Gelukkig het ons geen sonde met die mense-bure nie, maar die geveerde tipe besorg ons hoofbrekens. Meer spesifiek die mossies. Ek hou baie van alle voëltjies, selfs die wat dom-astrant en moedswillig is. En die inwonende mossies is ongelukkig albei. Steeds baie mooi, hulle is regtig vir my mooi voëltjies en ek kan ure na hulle mannewales kyk.
Die hoofbrekens is eintlik manlief sin, so vinnig as wat hulle die nessie bou, so vinnig gaan haal hy hulle af. Sjoe, en jy moet hoor hoe die Mossie-paartjie elke keer skel en skree… ek vermoed daar is ‘n eier op pad wat lê-plek soek. Kan jy dink watse druk daar op die Mossie-man is. Onmenslik!
Nou kan jy seker dink dis aaklig om hulle nessies elke keer te verwoes, die probleem is hulle bou die nessie elke keer in die geut, jip dieselfde ding wat water vervoer as dit reën, of bo-op die opening van die geut.
Ek kan al in my geestesoog sien hoe die mossie-ma al gillend agter die eier aan vlieg-hol as die water dit opskep en geut af dra. Of nog erger ‘n pas uitgebroeide Mossie-dogtertjie wat nog nie eers behoorlik kop kan regop hou nie, en daar gaat sy al met die water saam, af in die drein… verlore vir altyd. En dan is daar moeilikheid in die Mossie-huis, want iemand gaan geblameer word. Iemand gaan moet skuld kry. So om die nessie weg te vat red lewens en huwelike… dit moet maar eenvoudig net gedoen word!
Die nessie, of verskeie weergawes van ‘n nessie van dieselfde Mossie-egpaar is seker al 10 keer afgebreek. Ek lag eintlik so vir manlief, mens kan die Mossies hoor spoeg en spartel vanuit die huis. En soos manlief asdrom toe loop met die nessie, so tel die Mossie-egpaar vervaard takkies op wat langs die pad val… en vlieg net weer terug om weereens van voor af nes te bou.
Luister, as daar ‘n Mossie toekenning is vir uithou en aanhou sou die Mossie-paar gewen of ten minste benoem geword het. Manlief het nou al mooi gepraat, gevra, stukkies geskel, leë beloftes gemaak… maar niks werk nie.
Hier is twee mooi groot koorsbome voor in die tuin waar hordes Mossies nes gemaak het, maar as jy my vra het hulle sonde met die bure gehad of die skoonma is ‘n probleem…
Nou kyk ek die spulletjie so en ek besef ons doen dit ook, en dit gaan glad nie oor eiendom, huis bou of blyplek nie… Dit gaan meer oor ons wat God ignoreer as sekere planne nie uitwerk nie. Ons beur voort met planne ongeag, ploeter voor en kom dan uiteindelik waar ons wil wees, maar nie daar waar ons moet wees nie.
Dan pas ons die plan aan, skaaf so bietjie aan dieselfde plan en probeer weer. Dan faal die plan weer… en ons verander weer so bietjie… en so ploeter ons voort. Probleem met die plan is ons is besig om in die gevaarlike geut die nessie te bou, ons weet dit nie eers nie, maar God wat alles weet, in alles is en ‘n Goddelike perspektief het, Hy weet al hierdie dinge, en Hy wil regtig nie sien hoe alles wegspoel in die drein af nie.
Purposes, plans, and achievements of men may all disappear like yon cloud upon the mountain’s summit; but, like the mountain itself, the things which are of God shall stand fast for ever and ever. (Charles Spurgeon)
Jeremiah 29:11, ‘For I know the plans and thoughts I have for you,’ says the Lord, ‘plans for peace and well-being and not for disaster, to give you a future and a hope. (Amplified) Ons vra baie vinnig, vreeslik verontwaardig. Waar was God in hierdie situasie? Ons weet nie eers ons nessie (plan) was van die begin af op ‘n gevaarlike plek gebou nie.
God sien nie net wie jy nou is nie, God sien jou potensiaal, wie jy op pad is om te word. So soms as jou planne net nie wil uitwerk nie, is dit dalk nodig om jou nessie (planne) heeltemal te skuif tot waar dinge wel uitwerk.
Joyce Meyer skryf as ‘n nota in The Everyday Life Bible by Jeremia 29:11 die volgende. God does have a plan for our lives, but we need to participate in that plan for it to come true. God is not likely to do anything in our lives without our cooperation.
Vriendin, ek en jy moet net al hoe nader aan God se hart begin leef sodat ons Sy stem duidelik kan hoor, sodat ons in lyn kan leef met Sy wil vir ons lewens, met Sy plan vir ons lewens. Ons moet ook die Planmaker vertrou, blindelings… Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op Sy mag vertrou. (Ps. 33:18)
God weet alte goed wat jy nodig het, en wat nie. Hy is intiem bekend met jou, met jou hart, met wat in jou kop aangaan, met jou daaglikse opdraendes en dingetjies waarmee jy sukkel en waaroor jy struikel… Met jou planne, die wat gemaak is en die wat nog gemaak moet word.
Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o Godhoe magtig hulle almal. (Ps. 139:15-18)
Die mens wik, maar God beskik. God het vir elkeen van ons ‘n wonderlike plan, Sy gedagtes vir ons is goed. Moet nooit daaraan twyfel nie! God’s purpose is more important than our plans. (Myles Munroe) Moet net nooit uit die oog verloor dat God se doel en plan met jou lewe belangriker is as my en jou se eie-ek plannetjies.
Dear God, if today I lose my hope, please remind me that your plans are better than my dreams. (Unknown)