFarlane)

Sjoe dis ‘n kla-tema by menige koffie drinke en bymekaar komme nê? Die té groot emosies wat tieners ervaar vir sulke partykeer klein lyfies. Hoekom is tieners so emosioneel of eerder oor-emosioneel? Van laag na hoog en al die variasies in die middel.

Vriendin maar het jy geweet ‘n tiener/jong volwassene se brein, die deel wat met emosies werk, is eers volledig ontwikkel teen middel of laat twintigs? Het jy geweet hierdie deeltjie is die einste deeltjie waar die emosie sentrums is? En besluitneming en beplanning, en ek is seker nog ‘n paar goedjies wat ek en jy nie eers van bewus is nie.

So vandag gaan ek die tieners se kant vat en vra… kan ons hulle nie maar net ‘n bietjie ‘slack’ gee nie? Jy weet, ons het oor baie goete geen beheer nie, wat gebeur, die lewe, probleme, krisisse, maar hoe ons optree en reageer daarop het ons wel beheer. Daar is ‘n besluit en ‘n denkproses by betrokke.

Daar is ‘n vreeslike oulike FB groepie: Ouer-Tiener Harmonie. As jy nog nie van die groepie weet nie, gaan loer bietjie. Jy sal agterkom jy is nie alleen nie, en jy sal agterkom daar is baie ouers wat hande in die hare sit met tieners … en dit weer maak mens diep dankbaar en maak dat jy klein bietjie anders na jou eie tieners kyk.

Stefanie Minnaar, ‘n Narratiewe Pastorale Berader van die Ouer-Tiener Harmonie FB blad sê altyd: If we know better, we can do better. Dis mos waarheid!! Net hier iewers in die week dink ek aan tieners en hoe dit regtig egtig nie kan maklik wees om in vandag se tyd tiener te wees nie. Luister ons het nie ‘n idee nie, ons tienerjare was sorgvry en maklik teenoor dit wat ons tieners ervaar. Sosiale media is die grootste sondebok, en natuurlik die wêreld wat teen ‘n spoed verander het.

Soms vang ek myself dat ek sommer net ‘n bietjie swartgallig voel, ek weet nie regtig hoekom nie, ek beleef net ‘n af-daggie, en dan moet die kinders nie karring nie en Pappa moet liefs nie vra wat is fout nie? Wat ek soek is vrede en genade van die mense wat my lief het. En miskien tee…

Vriendin, en ons beleef allerhande emosies op ‘n daaglikse basis, ons voel moeg en geirriteerd as ons warm kry. Ons voel oorweldig deur werk, kinders, kos, huis. Ons voel af as ons die nuus gelees het, ons voel hartseer as ons ander mense se pyn sien en beleef. Ek en jy voel gefrustreerd met kinders en wasgoed wat nooit ophou nie. En ons raak kwaad en beduie as daar ‘n taxi voor ons inry en jy moet remme aanslaan…

Dis hoe ons optree, maar as die tiener in dieselfde huis so af-daggie beleef oor allerhande tiener probleme wat pla en skaaf is ons genade soms net-net te min. So ons verwag van ons tieners om minder vol #%& te wees en op te tree soos grootmense met ‘n halfontwikkelde brein!?

Weet jy wat het ek agtergekom, baie van die emosiebelaaide-ontploffings is baie keer ‘n ouer wat iets sê wat die lont aansteek in plaas van om die situasie te ontlont. En weet jy wat, wegstap uit ‘n situasie is ook ontlont. As jy woes geirriteerd en moeg en oorweldig is en iemand se vir jou: ‘Ontspan net, dis nie nodig om jou alie te wip nie!’ Gaan jy vol vrede omdraai en sê: ‘Weet jy wat jy is so reg! Ek voel sommer klaar tonne beter… baie dankie!’

Hoe kan ons as ouers beter weet, en beter doen?

Praat minder.  Soms wanneer ouers praat en praat is al wat die tieners hoor blah blah blah… Wat raad gee oor alles, en opinies het oor almal. Jy is nie jou tiener se persoonlike probleemoplosser nie. Hoe gaan hulle ooit hierdie vaardigheid aanleer as dit die heeltyd mamma is wat kastaaings uit die vuur krap?  Wat van as hulle met ‘n probleem kom dan sê ek en jy: Sjoe sussie, dis ‘n tawwe een, wat dink jy gaan jy doen?

Luister meer. Ons moet luister om te hoor, nie om te antwoord nie. Sodra jy begin antwoorde en oplossings formuleer in jou kop, luister jy nie met jou hart nie. En hoor jy ook nie die woorde van haar hart nie, want partykeer wanneer sy alles gesê het hoef jou respons niks meer te wees as: “Sjoe, mamma hoor wat jy sê!”

Gee die aflos-stokkie van verantwoordelikheid finaal oor. Dit help nie ons ‘nag’ oor skoolwerk en huiswerk, en take nie. Dit veroorsaak net konflik en skree-gevegte. Al wanneer hulle gaan leer is wanneer hulle die onverantwoordelikheid en moeilikheid aan hulle eie basse voel. Hulp is nie om jou kind se take namens hulle te doen nie. Iewers moet hulle leer, verkieslik voor varsity… anders help jy hulle mooi van die wal af in die sloot.

Moenie reageer op hulle emosies nie. Vriendin, dit is nie die moeite werd nie. Ek en jy is mos die grootmense. En as hulle kom moeilikheid soek met jou, dan bly jy so paar sekondes stil en sê dan: “Mamma is nie nou lus vir baklei nie, miskien bietjie later…”

Ons gooi te maklik olie op die vuur van emosies en verwag dat die besigheid nie gaan onplof nie. Stap weg uit ‘n plofbare situasie en soek eers na ‘n werkbare situasie wanneer almal, ALMAL, kalm is. ‘n Emosiebelaaide tiener se ore is bot toe!

Vriendin, ons kinders is net in ons huise vir ‘n kort tydjie. 18 Jaar, soms ‘n bietjie langer. Laat ons die jare wat ons saam met hulle  het uitkoop en die beste daarvan maak. Kom ons tel ons woorde en ons seëninge wat ons tieners aanbetref. Laat ek en jy die mamma wees wat meer genade as raas uitdeel. Mag ek en jy die mamma wees wat verby die baie emosies kyk en ons kinders se harte regtig raaksien! Kom ons doen beter want ons weet beter.

3 Replies to “Weet Beter… doen Beter.”

  1. Hi Martha ek hou baie van wat jy geskryf het en ook van jou blog. Ek gaan verseker jou ander skrywes ook lees. Dit is iets wat ons in gemeen het. Ek het ook ‘n blog wat ek gebruik om nuus vir my familie en vriende vanuit Switserland te stuur.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *