God is ALLES.
Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan het, het sonder Hom tot stand gekom nie. (Joh. 1:3) Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. (Ps. 119:91). Inteendeel, dit is U wat aan almal lewe en asem en alles gee. (Hand. 17:25)
Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. (Ps. 34:5) Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit het. (Job 42:2)
Ons weet ook dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is. (Rom. 8:28) Meer as dit, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. (Rom. 8:37)
U is by my, Here, alles wat u gebied het, staan vas. (Ps. 119:151) Genadig en barmhartig is U, Here, lankmoedig en vol liefde. U, Here, is vir almal goed en barmhartig… oor alles wat U geskep het. (Ps. 145:8-9)
Met sekerheid en ‘n geloof in my God weet ek: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filip. 4:13) U Here sal vir my alles goed laat afloop. (Ps. 138:8) Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik. (Matt. 19:26)
Aan U behoort die hemel, aan U behoort die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak. (Ps. 89:12) Groots is alles wat U doen, Here, ondergrondelik U gedagtes. (Ps. 92:6) Alles wat U immers gemaak het is goed! (1 Tim. 4:4)
Wie in die hemel of op die aarde is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien? (Ps. 113:5-6) U het alles in wysheid geskep. (Ps. 104:24) Daar is ook niks in die skepping wat vir U onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor U oë. (Heb. 4:13)
Alles wat U wil doen, doen U! (Ps. 115:3) Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep. (Openb. 4:11) U weet alles! (1 Joh. 3:20)
Ek sal die troue liefde van die Here verkondig, die roemryke dade van die Here, alles wat Hy vir ons gedoen het, sy groot goedheid vir Israel, alles wat Hy gedoen het in Sy genade, in Sy groot liefde. (Jes. 63:7) Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! (Rom. 9:5)
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. (2 Pet. 1:3)
God is vir ALTYD.
U was nog altyd bereid om te help in nood. (Ps. 46:2) Help my tog altyd, want ek stel U bevele eerste. (Ps. 119:173) Dit weet ek nou vir eens en verseker. Vir my help God altyd, die Here hou my lewe in stand. (Ps. 54:6) Ek onthou weer, God sorg altyd vir my. (Ps. 52:3)
Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. (Ps. 16:8) Hy sal my beskerm waar ek ook gaan, nou en vir altyd. (Ps. 121:8) Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei. (Ps. 48:15)
Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd. (Ps. 131:3) Sy dade is vol majesteit en luister, Sy trou staan vir altyd vas. (Ps. 111:3) Ek dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. (Ps. 25:6) Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug. Waar ek altyd die veiligheid mag vind wat U tot my redding beskik het, want U is my rots en my vesting. (Ps 71:3)
U heers vir altyd. (Ps. 102:13) U Woord Here, staan vir altyd vas. (Ps. 119:89) U, Here bly altyd Koning. (Ps. 10:16)
Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet, (Ps. 119:132) want Here my God, my oë is altyd op U gerig, dis U wat my voete uit die vangnet sal hou. (Ps. 25:15) Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand, aan U behoort ek vir altyd. (Ps. 73:23, 26) Ek bly altyd naby U, U hand ondersteun my. (Ps. 63:9) Here, U is altyd daar, U is daar van geslag tot geslag. (Ps. 135:13)
U liefde en U trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde. (Ps. 89:3) U is die God wat my altyd help. (Ps. 88:2) U bly vir altyd getrou. (Ps. 146:6) U is die Ewige God, U is my skuilplek, U arms is altyd onder my. (Deut. 33:27) U het ons verlos deur U liefde en ontferming; Ons opgetel en ons altyd gedra. (Jes. 63:9)
U is my God.
U was nog altyd daar.
U is in alles.
Ingeweef in my bestaan en menswees.
U is alles vir my, vir altyd.
Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang het kom alles van U af.
(Ps. 16:5)
Oe elke gedeelte is so opbouend, dankie! Skatkamer van hoop. Watter vertaling gebruik jy? So mooi.
Hallo Alta.
Dankie vir jou boodskappie.
Ek gebruik meestal die 1983,
maar is ook lief vir 1953 en die
nuwe 2020 is ook vir my mooi.
Amen 🙏 regtig opbouend