Gooi Jy die Heel Eerste Klip.

Genade onbeskryflik groot, is seker een van die gewildste liedere. Hoekom? Mense smag na genade. Alle mense. Die kerk, Christendom en moontlik ek en jy  het dalk bietjie vergeet wat genade is en presies hoe dit lyk.

Genade onbeskryflik groot
Het U aan my bewys
Verlore seun, ‘n wegloopkind
Weer in die Vaderhuis

Ek is die naam van kind nie werd
Wou self my sake reël
My lewe, kanse, tyd en geld
Is nutteloos verspeel…

Moet ek en jy nie die genade wat ons in oorvloed ontvang het kan uitdeel nie? Sal mense my en jou genade teenoor ander ook kan beskryf as onbeskryflik groot? Ek wonder oor hierdie dinge vriendin.

Ek dink vanoggend weer aan die versie in Lukas 5:31 wat praat van gesonde mense wat nie ‘n dokter nodig het nie, maar wel siek mense. Ek het onlangs die boek: What’s so amazing about grace? Van Philip Yancey gelees. (As jy ooit die boek iewers in die hande kan kry, lees dit gerus.) En dis ‘n oog-oopmaak tipe boek wat jou uitdaag om heeltemal anders te dink oor genade.

Grace teaches us that God loves because of who God is, not because of who we are. (Philip Yancey)

Ek dink sommer vanoggend so tussen aantrek en mooimaak as Jesus nou in die straat afgeloop kom sou Hy aan my deur geklop het om in te kom? Sou Hy by my wou kom eet? By my kom koffie drink het? Die antwoord… beslis nie. Nie omdat Hy my nie liefhet nie, maar Sy genade het my jare terug al bygekom. Waar sou ek Hom dan gevind het in die strate? Ek dink ek sou Hom gevind het tussen die haweloses en die prostitute… die mense wat smag na genade en dit heel waarskynlik die minste sien, en aan hulle harte en lywe voel.

Mense bly uit die kerke uit, want dis meermale die plek waar hulle ongemaklik voel, waar genade ontbreek en waar hulle veroordeel en geoordeel voel. Ai en my hart is nooit ooit om op mense se tone te trap nie, so hoor my hart… ek dink sommer vandag spesifiek aan mense wat Homoseksueel is, wat aan die hele spektrum van die LGBTQIA behoort, en hoor mooi, ek praat vandag glad nie oor sonde nie, maar oor genade teenoor sondaars. Genade teenoor mekaar: For there is really no difference between us, for we all have sinned and are in need of the glory of God. (Rom. 3:23 TPT) Ek en jy is albei sondig en het genade broodnodig.

Die oordeel kom ons nie toe nie, dis nie ons werk nie. Ons werk is om in liefde ander na Jesus te lei… Om Jesus vir ander te wees en te wys. Genadeloosheid en onvergewensgesindheid is vriende wat graag saam kuier. Vergifnis is ‘n vorm van genade, en vergifnis maak vry, veral vir die een wat moet vergewe…

Daar is so kosbare gedeelte in die Bybel oor genade… Dit vertel van ‘n vrou wat op heter daad betrap is waar sy owerspel gepleeg het- strafbaar met die dood. Jesus buk af en skryf iets in die sand… ek wonder tog wat Hy geskryf het? Nietemin dit is wat Hy vir die Fariseërs en die skrifgeleerders en ook vir my en jou sê… “Laat die een wat sonder sonde is, die eerste klip na haar gooi.” (Joh. 8:7 2020) Jesus probeer my en jou nie oortuig dat sy nie skuldig is aan die aanklag nie, maar laat die een wat nie sonde het nie, die eerste klip gooi. Wie was die enigste mens wat geleef het ooit wat nie sonde gehad het nie?

Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie? Sy antwoord: “Niemand nie, meneer” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. (Joh. 8:10-11)

The only One qualified to throw a stone… didn’t.

Jesus haat die sonde, maar die sondaar het Hy lief. Want as Hy nie die sondaar liefgehad het nie, was daar absoluut niemand om lief te hê nie.

En skielik besef ek die waarheid van die volgende aanhaling: Christians get very angry toward other Christians who sin differently than they do. (Philip Yancey) Groot en klein sondes bestaan daar nie. Sonde is sonde, en genade is genade. Wanneer ons tot hierdie besef kom, dis wanneer ons die klip moet neersit en wegstap…

“My genade is vir jou genoeg.” (2 Kor 12:9) Ongeag die omstandighede en die seisoen waarin jy jou tans bevind. God se genade is in die hede, die hier en nou. Beskikbaar en genoeg. Steek net jou hande en ontvang Sy genade onbeskryflik groot. Genade het wel ‘n prys, dis genade wat ons losgekoop het, wat ons gered het van ‘n versekerde kruisdood. Gryp Sy genade aan en bêre dit in jou hart, want Sy genade sal jou bykom tot in die donkerste hoekie van jou hart.

Remember this: sin will not conquer you, for God already has! You are not governed by law but governed by the reign of the grace of God. (Rom. 6:14)

Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tervergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander- eintlik nie ek nie, maar die genade van God wat met my is. (1 Kor. 15:10 2020)

We’re all oddballs, but God loves us anyhow. (Philip Yancey)

 

2 Replies to “Gooi Jy die Heel Eerste Klip.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *