Buig die Boompie terwyl hy Jonk is.

Ons het twee baie sterk koorsbome voor ons huis, hulle is pragtig, groot en sterk. So plant ons nog drie veel kleiner koors boompies in die tuin. Nie ek of manlief het besonderse groen vingers nie, so ons het besluit op ‘n immergroen-geen-nonsens tuin.

Nou staan die drie boompies in ons tuin, en dit lyk amper soos ‘n woud, want ons het mos nou 5 koorsbome, probleem is net, die baba-boompies is nie so standvastig nie, hulle is lui en as die wind net so bietjie waai, gaan lê hulle sommer skeef en plat. So begin manlief hulle so klein-klein aan die heining vasmaak om hulle regop te kry. Die middelste boom is veral weerbarstig en van samewerking en regop groei is daar min tot geen sprake. Die boom wil nie soos ons wil nie. Hy maak en groei soos hy wil.

Nou na drie jaar van vasmaak, en self later tuisgemaakte stutte indruk wil hierdie boompies niks weet nie, die een naaste aan die huis wat die minste wind vang, eintlik doen hy goed, laat ek hom nou nie insluit by die ander twee probleem-boompies nie. Die een in die middel is die sterkste maar by verre die skeefste, en die ene heel regs lê met sy gesig teen die gras vanoggend. Moeg geprobeer regop bly.

Ek moet net keer, want manlief dreig om my boompies met sy Hi-Lux uit die grond te trek. Ek wil nou nie noodwendig dit hê nie, want twee bome is sekerlik nie ‘n woud nie!

En hierdie klein woudjie van my het vir my ‘n paar lesse geleer… ons het ‘n fout gemaak deur hulle so klein vas te maak aan die heining, want sien hulle het nie die lus of die nodigheid gesien om self regop te groei en sterk te word nie, ons het te veel gedoen om hulle regop te hou. Teen die tyd moes hulle al sterk gestaan het… doen ons nie presies dieselfde met ons kinders nie? Is ons help, help? Of is dit van die wal in die sloot inhelp?

Ek lees die anderdag iewers iemand skryf dat jy niks vir jou kinders moet doen wat hulle vir hulle self kan doen nie, want dis nie help nie, dan maak jy kinders groot met ‘entitlement’ en asof dit nie erg genoeg is nie het hulle krom handjies wat absoluut niks kan doen nie.

En kinders reageer verskillend op hierdie ‘stutte’ wat ons gebruik om hulle te vorm. Jy kry die wat soos die boompie naaste aan die huis nie baie gepla is, en ten spyte van die stutte self regop groei en floreer. Dan kry jy die middelste boompie wat soos middel kinders amper ‘n kompleks het en weerbarstig groei, op sy eie pad, en dan die kleinstes wat sommer gesig in die gras inploeg wanneer jy die stutte so bietjie losmaak en die wind so bietjie rof raak.

Die professionele mense, wat weet wat hulle doen, gaan nou die boompies kom stut. Die stut hou nie die boompie regop nie, die stut gee net rigting en keer as die boompie begin val na voor of agter. Vriendin, en as ek en jy ons kindertjies wil help en ondersteun, is dít die tipe stutte wat hulle nodig het om sterk te wees en te staan. Nie om namens hulle alles te doen, alles uit te sorteer, die lewe namens hulle te leef nie, maar om ondersteunend te wees, sonder om versmorend te wees, en soms is daardie lyntjie baie fyn en ons as ouers moet op ons hoede wees om nie die verkeerde stutte te wees nie.

As jy vir jou kind die regte egte stutte van die lewe wil gee, gee vir hulle Jesus. Vestig hulle identiteit in Hom. Leer hulle dié onwankelbare waarhede oor hulself en wie hulle is in Hom, dat dit die waarhede wees wat hulle stut hul hele lewe lank.

Jy behoort aan die Here. (Rom. 14:8)
Nog voordat die wêreld geskep is,
is jy deur Jesus Christus uitverkies. (Ef. 1:4)
Sy Gees woon in jou. (Rom. 8:11)
Jy het God se krag. (Ef. 6:10)
Die Here van die hemel en die aarde het jóú lief. (Jes. 62)

Leer hulle: God is goed. Altyd. In alle omstandighede. Dan kan die lewensstorms maar kom. Die Here is goed vir jou, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. (Nahum 1:7) Hy beskut jou onder Sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. (Ps. 91:4)

Leer hulle waar hulle hulp vandaan kom, om sodra die uitkyk donker lyk die opkyk te probeer. Ek kyk op na die berge waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm slaap nooit. (Ps. 121:1-2)

Leer hulle waar hulle, hulle laste kan gaan afgooi, “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op jou en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jy sal rus kry vir jou gemoed. My las is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30)

As jy wil iets wil doen om hierdie stutte stewig te hou, bid vir hulle. Aanmekaar sonder ophou, want nie een mamma-pappa-stut kan doen wat ‘n Jesus-stut doen nie.

What delight comes to those who follow God’s ways!
Their pleasure and passion are remaining
 true to the Word of “I am,”
meditating day and night in His true revelation light.
They will be standing firm like
a flourishing tree planted by God’s design,
deeply rooted by the brooks of bliss,
bearing fruit in every season of their lives.
They are never dry,
n
ever fainting,
ever blessed,
ever prosperous.

(Psalm 1:1-3 TPT)

2 Replies to “Buig die Boompie terwyl hy Jonk is.”

  1. Dit is SO ‘n kosbare stuk wat jy geskryf het Martha en om die Metafoor van die 3 Koorsboompies te gebruik. Dit is net ‘n Mamma met baìe insig, baìe liefde en baìe en sterk geloof wat so kan skryf. Liefde vir jou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *