Kan jy onthou vriendin, toe jy die eerste keer in jou splinternuwe baba se ogies gekyk het, het daar iets groots gebeur, iets heiligs? Dit was so mooi, rein en teer dat jy moes diep inasem om plek te maak vir hierdie té groot gevoel in jou bors. ‘n Liefde so volmaak, oorheersend, beskermend dat geen een woord op aarde dit ooit sou kon beskryf nie.
God het dit toe al bestem dat hierdie band tussen ma en kind groot genoeg is om selfs die storm en drang jare van tienerwees te deurleef en selfs te oorleef. Dis daardie band wat maak dat al hou ons nie altyd so baie van hulle nie, het ons hulle lief met ‘n intensiteit wat moeilik is om te verduidelik.
Ja, daar kom tye wat jy hulle wil skud, veral as hulle oë terugrol in hulle kaste, dat jy lus het om hulle aan die strot te gryp wanneer hulle met daardie ‘whateva’ houdinkie in die gang afslinger, en jy weet dat jy weet hulle enigste doel is om die witwaks uit jou uit te irriteer.
Al wat ons as ouers soek is konneksie, ons smag na die band wat daar was toe hulle piepklein was en snoesig in die vou van ons arms gerus het. Die normaalste ding op aarde is juis dat hulle hier iewers in die vroeë tienerjare begin loswikkel uit die omarming. In plaas van teen die prikkels skop, moet ons hulle help om stadig maar seker te laat gaan, want vasklou en vasgryp vir al wat jy werd is, is nie ‘n opsie of ‘n oplossing vir tiener probleme nie.
‘n Tienerma voel konstant of sy die boodskappie kry: Geen Konneksie, probeer weer later. In dit wat die tiener sê, in woordelose lyftaal, eintlik in hulle hele wese. Vriendin, raai wat? Ek en jy hoef nie op te hou probeer om hulle harte te bereik nie, gits ons mag nie ophou nie, maar ons moet die regte maniere kry om konneksies te herstel. Sinnetjies soos: Is jy nie meer lief vir mamma nie? Jy wil ook niks met my deel nie! Ek weet nie eers meer wie jy is nie! Dit help niks, ons moet net nuwe, vars maniere kry om hulle te bereik.
Hoe gemaak om hierdie konneksies te herstel? Hoe gemaak om hierdie vreemde ruimtewesen in jou huis te bereik?
Ontmoet hulle in die kuberruimte. Ek hoor jou, jy is nie ‘n voorstander nie, en nog minder ‘n aanhanger. Sê nou maar jy stuur ‘n oulike Tik Tok video’tjie aan met ‘n klomp lag gesiggies by? Al is hulle agter die toe deur in die vertrek langsaan?
Luister bietjie wat hulle luister… Watse gemors luister jy al weer! Dis opmerkings soos die wat maak dat ons tieners net al verder en verder van ons wegbeweeg en onttrek in hulle baie alleen tienerwêreld. Wat van, ek hou baie van die liedjie wat nou speel… stuur bietjie vir my die ‘link’. En as sy jou skeef aankyk dan maak jy of jy dit nie sien nie. Wanneer jy weer skool toe ry dan sê jy: Sussa jy kan maar ‘connect’, en weet jy wat al ‘like’ jy die musiek niks nie, die skool is nie so ver nie…
As mamma jou met enige iets kan help sê net… Soms kom ‘n tiener op ‘n punt wat hulle totaal en al oorweldig voel, deur take, toetse, skoolwerk, vriende… alles druk van alle kante af. Wat van jy klop saggies en loer net in met ‘n staande aanbod van hulp… enige tyd.
Dra ‘n drink dingetjie aan. Mammas van dogters het nie dieselfde probleem as mammas met seuns nie. Ek hoor die goed is hol van kop tot tone… Nietemin, jy klop met die beker stomende koffie/Tee/Warm Sjokolade in die hand aan die deur, en sonder om ‘n woord te sê sit jy dit op die lessenaar neer en jy draai om en jy verdwyn soos die skim. Hulle sal dalk verbaas wees, maar so-so dankbaar.
Maak ‘n date met die vreemde ruimtewese. Wanneer sy in die kar inplof na ‘n te lang skool dag, dan vra jy: Jy lus om gou vir milkshake te stop op pad huis toe?
Gaan hang in die mall uit. My girls hou niks van die mall nie, veral as hulle agter my moet aan ploeter van winkel tot winkel nie. En hierdie uitstappie hoef jou nie meer as ‘n Krispy Crème donut te kos nie… maar in plaas van hulle wat saam met jou gaan. Gaan jy bietjie saam met hulle, en loop in al die winkels rond wat hulle van hou. Factorie, Cotton on, Typo, YDE. As jy nou regtig wil ‘cool’ wees, pas bietjie aandrokke saam met hulle aan…
Vermurwe ‘n harde hart met ‘n gunsteling-gereg. Dis nie ‘n manier om om te koop nie, dis ‘n manier om te sê ek sien jou raak, jy is vir my super belangrik. Vra vroegoggend op pad skool to: Enige ietsie waarvoor jy lus is vandag wat mamma vir jou kan maak? En as hulle iets onverstaanbaar, binnesmonds mompel, dan maak jy in elk geval die vark steak, of hoender wrap. Jy ken mos teen die tyd al die gunstelinge…
Marshmallow aanval… As jy by die kamer wil inkom net om seker te maak sy is okay, want vroeër het jy die vibes gekry dat sy dalk nie is nie… klop liggies aan die deur gewapen met ‘n paar marshmallows. Wanneer jou kop om die deur loer skree een en gooi ‘n marshmallow… ek belowe jou die vierde een gaan sy raak vang en dankbaar wees jy het kom inloer…
Kyk ‘n fliek saam. Jy spring die popcorn (behalwe as sy draadjies het, popcorn en draadjies is nie maatjies nie!), maar sy kies die fliek. Ek het die Croods al drie keer gekyk, Elsa, Anna en Olaf seker al ses keer, ek ken al amper al die woorde van die fliek…
Deel hulle passies. Jy hoef nie passievol te voel waaroor hulle passievol voel nie. Raak bietjie saam met hulle opgewonde oor wat hulle opgewonde maak. My girls is albei mal oor hip hop… so hulle kom wys vir my hordes video’s van danse wat hulle gesien het. Hulle kom vra ook meer as gereeld of ek die nuwe ‘moves’ wat hulle geleer het wil sien… en die antwoord is ja, ek wil verseker sien… sommer in die middel van die kombuisvloer is ook reg!
Ek dink ‘n tienerhart wil meer as enige iets anders weet, my ma is aan my kant. Sy wil weet jy is haar grootste ondersteuner. Moet nooit ophou probeer om die verhouding en die konneksie te herstel nie. Vriendin, hy is nog dieselfde klein mensie wat gedink het sy wêreld begin en eindig met jou sy mamma, al wat verander het is dat hulle wêreld aansienlik groter geword het en julle moet mekaar net weer vind in hierdie nuwe, vreemde tiener-wêreld.
Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. (1 Thess. 5:11)