Maybe you’ve been assigned this mountain to show others it can be moved. (Mel Robbins)
Vriendin, is teleurstellings nie deel van die lewe nie? Iets wat elke dan en wan sy opwagting maak. Hierdie stukkie gaan nie so seer oor teleurstellings nie, maar dit gaan hoe ons reageer op teleurstellings. Wanneer ons ingesteldheid meer is op wat God wil, is dit soms makliker om teleurstellings die hoof te bied.
Soms gebeur dit dat ons lank oor iets bid, en in ons harte oortuig dit is presies wat God wil. Ons is kinderlik-opgewonde oor die nuwe vooruitsigte, oor die nuwe seisoen. Ons vertrou God… dat Hy agter die skerms vir ons alles ten goede sal meewerk. En dan gebeur dit eenvoudig nie, nie eers ‘n afgewaterde alternatief nie, maar niks. Groot is die teleurstelling dan, want hoe het ek God so misverstaan, het Hy nie gehoor toe ek gevra het nie?
Vriendin en ons almal se teleurstelling het nie dieselfde naam nie, sommige teleurstellings is veel groter as ander, sommiges lewensveranderd. ‘n Verhouding wat misluk, ‘n nuwe werksgeleentheid wat deur die mat val, ‘n Universiteits-aansoek wat nie gaan soos jy beplan het nie… ‘n Kind se rapport wat nie voldoen aan jou vereistes nie.
In my familie het ons ‘n sê-ding: Jy is so teleurgesteld soos ‘n hoender wat ‘n ball bearing gelê het. Ek weet nie of iemand dit opgemaak of iewers gehoor het nie, Mnr Google het net sy skouers opgetrek toe ek hom vra. Sien Mnr Google weet ook maar nie alles nie! Teleurstellings het maar ‘n manier om Moedeloosheid as metgesel saam te bring wanneer hy besoek kom aflê.
En omdat teleurstelling so onlosmaaklike deel is van die lewe is dit ons werkie om ons kindertjies deur elke teleurstelling te lei, want teen die tyd wat hulle grootmens status bereik het hulle reeds al die gereedskap in hul lewensbeltjie.
Ek en jy kyk na elke situasie met ‘n hier en nou bril op, tydsberekening is altyd alles, en ek het al geleer, ook soos Marta in die Bybel, God daag altyd betyds op, al voel ek en jy Hy is eintlik vier dae laat. Hy is nie, onthou Hy is reeds in die toekoms. Sy ewigheidsperspektief het vir my en jou al menigmale uit ‘n piekel gered… ons weet dit nie eers nie.
There is many a thing which the world calls disappointment, but there is no such a word in the dictionary of faith. What to others are disappointments are to believers’ intimations of the way of God. (John Newton)
Wanneer Teleurstelling aan my deur kom klop, laat ek hom in met al die emosies wat hy saamsleep, maar hy mag nie te lank kuier nie, ek gaan maak nie tee en ons tweetjies gooi die grootste ‘pity party’ waaraan jy kan dink nie. Ek het dit al gesê: God gaan nie reageer op ‘n ‘pity party’ uitnodiging nie. So hou maar die kuiertjie kort met Teleurstelling.
Vriendin net sodat jy weet, ons identiteit is nie te vinde in ons teleurstellings nie. Ons teleurstellings definieër ons beslis nie, maar ons kan tog ietsie leer uit teleurstellings. Don’t be bound by the past and its failures. But don’t forget its lessons either. (Billy Graham)
Hou jou oë gevestig op Jesus.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (2 Kor. 4:17-18)
Selfs in jou teleurstelling is Hy steeds goed.
Die Here is goed, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. (Nahum 1:7) Die Here is regverdig in al Sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. (Ps. 145:17)
God se plan vir jou lewe is beter.
Ek weet wat Ek vir jou beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting. (Jer. 29:11) Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Phil. 1:6)
Vertrou die God van die hemel en die aarde.
Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is. (Jer. 17:7-8)
Wag op die Here.
Díe wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. (Jes. 40:31) Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here! (Ps. 27:14 1953)
Op onbekende paaie gaan Hy jou vooruit.
Ek laat die blindes loop op ‘n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. (Jes. 42:16)
God is by jou.
In alles word ons verdruk, maar ons is nie radeloos nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. (2 Kor. 4:8-9)
The disappointment has come – not because God desires to hurt you or make you miserable or to demoralize you or ruin your life or keep you from ever knowing happiness. He wants you to be perfect and complete in every aspect, lacking nothing. It’s not the easy times that make you more like Jesus, but the hard times. (Kay Arthur)
Wow Ansolutely so true!!