‘n Prins of ‘n Skollie?

Ek is goed met prekies afsteek, ek sal wel erken dat my tydsberekening soms bietjie skaafwerk kort, maar met die prekies self skort daar niks. So leer ek van kleins af vir my girls oor die regte maat kies, ag as jy wil, kan jy dit selfs breinspoel noem…

Ons het die gewoonte om op pad skool toe ‘n stukkie te lees of om ‘n liedjie te luister, en soms bid ons sommer so vir almal in die ry. Kan ek net sê ek mis vir Ousus in die oggende in die kar? Elk geval, soms, so uit die bloute uit sê ek kom ons bid sommer vanoggend vir julle mans van eendag, want gebede is kragtig, God hoor elke versoek.

Ek laat geen oomblik ‘n leergeleentheid deur my vingers glip nie. Luister jou tieners se hormonale bril waardeur sy mannetjies bekyk moet soms bietjie skoongemaak word, deur jou, haar eie persoonlike mamma. Leer haar, jy kan nie ‘n Skollie kies en dan verwag hy gaan jou soos ‘n Prinses behandel nie. Skollies bly Skollies, maar Prinse raak Konings, Priesters en Profete in hul eie huise. Prinse dra hulle vrouens van eendag op die hande, Prinse is geduldig en kan wag. Prinse herken Prinsesse.

Ongelukkig lyk menigte Skollies soms ouliker as ‘n Prins oor voor die handliggende redes. Almal wil mos maar met Mnr Populariteit uitgaan, vir die malva in die hoed steek besigheid en nie noodwendig vir die Prins eienskappe wat soms so duidelik ontbreek nie.

Belangrike punt. Jy kies. En jy beter reg kies, want jou naam word direk gekoppel aan elke keuse wat jy maak. Eintlik word jou naam in HOOFLETTERS gekoppel aan al die verkeerde keuses wat jy maak. Leer jou meisiekind, haar naam is ‘n kosbare kommoditeit wat ver meer werd is as al die goud in die wêreld. Sy moet haar naam bewaar soos ‘n kleinood.

As jy van kleins af vir hulle vertel hoe die ouens nie moet lyk nie, dan het hulle ‘n baie beter idee hoe die moet lyk wat wel oor die drumpel welkom is. Jy ken mos die wat rondloop asof hulle die mack van die plek is, die wat hulle oë stadig knip, want hulle is net só cool. As jy nie die tipe ken nie, kyk net vir die  wat se broeke ver onder die agterstewe hang… een en dieselfde ding. Ek het mooi vir my girls gesê… ek kan en gaan nie die mannetjies se veiligheid waarborg aan dié kant van die drumpel nie.

Hier is ‘n Pappa se insette natuurlik ook broodnodig. Nie om namens hulle te kies of te baklei nie, maar om die voorbeeld te wees van hoe ‘n Godvresende man behoort te lyk, sodat hulle kan vergelyk en sien wie het potensiaal en wie skiet ver tekort. Dis ook ‘n pappa se werk om meer as gereeld vir sy dogters te vertel hoe mooi hulle is. Dis hy wat hulle leer dat hulle genoeg is, geliefd is, kosbaar is.

Pappas moet ook kwaai wees, hulle moet beslis nie buddy-buddy wees met die  wat dit oor die drumpel waag nie. Hulle moet ‘n goeie dosis vrees hê vir die man van die huis.

Ek onthou, toe Ousus in graad 7 was het sy eenkeer saam met ‘n outjie gaan fliek in ‘n groepie. Ons het haar gaan aflaai by die mall. Die arme ding moes my man se blad skud en hom in die oë kyk. My man het die mannetjie mooi vertel dat Ousus sy prinses is en hy beter haar so behandel. Die arme ding se verliefdheid het net daar getaan en ‘n dag of drie daarna heeltemal verdwyn.

Ons moet ons dogters van kleins af leer, jy kan nooit tevrede wees met tweede-beste nie. Nee, wat jou lewensmaat van eendag aanbetref… jy verdien net die beste. So dis ‘n bewustelike besluit wat sy neem. Om te wag vir die perfekte Prins, haar prins… en dit syfer deur na haar hart, hoe sy aantrek, hoe sy haarself gedra voor seuns, dit wys in die manier dat sy nie swig voor elke komplement en floutes kry as ‘n Skollie in haar rigting loer nie.

Ek het eenkeer ‘n mooi vergelyking gelees van ‘n vrugte boom, van die boom se vrugte was al ryp en het onder die boom op die grond gelê, dit was maklik om dit op te tel en te eet, van die vrugte was amper ryp en met die uitsteek van die hand kon jy dit afpluk en eet. Maar die goeie vrugte was heel bo, en om dit in die hande te kry moes jy bereid wees om te klim om by die vrugte uit te kom…

Die  wat die moeite werd is om jou hart te verower sal bereid wees om te klim om by die vrugte uit te kom,  Prinse is nie bereid om die vrugte op die grond op te tel nie, nog minder is hulle beindruk met die laagliggende vrugte wat maklik gepluk kan word nie. Nee, hulle wil klim, dis vir hulle ‘n saak van eer en harde werk om by die volmaakte vrug uit te kom.

Dis moeilik vir ons tiener meisies, want haar hele meisie-hart smag na die een wat haar voete onder haar gaan kom uitslaan, die een wat haar hart gaan verstaan en haar onvoorwaardelik lief gaan hê vir wie sy is, haar prins op sy witperd… Die een van wie sy droom, die een met wie sy die res van haar lewe wil deur bring. Kom ons leer ons meisiekinders dat dit die moeite werd is om te wag… tot haar prins op ‘n koel wintersoggend ewe skielik sy opwagting voor die deur van haar hart maak.

And when you choose a life partner, you’re choosing a lot of things, including your parenting partner and someone who will deeply influence your children, your eating companion for about 20 000 meal, your travel companion for about 100 vacations, your primary leisure time and retirement friend, your career therapist, and someone whose day you’ll hear about 18 000 times. (Tim Urban)

One Reply to “‘n Prins of ‘n Skollie?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *