Ma, jy het self geen groot katedrale gebou nie, maar jou hele lewe was ‘n katedraal ter ere van God. (Thomas Fessenden)
Hierdie stukkie het ek ‘n paar jaar terug geskryf, ek het dit so bietjie afgestof, want ek dink ons mammas moet meer as gereeld hoor: Dis okay om nie perfek te wees nie…
Kleinsus was nog iewers in die laerskool toe ek haar een oggend skool toe vat. Ons is nie laat nie, ons is nie gejaag nie, ons is net lekker. Hier voor my trek ‘n groot voertuig met ‘n ruk op die sypaadjie op en daar vlieg ‘n mamma uit, maar sy is nie vies nie, sy is nie kwaad nie… sy is woedend. Sy gooi haar kinders se tasse op die sypaadjie, klim terug en ry weg… sonder ‘n baai, ‘n drukkie… en die ou dogtertjie loop so skrams verby ons en die gesiggie is besmeer met trane… en ewe skielik voel ek sommer ook na huil…
Vir die meisiekind met die betraande gesiggie, maar by verre voel ek die heel jammerste vir die ma… want ek weet, sy ry nou huis toe, sy huil waarskynlik self en sy weet vandag gaan sy nie vir die Ma van die jaar toekenning genomineer word nie, nie eers naby nie!
Luister, geen oordeel of veroordeling van my kant af nie, en al lyk my storie nie soos hare nie, weet ons almal baie goed. Sommige oggende is ek en jy daai mamma wat goed gesê het, nie goed-oordinkte woorde nie, maar verkeerde woorde wat nie lewe spreek nie. Teen die tyd wat ons by die skool stop is die kinders se hare skoon in ‘n ander windrigting in geskree …
Jy weet, soms val ons kinders aan die verkeerde kant van die bed uit… hulle kom al skoorvoetend en skoorsoekend in die gang af gedrentel, met ‘n houding… hulle is soos ‘n klein klippie wat in ‘n mens se toe-skoen vassit, dit krap en skaaf en irriteer, soos die oggend vorder, raak daai selfde klippie ‘n yslike blaas en dan moet die skoen uit, en die ma ontplof en die kinders moet liefs koes.
Soms, en dit gebeur nou nie baie nie, as ek by die skool stop en daar was ‘n onderonsie in die motor dan sê ek baai en ry weg met ‘n swaar hart. So in die terugry huis toe bel ek altyd my klankbord, my arme liewe man wat altyd die treurmares moet aanhoor, dan huil ek bietjie in sy oor en dan voel ek sommer weer beter. As hy antwoord dan sê ek sommer vinnig… ek het nie vanoggend die ma van die jaar toekenning gekry nie!
Ek ken ‘n vroutjie en sy whatsapp my die ander dag met die volgende: “Ek gaan beslis nie vandag genomineer word vir ma van die jaar nie, ek het oor my kind se voet gery, voor die skool ten aanskoue van almal, nie uit kwaad nie, sommer net heel per ongeluk.” Ai en ek moes lag, en nee dis seker nie snaaks nie, sy moes vir sussie dokter toe vat om doodseker te maak alles is nog mooi in plek en heel.
So het ek en jy altwee ons eie storietjie om te vertel… wat ons nie top tien sou gehaal het nie met dit wat ons gesê het of dalk gedoen het, of nie gedoen het nie. Ek besef ook die ander dag net weer, mammas is maar net mense. Ons is nie volmaak nie, ons weet nie alles nie, ons is alles behalwe perfek, maar die een ding wat hulle nie van ons kan sê nie is dat ons nie probeer nie.
Jare terug in ’n gesprek erken ek aan ‘n vriendin dat ek bitter sleg voel as ek op my girls skree. Sy kyk my verbaas aan en sê: “Ek is so bly om te hoor jy skree ook op jou kinders, ek dog ek is die enigste een!” Nee my liewe vriendin jy is nie die enigste een nie.
So, is dit okay om op jou kindertjies te skree? Ek het al agtergekom hulle ore slaan bot toe as jou stem ‘n paar desibels opskuif, jy weet daardie gesiggie wat sê: die ligte is aan maar niemand is by die huis nie. So die vraag is eerder… is dit sinvol? Help dit as jy op jou kids skree? Nee seker nie… so ek probeer my bes om dit nie te doen nie, net omdat ek so sleg voel agterna en dit in elk geval niks aan hulle gedrag verander nie, om die waarheid te sê dit leer hulle eintlik net om op ander en op jou te skree.
So miskien sê ons net vandag vir mekaar, dit maak jou nie ‘n slegte ma as jy soms op jou kids skree nie. Jy is nie alleen in hierdie mamma-stryd nie. Ons almal voel met tye moeg, moedeloos, oorwerk, oorweldig en ongeduldig. Dis OKAY. Jy is die beste mamma vir die kindertjies wat God vir jou gegee het en ek wed jou vir ander vertel daai klein gesiggie: “My mamma is die beste este mamma in die hele wye wêreld.”
Ek dink nie jy hoef perfek te wees om genomineer te word vir die ma van die jaar toekenning nie, ek dink mammas word genomineer vir probeer, weer probeer, opstaan, jammer sê, en weer begin. ‘n Goeie ma is nie ‘n perfekte ma nie. ‘n Goeie ma is ‘n ma wat erken wanneer sy verkeerd was en nie sukkel om te vra: “Vergewe my?” nie. ‘n Goeie ma is ‘n ma wat nooit ophou probeer om beter te wees nie.
Die heel belangrikste wat sy oor die jare geleer het, is dat daar geen manier is om ‘n volmaakte ma te wees nie, maar ‘n miljoen maniere om ‘n goeie ma te wees. (Jill Churchill)
Het nou die stukkie so geniet. Bly om te hoor ander sukkel ook om Mamma van die jaar toekenning te wen 😁
Ja, Nee vriendin, jy is verseker nie alleen nie!