Een-Oog-Sokkie-Monster.

 

Ek het ‘n probleem in my huis. Sokkies kry voete. Ook nie albei sokkies nie, een bly altyd agter… ‘n konstante herinnering vir my A+++ persoonlikheid dat daar iewers sokkies wegkruip; wie weet waar in my huishouding.

Ek wil ook net byvoeg hierdie een-oog-sokkie-monster is net agter tiener en jong volwassene sokkies aan, en dis beslis nie my kinders se skuld nie, hulle is so onskuldig soos pasgebore babatjies. Die redes hoekom die monster ook net in jonger sokkies belangstel ontwyk my totaal en al… wat ek wel weet; daar is 20 eensame (ek het opgestaan en gaan tel) sokkies bokant my wasmasjien in ‘n houer. ‘n Hoekie vir eensames, maar net vir sokkies… van alle kleure en vorms.

Weet jy hoe heuglik is die oomblik wanneer daar ‘n sokkie opdaag wat ‘n rukkie so stil-stil van die toneel af verdwyn het? Ek weet partykeer nie of dit ek, die sokkie in die eensame hoekie, die verlore sokkie of my A persoonlikheid wat die blyste is nie.

Nietemin, nie te lank terug met ‘n wasdag staan en bekyk ek die sokkietjies wat alleen agter gelaat is so skeefweg, haai weet jy, en ek voel jammer vir die agtergeblewenes, die eensames, want ek self is baie lief vir my eie persoonlike maatjie. Nietemin, ek staan so en ek dink by myself, miskien moet ek bietjie onder in kaste gaan soek, en onder sakke, en in bedkassies, en in skoene, onder- en agter beddens… vir die verlorenes, miskien kan ek ‘n paar verhoudings beredder en ‘n paar sokkie-huwelike red… groot fout.

Ek kom by kleinsus se kas, maar hoor hier dit lyk of ‘n kernbom in haar kas afgegaan het… (miskien nie só erg nie, maar erg genoeg vir my en my A persoonlikheid) iedergeval, ek is toe half dankbaar sy is veilig by die skool- vir haar en my part.

Broeke by PJ’s, hanggoed by pakgoed, verdwaalde t-hemde tussen kortbroeke… maar die heel ergste is die strykgoed wat so hopie gewys in die kas ingeforseer is, net waar daar ‘n gaatjie was… ai, die ou wasgoedjies wat ek met soveel liefde gestryk en opgevou het… selfs mooi in hopies op die bed uitgepak het.

Nou begin die drakie in my protesteer en die oorlog in my kop is in volle swang… daai oomblik wat jy bid vir wysheid, maar nie krag nie…

En ek weet dit was die afgelope tyd baie besig vir kleinsus, dit was take, drama, mondelings, en ‘n toetsreeks tussen-in. Die arme ding het beswaarlik TV gekyk en ietsie gedoen wat vir haar lekker was. Kaste regpak en netjies hou is nie juis hoog-hoog op die prioriteits lysie nie, (as ek doodeerlik moet wees is dit nooit hoog-hoog op haar prioriteits lysie nie) en hoe besiger sy raak hoe affer skuif dit. Ek besluit toe ek sal maar die kas vir haar regpak… dan voel ek beter, en sy kan met ‘n oop kop en netjiese kas konsentreer op die leerwerk en alles wat gedoen moet word.

So met die regpak, wonder ek toe wat is ‘n gepaste straf vir ‘n kernbom-ontploffing in ‘n tiener-kas, wat sal regverdig wees? Ek kan nie juis TV-voorregte wegvat nie, want op die oomblik is daar nie veel om weg te vat nie. Ek besluit toe dit sal dan maar seker die selfoon moet wees. (Ai! En die deel van my wat konflik vermy is sommer diep ongelukkig)

Na al die regpakkery, lyk die kas so mooi en agtermekaar… en ek weet dit gaan nie eers 7 dae so lyk nie, maar een kan darem seker hoop, die hoop beskaam mos darem nooit nie. Hoe verder die dag vorder hoe meer is dit asof ek dink oor die hele deurmekaar kamer situasie…

Ek besef ‘n paar dingetjies (kan ek net eers sê, wanneer jy bid vir wysheid sal jy dit altyd kry… God is getrou… Hy gee die wysheid wanneer ons dit die nodigste het… wees fyn ingestel op Hom, want dit is slegs dan wanneer jy mooi kan hoor! Wanneer die drakie in jou kop uitsteek, wanneer jy jou @#$% verloor, sal jy nooit God se wysheid duidelik hoor nie) terug by die paar dingetjies wat ek besef het.

Kleinsus is nie ‘n moeilike tiener nie, inteendeel sy is dierbaar, sy slaan nie deure toe nie, sy skree nie op my nie (stem effe verhef tel nie), sy het my nog nooit iets anders as mamma genoem nie. Wanneer ons stry optel ruk dit nie sommer hande uit nie, en sy kom vra verskriklik vinnig omverskoning…

Sy is op alle vlakke eintlik so verantwoordelik en goed. Emosioneel so volwasse.  Nou wil ek fokus en ‘n groot ding maak van ‘n deurmekaar kas, nou vra ek myself af, is dit reg en goed so om op die een ding wat sy nog nie lekker regkry te fokus, om iets te maak van eintlik niks?

En ek besluit om die hele situasie om te draai, toe sy by die huis instap sê ek niks, sy kom by die kas en kom dadelik terug en sê: “Baie dankie mamma vir my mooi kas…” Dis al…

En ek weet vir ‘n feit, die kas lyk alweer soos ‘n orkaan… maar iewers in die afgelope week of twee sê sy dat sy die kas gaan uitsorteer en regpak net na die toetsreeks. Dit klink soos ‘n plan… en weet jy wat die deurmekaar kas pla my nie eers op die oomblik nie, want God het my ‘n kosbare lessie geleer. Soms is dit okay om niks te doen nie, soms is dit okay om okay te wees met ‘n bietjie chaos…

Ek lees vanoggend op die Bible app ‘n stukkie van Tannie Joyce Meyer dag 288 van Promises for your everyday life devotional. Sy sê in die stukkie:

I used to be too intense. I was intense about how my children behaved and looked. I was intense about how my house looked, how I looked and what people thought of us. I really can’t think of anything I wasn’t intense about! What I really needed to do was give myself permission to lighten up!!

Vriendin dis goeie raad, en ek gaan van nou af regtig my beste doen om die goeie raad te volg… of ek dit gaan regkry… ek sal moet wag en sien.

Ek wil darem net rapporteer dat ek van die hoekie vir eensame sokkies se maatjies opgespoor het en herenig het, maar dat daar nog ‘n hele paar sokkies is wat in angs en spanning wag vir die terugkeer van hulle geliefdes.

One Reply to “Een-Oog-Sokkie-Monster.”

  1. Awww dit was vir my nodig om weer dit te hoor – ‘choose your battles’, want ons kinders is nie ons nie…. veral nie as hulle nie ons A persoonlikhede het nie….

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *