Nuwe Jaar, Nuwe Dinge.

Met die uitloop van die laaste paar dae, ure, minute, sekondes van 2023 wonder ek oor 2024. Wat voorlê, ‘n onbekende jaar met nuwe dinge, verandering en natuurlik ‘n paar uitdagings.

Al troos vir ‘n splinternuwe jaar is die bekendheid van ‘n God wat goed is, ‘n God wat my ken, deur en deur. ‘n God met goeie planne vir my, wat ook reeds in 2024 is. Wat my en jou vooruitgaan met goedheid en guns.

En vriendin, miskien sukkel jy op die oomblik bietjie om Sy goedheid en guns in jou lewe raak te sien, miskien staan jy voor ‘n nuwe jaar, oorweldig, alleen, moedeloos… gaan soek Sy hart spesifiek vir jou in 2024, want Hy wag in afwagting dat jy die klop aan jou hart se deur sal hoor, Hy wag in afwagting dat jy die deur wawyd oop sal gooi en Hom sal innooi…

Vir my is daar geen sprake van nuwejaars voornemens nie, jare terug al het ek my voorgeneem om nie tyd en energie op sinnelose nuwejaars voornemens te mors nie.  Voornemens wat ek in elk geval  nie kan of wil nakom nie, te veel moeite en verdriet wat vermors word, want teen die tweede maand van die nuwe jaar het al die voornemens in elk geval verpas saam met die vorige jaar.

So wonder ek so aan die einde van 2023 wat is dit wat ek van God vra en verlang vir 2024? Wat is die begeerte van my hart? Wat is dit wat ek van Hom afsmeek op my knieë in die troonkamer?

Die heel eerste woordjie wat dadelik opkom is VREDE. Daar is soveel ongelukkigheid in die wêreld, soveel stukkende mense in ‘n stukkende wêreld wat smag na vrede. Vrede met ander, vrede met self, vrede in die diepste dele van jou menswees.

Vrede in die hart kan nie deur jouself in stand gehou word nie; dit kom van God. (William Barclay)

Vrede wat in jou hart kom lê-plekkie soek en kry. Vrede wat bekommernisse laat klein lyk, wat maak dat lewensstorms minder angswekkend lyk, want Jesus is in jou lewensbootjie, jy moet Hom net vra dat Hy die storms in jou hart en lewe sal stilmaak. En met een woord sal Hy dit ook dan doen, sal Hy vir jou VREDE gee, al wat Hy van jou en my vra liefste vriendin is dat ons Hom sal vertrou, volkome met ‘n opregte hart.

En toe ek nou so op my kniekoppe vra vir vrede toe dink ek, ek is mos nou hier, kom ek vra vir WYSHEID as metgesel in 2024. Die wysheid wat Salomo van God gevra het, nie aardse wysheid nie, maar hemelse wysheid.

Waar daar liefde en wysheid is, is daar geen vrees of onkunde nie. (Franciscus van Assisi)

Genoeg wysheid om te aanvaar wat gun mens kan verander nie.
Wysheid om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly.
Genoeg wysheid om te weet wat is belangrik en wat is nie, wat het ewigheidswaarde en wat het nie.
Wysheid wat die regte besluite neem, nie uit selfsug of eie gewin nie, maar besluite gegrond op liefde en genade.
Die tipe wysheid wat my in die regte verhouding bring met God en Sy perfekte wil vir my lewe.
Nie ‘n beterweterige wysheid wat altyd wil reg wees en altyd maar altyd die laaste sê moet en wil inkry nie.
Oorgenoeg wysheid om meer te luister as wat ek praat. Om lank genoeg stil te staan om die storie van jou hart raak te hoor. Om alle mense te sien as Godgeskape, as die kroon van God se skepping.

Here so vir 2024 vra ek vir VREDE, van kop tot toon, vrede met situasies, mense en die lewe self omdat U in beheer is, en ek nou al geleer het teen die tyd dat ek volkome op U kan vertrou, want ek is afhanklik van U, van U goedheid en guns in my lewe. Here, ek vra U wysheid om mense met deernis te behandel, om mense se seer minder te maak, nooit meer nie. Om nie deur onnadenkende optrede en woorde mense na aan my hart te verwond nie. Here skenk my U wysheid!

My Vredes-wysheid-seënwense vir jou in 2024 liefste vriendin.

Here, leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. (Ps. 90:12) Here, dis U wat die wysheid gee, uit U mond kom die kennis en die insig. (Spr. 2:6) Dankie Jesus dat ons wysheid van U kan afbid wanneer ons wysheid kortkom, dankie Jesus dat U vir ons wysheid gee sonder voorbehoud en sonder verwyt. 

Mag die Here, wat vrede gee, jou ALTYD in ALLE opsigte vrede gee! Die Here sal by jou wees in hierdie nuwe jaar. (2 Thess. 3:16) Moenie onsteld wees nie, en moenie bang wees nie, die vrede wat die Here vir jou gee is nie die soort wat die wêreld gee nie. (Joh. 14:27) Vriendin, mag jy jou vrede in Hom vind. (Joh. 16:33) Mag jy elke dag van hierdie jaar onthou om jou bekommernisse op Hom te werp, want Hy sorg vir jou. (1 Pet.5:7) Die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee! (Num. 6:26)

 

2 Replies to “Nuwe Jaar, Nuwe Dinge.”

  1. Baie Dankie vir hierdie mooiste en ondersteunende boodskap! My jaar het op verkeerde voet begin maar Ek het Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, in my hart.

    1. Wees stil en weet dat Hy God is… (Ps. 46:11) Die versie waaraan ek vashou.
      Dankie vir jou mooi boodskappie Mariette.
      Mag 2024 vir jou ‘n vredevolle jaar wees!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *