Vir net 4% ?!?!

Dis weer daardie tyd van die jaar, al die pad afdraend na die einde van die jaar se kant toe. Teen ‘n ongemaklike spoed met alles wat gedoen en afgehandel moet word. Met Eksamen vir menige kind en student wat soos ‘n berg voorlê… vir sommige ouers amper erger as vir die kind self. Ek het die stukkie gaan afstof wat ek 2 jaar terug geskryf het en net weer besef, soms is help nie help nie. Soms is ons begeerte om in beheer te wees van alles en almal nie net ongesond nie, maar ook skadelik.

Ek het albei my girls in graad 4 gehelp leer, gehelp opsom, gevra, weer gevra… maar geleidelik soos die jare aanstap het ek die leisels so stelselmatig laat verslap en uiteindelik laat gaan.

Ek is beslis ‘n helikopter mamma- ons mammas wat hou daarvan om te ‘hover’. Dit klink soos volg: Is jy al klaar geleer? Nee, ek dink nie so nie! Bring jou boek dat ek kan sien! Het jy die werkboek ook deurgegaan? Hoeveel keer het jy alles deur gegaan? Ek dink nie jy het genoeg geleer nie!  Sien jy al die!?!?!?!? Nou as jy jouself in die gesprek kan sien en identifiseer, dan kan jy die self-diagnose maak van ‘n helikopter mamma… ek weet jy weet eintlik baie mooi waarvan ek praat…

Toe kleinsus in graad 7 was, word die moeilike dog onafwendbare besluit geneem na konsultasie met alle betrokke partye. (Dis nou ma, pa en kleinsus.) Kleinsus sal nou haar voete moet vind en self-verantwoordelikheid neem vir haar eie akademiese welstand, want streng gesproke hang die kindertjies onder jou dak se welstand mos af van wat die rapport aan die einde van die jaar sê.

Die eerste kwartaal van Graad 7 is aaklig. Sy leer ek vra. Dan leer ek haar… terwyl sy leepoog en met geen begrip luister nie, en beslis ook nie leer nie. Dan raas ek, sy huil… ons drink tee en dan probeer ons weer om die massas werk in haar kop te kry. Nie goed vir enige verhouding nie.

So los ek toe vir kleinsus so rondom kwartaal 2, Graad 7 heeltemal uit… geen !?!?! nie… niks nie, want ek besef as ek nie los nie, gaan ek nog tot matriek spoeg en spartel met háár skoolwerk en teen dan vermoed ek gaan ons tweetjies nie meer so baie van mekaar hou nie.

Ek gee vir haar die verantwoordelikheid… 100%… en dis moeilik en dis ongemaklik vir my, ek bid aanmekaar, baie. Sien, want iets moet in haar kop gebeur, ‘n besluit wat net sy kan neem. Sy moet die verantwoordelikheid vat vir haar eie akademiese paadjie, maar ook die aanspreeklikheid. Dis ‘n leerskool vir ons albei.

Spreuke 9:12 sê: As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan. Dis nou die wysheid om te besluit om te leer, want wat ‘n mens saai sal jy ook oes. (Gal. 6: 7)

Met die rapporte wat uitkom val kleinsus toe 4% in haar gemiddeld. ‘n Hele 4%, dis my positiewe bydrae tot haar akademiese rapport. Dis dan wanneer mens tot die besef kom die eerste kwartaal se dreig, trane, skree en !?!?! was absoluut glad nie die moeite werd nie. Dit was nie die 4% werd nie, want wat gebeur regtig? Al die saam leerdery en mekaar opvrywery maak nie op vir die 4% nie. Die 4% is ook nie die verskil tussen deurkom en druip nie, dis sommer net 4% hier in die middel iewers rond.

Jy weet, dis nie asof ons verwag dat iemand ons in Pick ‘n Pay gaan voorkeer en vra wat het jy in Standerd 5 se tweede kwartaal gekry vir Wiskunde vraestel nommer een nie. (Jip dis hoe oud ek is, ek het nog in standerds skool gegaan)

Soms moet ek en jy net bietjie terug tree en die somme maak, die persentasies uitwerk en in ag neem of dit groot impak maak of sommer net 4% is. Regverdig dit al die baklei, ongelukkigheid, en alles wat daarmee saamgaan?

Natuurlik los ons hulle nie net blindelings en knyp oë toe en bid asof ons en hulle lewens daarvan afhang nie. Met verantwoordelikheid kom aanspreeklikheid. Jy kan nie sekere voorregte geniet as jy net jou hande in die lug opgooi en nie regtig leer nie.

Iets soos selfoon/TV/Speletjies/partytjies/kuiers by maaats… iets gaan in die slag moet bly tot tyd en wyl jy jou kant bring. Perspektief my liewe vriendin, is wat ek en jy as mammas soms so broodnodig het, en baie genade en min krag.

Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ander te vergelyk. (Gal. 6:4) Is dit nie al wat ons van ons kids vra nie? Doen net jou beste, moet jouself nie met Sannie, Jannie en Pietie vergelyk nie, want hulle is nie jy nie, maar dan moet ons, mag ons dit ook nie doen nie. Ek en jy kan nie ons kindertjies wat uniek en spesiaal gemaak is vergelyk met die maats, bure of boeties en sussies nie. Dis onregverdig en skep ‘n skewe uitkyk op die lewe.

Jy onthou nog die versie in 1 Korintiërs 13:11 wat sê: Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind… ons moet nie grootmens denke en dinge van ons kinders verwag nie. Ons vergeet soms die lyfie wat hier voor ons staan met vuur en bravado is maar net ‘n kind.

Kleinsus is nou al in graad 9, en sjoe ek is trots op haar, sy leer haar leer en doen haar ding. Ek ondersteun so van die kantlyn af met koffie en versnapperinge, en woorde wat moed inpraat. Ek weet nie veel wat sy moet leer nie, maar ek weet, sy weet, ek is daar vir haar, as sy hulp kort kan sy maar net kom vra…

So net vir ‘n laaste sê’tjie: Ouers moet nie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie… (Efs. 6:4) Soms moet ons bietjie die helikopter land, brandstof spaar en die verantwoordelikheid teruggee aan ons kroos, die verantwoordelikheid wat in die eerste plek nie aan ons behoort het nie. Soms moet ons hulle meer as genoeg vertrou om te laat gaan…

 

2 Replies to “Vir net 4% ?!?!”

Leave a Reply to Martha Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *