Adolf Hitler en Genade…

Ek is lank met hierdie gedagte uitgedaag van genade en mense wat ek dink nie noodwendig genade verdien nie, en dit het, ek wil amper sê, jare gevat om te verstaan. Ek besef ook net weer en weer, my en jou menslike verstand is heeltemal te klein om genade in sy volheid te verstaan, en nou praat ek spesifiek van God se genade teenoor die mens, teenoor my en jou.

Menslike genade skiet meestal te kort, skiet altyd te kort. Menslike genade lyk meer soos oordeel met ‘n klomp asse wat agterna gegooi word. As jy net bietjie harder probeer… As jy net nog bietjie kan groei… As jy net bietjie minder sondig… bietjie meer gee… my genade en geduld met jou is op… Die mens is nie in staat tot genade in sy Goddelike vorm nie.

Wie is die mees gehaatste mens op aarde dink jy? Ek weet nie hoekom nie, maar ek het sommer aan Adolf Hitler gedink, hy haal beslis nie my lys vir ‘n goeie mens wat genade verdien nie, inteendeel…

So, wat as ek nou hierdie stelling maak: Adolf Hitler kan moontlik in die hemel wees. Ek weet dis belaglik, ondenkbaar… maar sê nou maar net dis waar, sal jy dit kan glo, dat God se genade ook vir hom bedoel is wat miljoene van Sy verbondsvolk sonder gewete vermoor het? Sê nou maar net in die laaste ure, laaste minute van sy lewe het hy berou gehad, opregte berou voor die God van die hemel en die aarde.  En voor God neergeval en gesmeek om vergifnis en genade… met ‘n opregte hart en ‘n vaste oortuiging dat wat Hy gedoen het heeltemal verkeerd was, sal hy dan nie nou in die hemel wees nie? Sou Jesus ook vir Adolf kon sê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”?

Sien, dis volgende vlak moeilik om genade werklik te verstaan, en dis die rede dat Hy God is en nie ek en jy nie. God se genade is veel meer as net blote genade, Sy genade sluit vergifnis van sonde in, maar ook redding deur die kruis en ‘n ewige lewe saam met Hom. God se genade is onmeetbaar.

God is genadig, dan sê ons almal mooi plegtig Amen, maar vriendin dis soveel meer as net God is genade, God is liefde, en Hy is lief vir al Sy kinders, ewe lief en Hy wil regtig nie hê een van Sy kinders moet verlore gaan nie. Ons wat so bekommerd is oor ‘n paar kindertjies wat aan ons toevertrou is, en hulle redding. Kan jy dink hoe voel Vader oor al Sy verlore kinders in die wêreld? Hy wíl genadig wees, Hy wíl verlos, Hy wíl red… So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. (1 Tim. 2:3)

Niemand op aarde is buite bereik van God se genade nie, ongeag wat jy aangevang het, want God sien ons harte raak en wanneer daar opregte berou is, ‘n opregte ommekeer en terug draai na God dan is genade beskikbaar vir ALMAL! Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. (Titus 2:11)

Sê vir God dankie. Hy meet nie genade in teelepels af nie.
(Amy Carmichael)

En daar is volop bewyse in die Bybel as jy nog sukkel om te glo dat selfs iemand soos Adolf Hitler genade verdien… For here is the way God loved the world- He gave His only unique Son as a gift. So now EVERYONE who believes in Him will never perish but experience everlasting life. (John 3:16 TPT) Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieslefde Here is Here van ALMAL, en Hy seën ALMAL wat Hom aanroep ryklik, want ELKEEN wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. (Rom. 10:12-13)

God se genade is so wyd soos die see, die welwillendheid in sy geregtigheid is beter as vryheid. God se liefde strek wyer as die mens se begrip en die Ewige se hart is ongelooflik welwillend. (Anoniem)

Genade is ‘n tema wat reg deur die Bybel loop soos ‘n goue draad, dit gaan hand aan hand met liefde en verlossing. En natuurlik staan genade nie los van geloof nie. Genade is ‘n universele aanbod van God aan my en jou, dis nie net vir ‘n groepie uitverkose, heilige mense nie. Dan sou die hemel sekerlik baie naby aan dolleeg gewees het.

God sê baie duidelik in Eksodus 33:19: “Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Want vriendin ek kan met groot oortuiging in my hart sê dat as genade van my en jou afgehang het, teenoor mekaar en ander… sou die woord genade geen gewig gedra het nie! Ek en jy moet elke dag dankbaar wees vir hierdie kosbare versie in die Woord want sonder genade sou ek en jy kniediep in die moeilikheid gewees het. God het genade vir wie Hy wil en dit het niks met my en jou te doen nie!

Hoe dankbaar is ek weer opnuut vir God en wie Hy is vir my:  Hy wat barmhartig en genadig, lankmoedig en vol liefde is. (Ps. 103:8) Hy wat my en jou inderdaad uit genade red, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit onsself nie; dit is ‘n gawe van God. (Ef. 2:8) Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en Sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming, (Titus 3:4) op grond van Sy genade. (Rom. 3:24)

Vriendin, kom ons gaan sommer vandag nog met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ek en jy barmhartigheid en genade kan ontvang… (Heb. 4:16) Genade is nie verniet en goedkoop nie, ons mag nooit genade misbruik nie, maar genade is vir ons ‘n troos en ‘n versekering… dat God U-draaie toelaat, dat ons nie vasgevang hoef te voel deur ons verledes en sondes nie. God se genade is elke môre nuut en genoeg vir my en vir jou, maar ook vir die en veral vir die wat ons voel dit die minste verdien!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *