Ek staan die ander oggend voor die spieël in my Eva’s gewaad en room smeer. En ek weet dit gaan sommer lekker warm in die Kaap wees. Ek smeer net die stukkies wat uitsteek, want lus vir ‘n sweterige besigheid het ek nie. Die room kom net so halfpad teen die arm op en ‘n driekwart been. Dis al wat uitsteek vir die dag…
Soms kan daar vreeslike onwillekeurige gedagtes in my kop inspring… dan wil ek sommer giggel. Ek loer so skuins na myself in die spieël (dieselfde spieël wat ek ‘n haat-lief verhouding mee het, seker omdat die ding vollengte is) en ek dink vir ‘n oomblik, ek is soms bly vir Eva wat verbode vrug geëet het, want wie sou nou kans gesien het om só by die voordeur uit te loop? Beslis nie ek nie. Ha ha…
Daar is ook ‘n lessie vir Eva voor die spieël, mense sien net die deeltjies wat die room aankry, die droë vel, rolletjies en hobbeltjies kan baie mooi weggesteek word deur die regte klere aan te trek! Ons wys net wat ons wil hê ander moet/kan sien.
Dit geld ook vir die anderkant van die munt, dit wat in my en jou hart aangaan, weet net ons, dit wat in ons gedagtes omgaan is net vir eie sien. Die eerlike waarheid is wanneer iemand voor ons staan het ons geen benul wat hulle dink of voel nie, ons ken van geen kant af hulle seer of storie nie. Ons sien wat ons sien en ons oordeel net op dit wat ons dink ons weet.
Die ding wat ek die oggend wel besef toe Eva voor die spieël staan, is haar gedagtes en dit wat in haar hart omgaan is oop en bloot voor God. Daar is geen geheime daar nie. Om vir mense goedjies weg te steek is so maklik soos om ‘n vetrolletjie onder die regte toppie weg te steek. God weet alles. Sien alles. Is orals.
En dankie tog… God sien alles en weet alles, weet jy hoekom dankie tog en nie ai tog nie? God is ‘n God van liefde, Jesus het gekom om te red, te genees, te herstel. Hy het nie gekom om te oordeel nie. God het nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. (Joh. 3:17)
Dit beteken natuurlik nie dat ons die handdoek ingooi en nou dink wat ons wil, doen wat ons wil, want ‘Jesus het nie gekom om te oordeel nie’. Nee, wanneer ek en jy vandag val staan ons op, en môre probeer ons weer. Want die refleksie wat Eva werklik wil sien wanneer sy in die vollengte spieël na haarself kyk, is deeltjies van Jesus. Sy besef in haar onvolmaaktheid is dit ‘n dowwe spieël, ‘n raaiselagtige beeld, maar haar begeerte is om soos Jesus te wees. Om soos Jesus te lyk.
Haar gedagtes, wat so maklik afdwaal, wil sy met alles in haar onderwerp aan Hom, haar gebed en smeking is Efesiërs 4 vers 23-24: Here, maak my gees en gedagtes nuut sodat ek kan lewe as ‘n nuwe mens wat na U beeld geskape is, Here, die begeerte en smagting van my hart is om volkome volgens U wil te lewe. Ek wil heilig wees voor U.
Eva se begeerte, meer as enige iets anders, is dat Christus deur die geloof IN HAAR HART SAL WOON en dat sy in die liefde van haar Jesus, gewortel en gegrondves sal wees. (Ef. 3:17)
GOD SIEN ALLES, weet alles. Daar is ‘n belofte en ‘n troos in hierdie gedagte, miskien is jy vandag die Eva voor die spieël wat alleen voel, met slegs Hartseer en Gebrokenheid as jou metgeselle, God sien dit, en Sy arms trek net al stywer om jou gebrokenheid bymekaar te maak en jou te genees. Hy sal al die trane van jou oë afdroog. (Openb. 21:4)
Soms is Eva voor die spieël gevul met angs en vrees, en sy sien nie kans om die wêreld daar buite in die oë te kyk nie, liewe Eva, Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. (Ps. 91:11)
Soms is Eva alleen, voel sy verstote, oorgelaat aan haarself… dan vat die God van die hemel en aarde haar aan die hand, en lei haar met Sy raad, en al voel Eva afgetakel na liggaam en gees, weet sy tog, God is haar sterkte aan Hom behoort sy vir altyd. (Ps. 73:23-26)
Soms wanneer Eva tot voor die spieël strompel, en sukkel om eers ‘n klein weerkaatsing van haar Jesus raak te sien, besef sy, sy het die deur van haar hart oop vergeet en Moedeloosheid het ongemerk binne gesluip. Al soekend na haar Jesus bely sy dan hierdie té groot emosie voor haar God en Vader. Sy ken die hart van haar Vader, Hy wat Hom ontferm oor haar en in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy haar. (2 Kor. 1:3-5)
Wanneer die lewe, omstandighede, en alles buite Eva se beheeer haar soms oorweldig dan leun sy moeg, en uitgeput na liggaam en siel, met haar kop teen die spieël en fluister benoud, Here, waar is U dan vandag? Soms vir ‘n oomblik vergeet Eva van Hoop, van Liefde, van Geloof, want iewers in die dolheid en die geraas van die wêreld het sy die wêreld toegelaat om haar hart te bestorm en haar gedagtes te vul met wat asse en sê nou maars.
Wanneer Eva dan lank genoeg stil raak met haar kop teen die spieël, dan hoor sy die stem van haar Verlosser op die aandwind. Sag, strelend, helend. Ek het jou lief, Eva… Deur my liefde het jy nie vergaan nie, daar is geen einde aan My ontferming vir jou nie, dit is elke môre nuut, My trou teenoor jou is groot. Ek is goed vir jou liefste Eva, vir jou wat op My bly hoop. (Klaagl. 3:22-25)
Liewe Eva, die Here sal voor jou uit gaan. Hy wat jou sien… sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie. (Deut. 31:8) Hy is die Rots, jou Rots, Sy werk is volmaak, alles wat Hy doen is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. (Deut. 32:4) Die ewige God is jou skuilplek, liewe Eva moet nooit vergeet nie, Sy arms is altyd onder jou… (Deut. 33:27)
Dit is só goed en deernisvol geskryf. Dankie Martha vir hierdie puik stuk. Alle vroue kan met wat uit jou pen uit hierdie stuk kom, identifiseer en bemoedig word.
Dankie tannie Christa vir die mooie woorde. Tannie se vriendskap is vir my kosbaar.(❤️)
Dis pragtig!!! So mooi geskryf en beskryf. Jesus is liefde en hoop.
Dankie Vriendin vir hierdie mooi stukkie.
So bemoedigend 🌻
Dankie waardeer die mooi lees stukkies.
Dankie Martha xxx